Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
DA bloei verder by die stembus
Rapule Tabane

Stempatrone in munisipale verkiesings bied geen hoop dat die regering op dié vlak versterk sal word nie.

Die DA was weer die grootste verloorder in Woensdag se tussenverkiesings en het vier wyke afgestaan, spesifiek aan die ANC en die Patriotiese Alliansie (PA). Dit volg die afgelope twee jaar se patroon, waarin die DA steun aan die VF Plus afstaan. Tussenverkiesings is Woensdag in meer as 40 wyke gehou en die partye wat in dié stadium veral bekommerd moet wees, is die DA en die EFF.

Dié twee is sedert 2019 se nasionale en provinsiale verkiesing op die agtervoet. Toe het die DA vyf parlementêre setels verloor – die begin van ’n afwaartse spiraal wat nog nie gestuit kon word nie. Verlede jaar het die DA op ’n nasionale kongres nuwe leiers verkies, maar hulle het geen impak op stempatrone nie.

Daar is ontslae geraak van Mmusi Maimane, wat deur die partyveteraan Tony Leon beskryf is as ’n “mislukte eksperiment”. Die verkiesing van twee wit kandidate, John Steenhuisen en Helen­ Zille, tot die topposte in die party lyk na die punt waar die DA begin wegbeweeg het van sy ambisie om groot getalle swart kiesers te lok.

Zille én Steenhuisen skryf hul kwynende sukses toe aan “identiteitspolitiek”. Hulle sê dit nie direk nie, maar wat hulle bedoel, is dat groot getalle wit kiesers stem vir die VF Plus, wat grotendeels ’n wit Afrikaner-identiteit het.

Kiesers wat ontnugter is deur die ANC, bly net weg van die stembus, hoewel sommige onlangs vir die EFF begin stem het.

Nóg ’n patroon wat dui op groei in identiteitspolitiek, is toenemende steun aan die PA, wat gestig is deur Gayton McKenzie, ’n voorheen veroordeelde misdadiger wat ’n sakeman geword het. McKenzie, wat bruin is, teiken bruin gebiede om Johannesburg en dis daar waar sy party Woensdag twee wyke verower­ en naelskraaps ’n derde aan die ANC afgestaan het.

Die VF Plus en die PA wen dalk nou veld, maar hul groei sal beperk wees omdat hulle minderheidsgroepe teiken.

Hul groei lei bloot tot ’n verskuiwing van steun uit opposisiepartye – soos die DA, wat erg bloei – sonder dat hulle ’n betekenisvolle impak het op die magstrukture in ons politiek. Niks daarvan het enige uitwerking op die regerende party nie. Die ANC staan nie regtig stemme af aan ander partye nie.

Kiesers wat ontnugter is deur die ANC, bly net weg van die stembus, hoewel sommige onlangs vir die EFF begin stem het. Julius Malema se party kon intussen nie verbeter op die groei in die verkiesing in 2019 nie. Toe het die EFF ’n ongelooflike 19 parlementêre setels bygekry en hy staan nou op 44.

Hoewel die EFF ’n betreklik nuwe party is, lyk dit of hy reeds sy plafon bereik het. Die EFF sukkel in munisipale verkiesings en sy swart-militante-handelsmerk het beperkte aantrekkingskrag onder die jeug, maar nie onder die groter publiek nie.

Moet ons kla oor identiteitspolitiek en die groei van die VF Plus en die PA?

Hoe graag ons ook al ’n nasionale identiteit wil hê, is dié periodieke terugtrek­ na dít wat aan ons bekend is, onvermydelik. Plaaslike regerings is in die meeste dele van die land ondoeltreffend. Tog bly mense in landelike gebiede en townships, waar dienslewering op sy swakste is, lojaal aan die ANC.

Mense keer terug na dít wat hulle ken en vertrou in die hoop dat dié partye iets vir hulle kan beteken. Ek is nie ’n aanhanger daarvan nie, maar ek kan verstaan dat kiesers wat jare lank in die steek gelaat is, so stem.

Ek hoop wel ons kry toenemend sterk onafhanklike kandidate sonder enige politieke bagasie wat die werk gedoen kan kry. ’n Kragtige kiesstelsel bly steeds die beste manier om verkose kandidate verantwoordelik te hou.

  • Tabane is politieke redakteur van City Press.
Meer oor:  Rapule Tabane  |  Verkiesings  |  Eff  |  Da  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.