Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
DA-leier sonder oorloop-bagasie
Jan-Jan Joubert

Nou en dan bereik ons in die politiek ’n tyd wat moontlik ’n ligte kantelpunt kan verteenwoordig – waar iets verander wat dalk nie dadelik opmerklik is nie, maar wat kan uitwaaier en groot invloed hê.

Een so ’n punt word tans bereik in die Wes-Kaap as tot dusver die enigste provinsie wat standhoudend gekies het om ’n opposisieprovinsie te wees, eerder as om in die groot tent van die ANC te wees.

Want daar was sedert 2000 vier leiers binne die DA wat veral die Wes-Kaap, ten goede of ten kwade, afhangende van jou eie politieke voorkeur, uit die vaarwater van die ANC gehou het. En in hierdie dae sal die laaste van die vier, 20 jaar later, ophou om by die partypolitieke bestuur van die DA in die Wes-Kaap betrokke te wees.

Die gevolge daarvan vir die DA en, belangriker, vir die Wes-Kaap sal ’n mens moet sien. Die uitwaaier daarvan sal eers later bepaal kan word.

Die vier leiers na wie ek verwys, is Theuns Botha, Anton Bredell, dr. Ivan Meyer en Erik Marais. Van die vier bly drie in die politiek aan – dis net Botha wat die formele politiek (al enkele jare gelede) vaarwel geroep het om sy sakebedrywighede te hervat.

So, in hierdie dae gaan leiding van die provinsiale DA vir die eerste keer diegene toeval wat nie gevorm is in die smeltkroes van oorlopery nie.

Botha, Bredell en Marais het na vore getree in die oorlooptydperk – ’n vuige stuk politieke geskiedenis nadat die land se konstitusionele hof beslis het politici wat kragtens die proporsionele stelsel vir hul party verkies is, kan van party verwissel sonder om hul kiesers te raadpleeg of hul setel te verloor, mits 10% van die party se tersaaklike koukus ook die party verlaat.

Die destydse leier van die Nuwe Nasionale Party (NNP), Marthinus van Schalkwyk (Suid-Afrika se hoë kommissaris in Canberra), wou dit bewimpel dat DA-stadsraadslede in groot getalle na die ANC oorloop om vir die ANC meerderhede te verkry wat die kiesers hulle nie in die munisipale verkiesing van 2000 gegee het nie.

In daardie dae was Botha die burgemeester van die stadsraad wat setel in Riversdal (deesdae as die Hessequa-stadsraad bekend). Tydens ’n vergadering op Goudini het hy ’n opstand teen Van Schalkwyk gelei. Ná die uittrede van oudpremier Gerald Morkel is Botha tot leier van die DA in die Wes-Kaap verkies.

Ek het nog nooit ’n politikus ontmoet wat meer letterlike myle op die grootpad vir ’n party ingesit het as Botha op die langpad in die Wes-Kaap nie. Hy het werklik elke graspol en elke klip geken – en elke stadsraadslid daarby. Gesteun deur mense soos Boeta Josephus, Chris Goliath en Marius Swart het hy ’n anker teen oorlopery gevorm.

Daarin het Bredell as latere burgemeester van die Swartland-munisipaliteit in Malmesbury en Marais as voorslag-organiseerder in die provinsie hom sterk gesteun. Enkele jare later het Meyer hom uit die akademie by die ander drie tuisgemaak en het ’n sterk viermanskap gevorm.

En nou verander dinge. Bredell is nie herkiesbaar as provinsiale voorsitter nie, maar staan vir die posisie van federale (landwye) ondervoorsitter op die DA se federale kongres. Hy bly Wes-Kaapse LUR vir samewerkende regering. Marais is nie meer voorsitter van die provinsie se Wesstreek nie (steeds parlementslid) en Meyer is federale voorsitter van die DA en provinsiale LUR vir landbou.

So, in hierdie dae gaan leiding van die provinsiale DA vir die eerste keer diegene toeval wat nie gevorm is in die smeltkroes van oorlopery nie.

’n Goeie ding? Miskien. ’n Slegte ding? Dalk. ’n Belangrike keerpunt?

Waarskynlik, met die gevolge interessant, en belangrik om van kennis te neem.

  • Joubert is ’n skrywer en onafhanklike politieke kommentator.
Meer oor:  Jan-Jan Joubert  |  Da-Leier  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.