Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
DA kan maar gerus by ANC hieroor gaan leer
Philda Essop

As dit nie vir opposisiepartye was nie, sou daar waarskynlik deesdae nie soveel druk op Suid-Afrikaanse politici gewees het om vir hul optrede aanspreeklik gehou te word nie.

Euwels soos staatskaping en korrupsie sou waarskynlik nooit so hoog op die nasionale agenda gewees het nie, en daar sou aansienlik minder druk op oudpres. Jacob Zuma gewees het om sy pos as staatshoof te ontruim.

Sterk opposisiepartye in enige demokrasie hou die regerende party op sy tone. Dit is hulle wat die moeilike parlementêre vrae aan die uitvoerende gesag stel en geesdriftig debatte oor sake van nasionale belang aanvoer.

Die altesame 12 opposisiepartye in ons parlementêre demokrasie verseker dat die parlement ’n opwindende plek is waar diverse idees en kwessies ook tot die nasionale agenda verhef word omdat kleiner partye se stemme ook gehoor word.

Die DA as die amptelike opposisieparty is baie doeltreffend en gee die toon aan om die ANC-regering te monitor. DA-LP’s verdien verder krediet daarvoor dat hulle behoorlik in hul portefeuljes ingegrawe is.

As dit egter by hul interne aangeleenthede kom, is die party hopeloos ondoeltreffend.

As dit egter by hul interne aangeleenthede kom, is die party hopeloos ondoeltreffend.

Trouens, dit is verbysterend dat die party eenvoudig nie sy sake in orde kan kry nie. Sy lomp hantering daarvan laat veel te wense oor en dit kom voor asof hy die pad byster geraak het.

As sy pogings om van Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, ontslae te raak nie op die koerante se voorblaaie pryk nie, is dit interne verwarring wat onder die vergrootglas kom.

Mmusi Maimane, DA-leier, se Vryheidsdag­toespraak, waarin hy hom oor wit bevoorregting en swart armoede uitgespreek het, het ’n sekere deel van die parlementêre koukus omgekrap omdat dit glo die party se “tradisionele kiesers” sal vervreem.

’n Week gelede het dit aan die lig gekom dat sommige in die DA glo in ’n stadium die moontlikheid daarvan bespreek het om ’n “ware liberale party” te stig.

’n Week gelede het dit aan die lig gekom dat sommige in die DA glo in ’n stadium die moontlikheid daarvan bespreek het om ’n “ware liberale party” te stig. Die jongste nuus uit die party is dat Maimane glo van mening is dat Helen Zille, Wes-Kaapse premier, in 2015 eerder uit alle besluit­nemingstrukture van die party verwyder moes gewees het.

Verskeie politieke kenners het al daarop gewys dat die wortel van die probleem daarby lê dat die party ’n sameflansing van verskillende partye met verskillende ideologieë is. Elke groepering van die party – afhangend van sy ideologiese agtergrond – beywer hom dus vir iets anders. Daar is dus nie eenstemmigheid oor beleid en waarvoor die party nou eintlik staan nie.

Ek is seker die DA glo dat hy nooit enigiets by die ANC kan leer nie. Maar daar is wel: Volg die voorbeeld van die ANC en hou gereeld ’n beleidskonferensie.

Só kan ’n platform geskep word waar partylede sáám oor beleid kan besluit en watter rigting ingeslaan moet word. Dit sal eenheid en samehorigheid meebring omdat party­lede daarmee sal kan identifiseer as hul eie en voorkom dat elke groepering in sy eie rigting neig.

Elke opposisieparty het ’n unieke rol om te speel in die land. Dit sal sleg wees vir die demokrasie as enige van dié partye ineenstort.

  • Essop is ’n politieke joernalis by Netwerk24.
Meer oor:  Parlement  |  Da  |  Opposisie  |  Politieke Party
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.