Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
DA pootjie kans by die stembus

Dit is eenvoudig verstommend om te sien hoe die DA weer die kans laat verbygaan om munt uit ’n krisis in die ANC te slaan deur homself by elke denkbare geleentheid(en met die hulp van sy oudleiers) in albei voete te skiet.

Gert van der Westhuizen

Pleks van om al sy tyd en energie te wy aan ’n behoorlike veldtog vir die munisipale verkiesing, moet die DA nou keer dat sy spreekwoordelike vuil wasgoed nog ’n keer in die openbaar gewas word.

Die nuutste relletjie volg op die oudleier Tony Leon se uitspraak dat ’n ander oudleier, Mmusi Maimane, se aanstelling in die DA se top-pos ’n eksperiment was wat skeefgeloop het. Dit het aanleiding gegee tot hernieude beskuldigings dat die DA rassisties is en dat swart mense in dié party nie werklik kan tuisvoel nie.

Herman Mashaba, voormalige DA-burgemeester van Johannesburg, het nie op hom laat wag om hom by die kritici aan te sluit nie.

Mashaba, oor wie Leon ook minder vleiende dinge in sy nuutste boek kwytgeraak het, het lankal bewerings van rassisme in die DA gemaak en die party onder meer daarvan beskuldig dat hy hom in Johannesburg net aan die welstand van inwoners in tradisionele wit woonbuurte gesteur het.

Die DA kan dié bewerings as onwaar probeer afmaak en van sy ondersteuners kan sê Maimane is te liggeraak en was in elk geval nie ’n goeie leier nie.

Maar die skade is gedoen.

Sulke bewerings sal die ANC handig te pas kom in sy verkiesingsveldtog.

Die ANC was juis op die agtervoet weens verlammende faksiegevegte en die swak bestuur in plaaslike owerhede wat onder sy beheer is.

Die omstandighede in sommige ANC-beheerde munisipaliteite is haglik: rioolvuil wat in die strate afloop, inwoners wat nie water of elektrisiteit het nie, infrastruktuur wat nie onderhou word nie en bankrot stadsrade wat miljoene rande aan diensverskaffers skuld.

Sommige waarnemers dink daarom dat vanjaar se munisipale verkiesing een van die belangrikste verkiesings sedert 1994 kan wees.

Dit gee kiesers die kans om op groot skaal hul ontevredenheid met die ANC te kenne te gee.

Die nuutste relletjie volg op die oudleier Tony Leon se uitspraak dat ’n ander oudleier, Mmusi Maimane, se aanstelling in die DA se top-pos ’n eksperiment was wat skeefgeloop het.

Die party se agteruitgang by die stem­bus het immers met 2016 se munisipale verkiesing begin en sy swak vertoning van destyds het intern vrae oor die leierskap van oudpres. Jacob Zuma laat ontstaan.

Baie mense se hoop was op die DA as die sterkste opposisieparty om die ANC dalk met ’n goeie vertoning in die verkiesing weer op soortgelyke wyse tot besinning te bring, maar die kans op so iets word skynbaar al hoe skraler.

Voor die nuutste verwikkelinge oor Maimane en beweerde rassisme, was daar in sommige oorde kommer oor die rigting wat die DA inslaan.

Aanhoudende en voorspelbare aanvalle op pres. Cyril Ramaphosa deur John Steenhuisen, die DA-leier, beïndruk nie juis nie. (Volgens een meningspeiling dink 56% van DA-ondersteuners in elk geval Ramaphosa doen goeie werk in die Covid-19-pandemie.)

Dit lyk steeds asof die DA te hard (en vergeefs) probeer om die stemme terug te wen wat hy in 2019 se algemene verkiesing aan die VF Plus afgestaan het en dat hy daardeur ander voornemende ondersteuners afskrik.

’n Mens kan seker verstaan dat die DA eers weer sy meerderheid onder die minderheid (Leon se beskrywing) wil terugkry.

Maar dit sal jammer wees as die ANC in te veel dorpe en stede ongestraf by die stembus wegkom met sy swak bestuur op plaaslike vlak weens ’n gebrek aan ’n geloofwaardige opposisieparty.

Van der Westhuizen is Netwerk24 se Stemme-redakteur.

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Tony Leon  |  Stembus  |  Verkiesing  |  Da  |  Kiesers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.