Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
DA Heavy eerder as die ANC Lite
Gert Coetzee

Die ANC het ’n buffel, kat (bynaam van adj.-pres. David Mabuza) en ’n adder aan sy sentrifugale spits wat die stryd om die “hart en siel” van die party in enige koers kan laat spin.

Die DA-magstryd om sy sentrum is minder gedefinieerd, maar eweneens pertinent. Met sy bestaansreg wat ná verkiesing 2019 op die spel is – veral as “amptelike opposisie”, die titel waarop hy gesteld is en wat hy moet lig loop om nie in 2024 aan die EFF af te staan nie.

Aan die DA se federale raad het Mmusi Maimane, leier, die afgelope naweek gesê “die sentrum” is steeds die ruimte wat die party wil vul. “Adapt or die,” het hy, luidens Sunday Times (9.05), gesê aan partyleiers wat meen die strewe na meer swart steun in ’n poging om die party se rasprofiel te verbreed, volg die ANC na, en dat die DA sy liberale kernwaardes versaak.

Dis ’n taai wiggeltoer. Dan is die party se groot politieke ego’s nog ongenoem.

Die herroeping van Ryan Coetzee, DA-oudstrateeg, vir oplossings boesem nie vertroue in nie. Antwoorde ontbreek.

Die herroeping van Ryan Coetzee, DA-oudstrateeg, vir oplossings boesem nie vertroue in nie. Antwoorde ontbreek.

“End of an era for the DA,” berig Business Day ná James Selfe se uittrede as federale raadsvoorsitter.

En: “Divided DA is not good for the country,” sê The Citizen.

Oor die bydrae van die DA veral as ’n grondwetlike teenwig teen korrupsie en wanregering, sedert dit as die DP van ’n 1,8%-party in 1994 tot ’n 22,2%-party in 2014 ontwikkel het, is nie twyfel nie. Al is die party nie oral gewild nie, veral nie by die VF Plus nie, wat in 2019 van die DA se wit stemme afgevry het.

Soos die skeidslyn tussen die ANC en die EFF na links vir sommige kiesers vervaag, geskied osmose tussen die DA en die VF Plus na regs. Terwyl die DA en die ANC oorvleuel in die middel.

Die DA het die behoefte aan ’n breë bufferparty tussen die ANC en die teenpool aan die regterkant (van die regering) vervul. Sonder Jacob Zuma as geheime wapen en met pres. Cyril Ramaphosa as beloofde kruisvaarder teen korrupsie, is die DA taamlik ontneem van ’n “unique selling-point” (USP), soos sakelui daarna verwys.

Die DA se dilemma is oor vraag en aanbod – hy moet besluit presies wat hy vir wie wil wees en doen. Én hoe.

Die nis wat hy gevul het, vernou.

Of kan verdwyn, afhangende van hoe sake in die ANC en die res verwikkel.

Hy worstel daarmee om uit te pluis hoe om die DA Heavy te wees eerder as die ANC Lite – die term wat hy haat.

Daar is nie gevegspunte oor wat een of ander party nie reeds dryf nie.

Ongelukkig, soos Tony Leon, oud-DA-leier, in Business Day (19.03) sê, is om die opposisie(leier) te wees om bakstene sonder strooi te maak. Leon haal vir Tony Blair aan: “When I was leader of the opposition I started the day with ‘what can I say’?; now that I am prime minister I ask ‘what can I do?”

In kiesafdelings waar hy teen ’n volstrekte ANC-meerderheid meeding, kan die DA (en ander partye) raas en blaas, maar die ANC slaan die kitaar.

Dan blink die DA ook daarin uit om, soos vóór verkiesing 2019, homself van sy verlangde kiesers te vervreem. En grootheidswaan dra tot sy kreeftegang by. Van alle partye van wie Volksblad ’n ontleding oor die kieserstand in die Noord-Kaap vóór die verkiesing gevra het, het net die DA opsluit daarop aangedring om nie ’n ontleding te gee nie, maar eerder ’n beloftelys – “sodat kiesers kan weet wat om te verwag wanneer ons die bewind oorneem”. Eina.

Wat nie van die DA weggevat kan word nie, is dat sy Wes-Kaapse regering op ’n peil bo die res is. Van sy plaaslike raadslede, al is hulle publisiteitsbewus, behaal welslae selfs teen ’n ANC-oormag.

Die munisipale verkiesings in 2021 is juis ’n volgende waterskeiding.

Laastens, is die moedswillige gedagte wat dit vir die DA sou inhou as Helen Zille besluit om haar eie party te stig.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Da. Anc  |  Beleid  |  Politieke Partye  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.