Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
DA: Rassebeleid bloot ‘geïnstitusionaliseerde korrupsie’

Dit is nie nodig om ras as maatreël vir opheffing te gebruik nie. Met die gereedskap van apartheid sal ons nooit ’n beter toekoms kan bou nie, skryf Cilliers Brink.

Mense by ’n paneelbespreking oor die stelsel van rasseklassifikasie. Foto: Leanne Stander

As dit kom by ras as ’n beleidsmaatreël, dan is die ANC-regering en sy napraters soos ’n dobbelaar op ’n verloor-lopie. Hoe meer die rassebeleid misluk, hoe meer skade dit aanrig, hoe meer moet doodeenvoudig daarop verwed word.

Die rigiede toepassing van rassekwotas het tot die staat se vaardigheidskrisis bygedra. Vandag is baie staatsinstellings minder bekwaam as in die 1990’s om ’n betekenisvolle ontwikkelingsrol te speel.

In die naam van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is ’n nuwe elite uit die ANC se uitgebreide magsnetwerk geskep. Daar is geen perk op hoeveel keer ’n enkele persoon uit bemagtigingstransaksies voordeel mag trek nie.

In een onlangse geval, wat waarskynlik dui op ’n groter tendens, is ’n bemagtigingsvennoot in ’n multimiljardrand-transaksie op die aanbeveling van ’n ANC-minister gekies. Die politieke ekonoom Moeletsi Mbeki beskryf SEB tereg as “geïnstitusionaliseerde korrupsie”.

Is werknemers blote agente van hul rasgroep?

Cilliers Brink Foto: Foto24

Die DA het ’n duidelike breuk gemaak met hierdie mislukte model en dit met ons eie beleid vir ekonomiese geregtigheid vervang. Ons glo dat Suid-Afrika wel die nalatenskap van apartheid ongedaan kan maak. Die mislukkings van die regering ná 1994 het, terloops, daardie nalatenskap nodeloos vir baie mense verleng. Maar dis nie nodig om ras as maatreël vir opheffing te gebruik nie.

’n Beleid wat mense onbepaald volgens ras klassifiseer en dan regte en verpligtinge op hierdie grondslag aan hulle toeken, is immoreel. Dis allermins ’n resep vir ’n nierassige toekoms.

Dis ook ’n miskenning van die belange wat Suid-Afrikaners met mekaar deel, ongeag ons verdeelde verlede.

Kyk wat by Eskom gebeur het. In 2015 is ’n plan onthul om van meer as 1 000 ervare ingenieurs ontslae te raak. Nie omdat Eskom te veel ingenieurs gehad het nie, maar omdat te veel van hulle wit was. Die wittes was “oorverteenwoordig” – so asof werknemers blote agente is van hul rassegroep.

Later het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, erken dat hierdie plan ’n fout was. Die feit dat kundige mense aangemoedig is om vroeër te loop het die land se kragkrisis waarskynlik vererger. Tog val hierdie optrede heeltemal binne die raamwerk van die ANC se ideologie.

Wat vir die land ’n ramp was, wat mense in die donker laat en ekonomiese groei belemmer, was vir die ANC ’n oorwinning. Vir hulle was dit ’n tree nader aan die party se visie van ’n samelewing waar alle instellings en transaksies, hetsy openbaar of privaat, die rasse-profiel van die land moet weerspieël.

Is nierassige alternatief dan ondenkbaar?

Dieselfde proses het in ander staatsondernemings, net oor ’n langer tydperk, afgespeel. Regstelling was so eenvoudig soos om een groep mense met ’n ander te vervang, wat dan ook die ontplooiing van ANC-kaders vergemaklik het.

Sedert die 2000’s wys navorsing op ’n kritieke tekort aan siviele ingenieurs by munisipaliteite. Die gevolg is dat die infrastruktuur in duie stort, veral in provinsies soos Mpumalanga, Noordwes, Limpopo, die Oos-Kaap en die Vrystaat.

’n Groot aantal beroepslui in Suid-Afrika, onder wie ingenieurs, is toevallig van Indiese herkoms. Maar in elk van hierdie sukkel-provinsies waar munisipaliteite professionele mense die nodigste het, is Indiërs minder as 5% van die ekonomies aktiewe bevolking.

So geweek is hulle in die ANC se rasse-dogmatiek, so intellektueel uitgemergel deur twee dekades van ANC-heerskappy, dat hulle ’n nierassige alternatief as ondenkbaar beskou.

’n Indiese siviele ingenieur wat in so ’n munisipaliteit om ’n bestuurpos aansoek doen, sal gelukkig wees as hy of sy ’n enkele kwota ingevolge die reëls van “verteenwoordigendheid” kan vul.

En selfs dan sal derms oor die “oorverteenwoordiging” van hierdie groep uitgeryg word.

Wanneer politieke kommentators dan die DA daarvan beskuldig dat ons uit voeling met die land se werklikhede is, is dit dié onsinnige beleid wat hulle goedpraat.

So geweek is hulle in die ANC se rasse-dogmatiek, so intellektueel uitgemergel deur twee dekades van ANC-heerskappy, dat hulle ’n nierassige alternatief as ondenkbaar beskou.

Die vloek van armoede

Die feit dat meer as 1 000 kundige ingenieurs aangemoedig is om vroeër te loop by Eskom, het die land se kragkrisis waarskynlik vererger. Foto: iStock

Maar wat van die armes wat nie voordeel trek uit die ANC se rassebeleid nie – insluitend die meerderheid swart Suid-Afrikaners wie se belange volgens die politieke kommentators kwansuis in pas met dié van die ANC is?

Hulle word agtergelaat in gemeenskappe waar dienste verval, waar sakelui vlug en waar armoede soos ’n vloek van een generasie na die volgende oorgedra word.

Hoe sal die DA se nierassige alternatief werk? Dit word reeds toegepas in baie gevalle. As Sassa, die staat se agentskap vir maatskaplike hulp, toelae uitbetaal, en as die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) hulp aan studente verleen, word die ras van die begunstige nie ingereken nie.

Deur sosio-ekonomiese riglyne te gebruik, kan ons ook voorkom dat individue oor en oor voordeel trek.

Iemand se omstandighede – haar huishoudelike inkomste, of haar ouers universiteitsopleiding gehad het en waar sy skoolgegaan het – is die betroubaarste manier om vas te stel of sy ’n helpende hand nodig het. Deur sosio-ekonomiese riglyne te gebruik, kan ons ook voorkom dat individue oor en oor voordeel trek.

Dis oplaas tyd om rasseklassifikasie te laat vaar. Met die gereedskap van apartheid sal ons nooit ’n beter toekoms kan bou nie.

*Cilliers Brink is ’n DA-parlementslid en dié party se adjunk-woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake. Die menings in hierdie rubriek is sy eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

________________________________________

Meer oor:  Anc  |  Eskom  |  Da  |  Cilliers Brink  |  Moeletsi Mbeki  |  Nierassigheid  |  Swart Ekonomiese Bemagtiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.