Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lood se praatjies
DA-LP’s hou dalk van heeljaar rondsit

DA-LP’s hou dalk van heeljaar rondsit  

David Maynier, die DA se woordvoerder oor finansies, is in sy reaksie op Tito Mboweni se aanstelling as minister van finansies baie meer gereserveerd as vele ander.

Dit is immers oor sowat agt tot tien maande verkiesing en dan is enige goeie nuus uit die regering by verstek slegte nuus vir die opposisie.

Hy wys ook op wat hy noem Mboweni se soms “looney” (mallerige, lawwe, sinlose?) opmerkings op sosiale media. Soos dat hy gevra het vir die 40%-staatsbesit van myne. Tog wonder Lood of Maynier nie eerder ontsteld is omdat Mboweni ook uitgevaar het teen LP’s wat heeljaar in die parlement sit om wette te maak nie. Hy stel voor dat LP’s ses maande van die jaar in hul kiesafdelings gaan toesig hou oor dienslewering. Dit klink darem baie na werk.

Malusi nou almal se pel

Luidens Malusi Gigaba se getuienis oor staatskaping was hy nie daaraan aandadig nie. Sy interaksie met die Guptas was bloot sosiaal. En daarom was hy by hulle aan huis, is saam met hulle sokker toe en het hy selfs die berugte Sun City-troue bygewoon. Maar, verseker hy, hulle was nie vriende nie, net kennisse. En dit is ’n minister se plig om sosiale kontakte op te bou. Lood en sy lesers is mooi reggehelp, Malusi. Of is ons?

Persone van die week

RAAKVATTER:Nhlanhla Nene. Vereer ons nou die “goeie slegtes”? Tog wil Lood by Thuli Madonsela aansluit met die versugting dat Nene dalk ’n kultuur begin het van bedank wanneer dit nodig is.

NAT VADOEK: Die Suid-Afrikaanse polisie. Nou eers trek hulle van die mees gesoekte dwelmboewe in Westbury, Johannesburg, vas. Waarom moes ’n armoedige gemeenskap eers met geweld strate toe?

Mense, voorstelle gevra

En toe breek die dag aan wat Lood reeds in die onderbewussyn gevrees het. Die koffiebekers is amper op. Die eerste punt van belang is: Diegene wat daarvan besit, pas dit soos ’n kleinood op, want daar gaan nie nog gemaak word nie. Dit breek net te veel in die pos. Die speletjiesboeke is ook lankal op, so wat nou?

Stuur gerus voorstelle oor wat lesers sal aanspoor om steeds bydraes te stuur en sodoende die rubriek lewendig te hou.

Intussen moet die laaste enkele bekers ook uitgedeel word. So stuur bydraes na lood@beeld.com of SMS na 45571. En selfies van eienaars met hul bekers is ook welkom.

Meer oor:  Lood  |  Lood Se Praatjies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.