Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
DA het ’n groot kans verspeel

Die koste van die breekspul in die DA vir dié party én die land, waar ’n lewenskragtige opposisie van groot belang is, sal nog in die maande wat kom verreken word.

Dis egter reeds duidelik dat die party met sy hopelose hantering van interne twiste, ten dele aangevuur deur ras, ons nasionale debat van ’n geleentheid beroof het. Ter sprake is die kartering van die soort gesprek wat nodig is om die ingewikkelde rasdebat in ’n rigting te stuur wat vooruitgang in die hand werk, eerder as nog meer spanning.

Reeds twee jaar gelede, met Helen Zille se gewraakte kolonialisme-twiets, het Dawie daarop gewys dat die DA ’n baie spesifieke verantwoordelikheid het – nie alleen teenoor sy eie kiesers nie, maar teenoor die land. Met die latere twiets oor “swart bevoorregting” het Dawie dié waarskuwing herhaal. Wel, die huidige breekspul is minstens ten dele die resultaat van dié verantwoordelikheid wat nie na behore opgeneem is nie.

Die emosie wat Zille se kolonialisme-twiets ontketen het, was van meet af aan tekenend van ’n rassedinamika waarin nie alleen die DA vasgevang is nie, maar waarskynlik die breër Suid-Afrikaanse samelewing.

Laat dit eerstens gesê word: Kolonialisme (wat volgens Zille nie net sleg was nie) en wit/swart bevoorregting is begrippe wat groot emosie ontketen omdat dit spruit uit die enorme verlies en lyding van ons apartheidsgeskiedenis.

Om jou dan in ’n twiet (wat tot 280 karakters beperk is) in ’n debat te begewe en te hoop dat ’n konstruktiewe afsluiting gaan volg, is gewoon dwaas.

Vir die emosie wat dit ontketen, des te meer in ’n party wat roem op sy veelrassige aard, móét daar groot begrip en sensitiwiteit wees.

Die spanning wat die Zille-twiets veroorsaak het, binne én buite die DA, het egter eweneens te make met die belewenis van baie wit mense dat dít wat hulle het om te bied, misken word. Ook hiervoor moes daar meer begrip gewees het, al is ’n verdediging van kolonialisme of apartheid dalk die verkeerde manier om oor dié probleem te praat.

En dis juis hier waar die DA en die land ’n geleentheid misgeloop het, want die breër rassedebat in Suid-Afrika word grootliks gedryf deur dieselfde foutlyn wat reg deur die samelewing loop: swart mense se belewenis dat die pyn wat kolonialisme en apartheid veroorsaak het, nie na behore raakgesien en erken word nie; en wit mense se belewenis dat hul bydrae tot die welstand van die land misken word.

Dat die spanning in die DA op die spits gedryf is, is nie ’n verrassing nie, want die party het inderdaad gevorder na die mees veelrassige in die politieke arena. Die feit dat die fokus op die onafgehandelde versoeningsprojek aan die vervaag is, het egter ook ’n besonderse verantwoordelikheid op mense soos Zille en Mmusi Maimane geplaas om van voor te lei in die oplos van ingewikkelde rassekwessies.

Maimane en Zille is twee prominente Suid-Afrikaners wat, aangesien hulle dieselfde party en breë waardestelsel verteenwoordig, tog minstens binne hoorafstand van mekaar moes gewees het. As sodanig kon hulle vir die res van die land ’n voorbeeld gestel het van hoe ons as Suid-Afrikaners met mekaar kan praat om oplossings te vind as die moeilike kwessie van ras tussen ons kom lê. Hulle het dit nie gedoen nie.

Dawie kan met stelligheid verklaar dat hierdie soort gesprekke bepaald ook nie gaan kom uit die uiterstes van die Suid-Afrikaanse politiek, met byvoorbeeld die EFF aan die een kant en die VF Plus aan die ander kant nie.

Dis ’n verlore geleentheid wat ons ook moet herinner aan die onus op gewone Suid-Afrikaners van alle rasse om in hul omgang met mekaar die soort gesonde verstand aan die dag te lê wat ons politieke leiers nie graag doen nie.

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Helen Zille  |  Opposisie  |  Kolonialisme  |  Politiek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.