Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘DA nie afgewaterde weergawe van ANC’

Die DA is g’n ’n afgewaterde weergawe van die ANC nie. Hy wil Suid-Afrika op ’n ander koers stuur en nie die staat of die samelewing na sy eie beeld herskep nie, skryf Cilliers Brink.

John Steenhuisen, tussentydse leier van die DA. Foto: Gallo Images

Lees ’n mens wat verlede week oor die ANC en die DA geskryf is, dan kry jy die indruk dat die meeste politieke kommentators probeer om mekaar na te praat en te beïndruk in plaas daarvan om die publiek in te lig.

Daar was natuurlik ’n paar briljante uitsonderings, veral in die Afrikaanse media.

Maar grootliks is pres. Cyril Ramaphosa uitgebeeld as ’n beleërde held wat in ’n verbete stryd gewikkel is teen die “slegte ANC”, die korruptes.

Oudergewoonte is die DA nie aan sy eie standaarde gemeet nie, maar eerder aan hoeveel of hoe min die party soos die ANC is. So asof die demokrasie net een groot ANC-sepie is.

Neem byvoorbeeld Henry Jeffreys se Netwerk24-meningstuk van 9 September (“Interessant dog baie verwarrend”).

Wat begin met ’n verwysing na die DA se historiese beleidskonferensie word dan ’n vergelyking van gravitas tussen Ramaphosa en John Steenhuisen, die tussentydse DA-leier.

Op die Jeffreys-skaal van erns en opregtheid weeg Ramaphosa blykbaar swaarder.

Jeffreys noem nog ’n paar goed wat hy teen die DA hou, insluitend die bestrede aard van die party se leierskapsverkiesing.

Maar oor die substantiewe besluite wat by die DA-beleidskonferensie geneem is en deur die meeste afgevaardigdes ondersteun is, rep hy nie ’n woord nie.

As dit kom by ’n ontleding van die opposisie is dit makliker om terug te val op die ANC-draaiboek.

Maar die ANC-draaiboek is ’n klug.

Vandag is die ANC meer Afrikanisties en sosialisties as onder oudpres. Jacob Zuma. As pres. Cyril Ramaphosa die raskaart speel, of ten gunste van onteiening sonder vergoeding praat, behoort ons hom te glo.

Met al sy gravitas het Ramaphosa vir vyf jaar lank toegekyk hoe die Zumas en die Guptas die staat gestroop het.

Om ANC-leier te word moes Ramaphosa nog meer kompromieë maak, insluitend om David Mabuza as adjunkpresident aan te stel.

Waarom onse held nou sukkel om te bekamp wat hy vroeër met stilswye goedgekeur het, is geen kopkrapper nie.

Vandag is die ANC meer Afrikanisties en sosialisties as onder oudpres. Jacob Zuma. As Ramaphosa die raskaart speel, of ten gunste van onteiening sonder vergoeding praat, behoort ons hom te glo.

Intussen het hy nog nie ’n enkele onderpresteerder in sy kabinet vervang nie.

ANC-kaderontplooiing, waarvolgens ANC-agente in staatsdiensposte aangestel word, duur onverpoosd voort. Dis ’n grondwetlike misdryf, en die bakermat van korrupsie in post-apartheid Suid-Afrika.

Maar toe dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister verantwoordelik vir plaaslike regering, onlangs munisipaliteite aangeraai het om “goeie kaders” aan te stel, was Ramaphosa tjoepstil.

ANC is sleg vir Suid-Afrika

Cilliers Brink

Die waarheid is dat daar geen goeie ANC en slegte ANC is nie. Ramaphosa is ook geen held nie. Die ANC, Ramaphosa inkluis, is sleg vir Suid-Afrika.

Korrupsie is maar ’n byproduk van die manier waarop die ANC homself en die mense van Suid-Afrika sien.

Die ander byproduk van die ANC se wêreldbeskouing is die party se mislukte beleidsvoorskrifte. Dit kortwiek ekonomiese groei en vererger die nalatenskap van apartheid.

Vir diegene wat smag na ’n alternatief vir Suid-Afrika was die DA se beleidskonferensie ’n keerpunt.

Ons wil Suid-Afrika op ’n ander koers stuur. Ons wil nie die staat of die samelewing na ons eie beeld herskep nie. Ons glo dat ons die ongeregtighede van die verlede kan regstel sonder om mense volgens ras te klassifiseer en te verdeel.

Ons glo in ’n bekwame staat, soos die een wat ons in die Wes-Kaap gebou het. Ons glo dat die regering hom net moet toespits op maatskaplike doelwitte wat nie deur die privaat sektor behaal kan word nie. En ons glo in federalisme, die afwenteling van regeringsmag na die laagste moontlike vlak.

Ons kan wel waarborg as jy vir die DA stem, sal jy nie ’n afgewaterde weergawe van die ANC kry nie.

Ons kan nie waarborg dat die meeste kiesers hierdie aanbod sal aanvaar nie.

Ons kan wel waarborg as jy vir die DA stem, sal jy nie ’n afgewaterde weergawe van die ANC kry nie.

Ons berei voor op ’n post-ANC-toekoms, die dag wanneer daardie party sy nasionale meerderheid verloor en ’n nuwe regering uit verskillende partye gevorm moet word.

Dan sal net ’n sterk en selfstandige DA ’n verskil kan maak.

* Brink is ’n DA-parlementslid van Centurion. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Jacob Zuma  |  John Steenhuisen  |  Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Cilliers Brink  |  Henry Jeffreys  |  Cyril Ramaphosa  |  Demokrasie  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.