Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Cyril, Tito maak eindelik rug styf


Maandag het pres. Cyril Ramaphosa Cosatu se sentrale uitvoerende komitee, wat drie dae lank vergader het, vir ’n geselsie ontmoet. Sy besoek is nie in sy amptelike dagboek gepubliseer nie, derhalwe was die ontmoeting veronderstel om ’n geheime een agter die skerms te wees.

Rapule Tabane

Maar dit is betekenisvol dat dit plaasgevind het twee dae voordat Tito Mboweni, minister van finansies, sy begrotingsrede moes lewer. Wat ook al die ander bedoelings was, moes die ontmoeting ten doel gehad het om Cosatu voor dié taai rede te pamperlang.

Die uitkoms van die ontmoeting is nie bekend gemaak nie. Wat ons wel weet, is dat Cosatu ná Mboweni se rede een van die mees kritiese verklarings uitgereik het sedert Ramaphosa twee jaar gelede president geword het. Daarin word gewaarsku dat die begroting ’n oorlogsverklaring is en dat die slagordes opgestel is.

Die verklaring lui: “Cosatu neem met geweldige teleurstelling kennis van die onindrukwekkende, tartende begroting wat deur min. Mboweni ter tafel gelê is. Cosatu en miljoene werkers het gehoop op ’n duidelike diagnose van die probleme, asook ’n padkaart om dit aan te pak en ’n eindbestemming.

Cosatu neem met geweldige teleurstelling kennis van die onindrukwekkende, tartende begroting wat deur min. Mboweni ter tafel gelê is.

“Dit is tragies dat ons net ’n poging gehoor het om die rekening vir die grootskaalse plundering aan staatsamptenare te rig. Hierdie flou en opruiende begroting is ’n duidelike boodskap aan werkers dat die slagordes opgestel is en dat die pogings om die skuld vir die krisis na hulle te verskuif, in volle gang is.

“Werkers sal nie slagoffer speel nie. Hulle sal eis wat hulle toekom en nie daarvoor bedel nie. Cosatu is slaggereed om die besnoeiings te beveg.”

Ek kan net tot die gevolgtrekking kom dat Ramaphosa se sjarme nie gewerk het nie. Ons leef in moeilike ekonomiese tye en geen hoeveelheid sjarme sou gewerk het terwyl die begrotingsyfers ’n bedrukkende prentjie skets nie.

Dinsdag het Mboweni die bedingingsraad gevra om die regering vry te stel van die driejaar-loonooreenkoms met staatsamptenare, omdat hy nie die geld het nie. Dis ’n teken dat die regering vir die eerste keer gewillig is om onverbiddelik jeens vakbonde op te tree – veral jeens Cosatu, wat die ANC se steun altyd ’n hupstoot gegee het.

Ek is verlig dat die regering sy verantwoordelikheid om te regeer en, indien moontlik, moeilike besluite te neem, besef.

Ek is verlig dat die regering sy verantwoordelikheid om te regeer en, indien moontlik, moeilike besluite te neem, besef. Hiermee steun ek nie afleggings en die swak behandeling van werkers nie, want die werkomgewing is reeds droewig.

Maar uit ’n politieke perspektief meen ek die regering was lank bang om besluite te neem wat die vakbonde sou antagoniseer. Hy het altyd die aftog geblaas nadat besluite aangekondig is, wat beteken hy het afpersing toegelaat.

Oudpres. Jacob Zuma het hom telkens hieraan skuldig gemaak. Omdat hy sy amp aan steun van Cosatu en die SAKP te danke gehad het, het hy hulle toegelaat om die septer te swaai.

Elke keer wat werkers gedreig het om die regering oor enige kwessie te konfronteer, het hy ingegee en hulle gegee wat hulle ook al gevra het. Ongeag hoe die besluit die regering se finansies sou raak, het hy staatsamptenare eenvoudig opdrag gegee om dit te implementeer. Dit is deels hoekom ons nou so in die knyp is.

Ramaphosa se uitsprake is ook reeds geruime tyd dubbelsinnig en hy is bang om besluite te neem. Dis duidelik dat Mboweni een van die mense is wat druk op hom uitgeoefen het om besluite te neem en sy man daaroor te staan.

Niemand wil ’n uitgerekte arbeidstaking sien nie. Maar ek glo die regering moet regeer eerder as om homself toe te laat om in die aangesig van dreigemente te verstar.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Ramaphosa  |  Cyril  |  Rapule Tabane  |  Begroting  |  Lone  |  Vakbonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.