Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Helen Zille: DA se ‘Ground Zero’
helen zille

Schweizer-Reneke was ons ‘Ground Zero’, skryf Helen Zille, na die party se onlangse stembusterugslae in die Noordwes-dorpie.

In die nadraai van die DA se rampspoedige verkiesingsuitslag in die Mamusa-munisipaliteit laasweek (wat Schweizer-Reneke insluit), het ek hoofsaaklik twee reaksies gekry:

*Die eerste is: Wat die DA ook al doen, moenie weer ‘n party vir minderhede word nie.

*Die tweede is: Keer terug na ‘n fokus op minderheidskiesers. Die DA sal nooit swart stemme wen nie. Die DA se poging om dit te doen, het slegs minderhede vervreem.

Albei moontlikhede is om dieselfde rede erg misleidend.

Ons was, en het nog nooit probeer, om ‘n party vir slegs minderhede te wees nie. Ons het probeer om ‘n party te wees vir elke Suid-Afrikaner wat ons oortuiging deel dat individue die reg het om hul eie identiteit te bepaal. En dat dit nie deur ander (veral die staat) op hulle afgedwing word op grond van hul biologiese eienskappe soos ras en geslag nie.

Ons is ‘n party vir almal wat in grondwetlikheid glo, veral vrye spraak en vryheid van assosiasie, wat die reg insluit om jou belange te bevorder met ander wat dit deel.

Ons is ‘n party vir almal wat glo in ‘n markekonomie met volhoubare veiligheidsnette vir kwesbare mense. En ons glo ook daarin om ons geskiedenis van ongeregtighede uit die verlede aan te pak op maniere wat geleenthede verbreed en nie die uitkomste manipuleer ten gunste van dié met politieke verbintenisse nie.

Ons is ‘n party vir almal wat glo in ‘n kultuur van aanspreeklikheid en die deurslaggewende belang van ‘n bekwame, onafhanklike staat om demokratiese instellings te handhaaf wat mense se regte verdedig.

Leef en laat leef

Mense wat hierdie dinge waardeer, kom in alle kleure, kulture en geloofstelsels. Hulle praat baie tale, en is vry om hul seksualiteit te definieer. Die kern van die filosofie is: Leef en laat leef binne die raamwerk van die wet.

Een van ons grootste uitdagings is dat baie mense dit moeilik vind om buite hul persoonlike en ‘stamgebonde’ ruimtes te dink. Ons moet aanvaar dat ons op lang termyn, met toenemende wêreldwye migrasie en ‘n krimpende planeet, maniere moet vind om vreedsaam met mekaar te leef in gemeenskaplike samelewings. In Suid-Afrika het ons geen alternatief nie.

Dit is moontlik om in ‘n oop samelewing te leef en terselfdertyd sterk organisasies te vorm rondom taal-, kulturele en ander persoonlike en groepsregte, beskerm deur sterk staatsinstellings.

Dit is presies wat Suid-Afrika se grondwet wil doen. En dit is een van die redes waarom die DA, die enigste party wat hierdie raamwerk onvoorwaardelik verdedig, in elke verkiesing gegroei het tot ons terugslag in 2019.

Schweizer-Reneke en ander tussenverkiesingsuitslae wys dat ons nog nie die kwessies wat ons daling in steun veroorsaak het, genoegsaam hanteer het nie.

Ons moet die redes hiervoor behoorlik diagnoseer. Dit sou ‘n ernstige fout wees om diegene wat hul rug op ons gedraai het in die 2019-verkiesing en die daaropvolgende tussenverkiesings as ‘n klomp rassiste af te maak. Pleks daarvan, glo ek, het hulle vertroue in ons verloor omdat ons ons beginsels onder druk laat vaar het.

Kortpaaie tot verkiesingswins

In plaas daarvan om vas te staan, het die DA in 2019 feitlik uitsluitlik gefokus op kortpaaie tot verkiesingswins. Ons het vertroue verbreek met die mense wat in 2016 oorweldigend vir ons (onder ‘n swart leier) gestem het in die oortuiging dat hulle daarop kon staatmaak dat ons ferm op ons beginsels sal staan.

Ek ontken nie my eie rol in die ontwikkeling van hierdie strategie nie en ek het al voorheen oor hierdie onderwerp geskryf. Maar ek erken ook dat die strategie misluk het. Schweizer-Reneke was ons ‘Ground Zero’.

Die kiesers van Mamusa het ons verlede week in duidelike terme laat weet dat daar geen genade is nie. Dit verg veel meer as ‘n verskoning om hul vertroue te herwin.

Somber prentjie

Die verhaal agter Schweizer is (oppervlakkig) bekend. Kortom, op die eerste dag van die nuwe skooljaar verlede jaar, stuur ‘n onderwyseres ‘n reeks foto’s van ‘n skoolklaskamer aan die ouers van die kinders om hulle gerus te stel. Een van die foto’s in die reeks het ‘n ouer, wat dit op sosiale media geplaas het, kwaad gemaak. Dit het toe vinnig versprei. Op die foto is ‘n groot tafel waarby ‘n groep wit kinders gesit het, en ‘n baie kleiner tafel agter by die deur met ‘n paar swart kinders. Die was ‘n somber prentjie, en dit het voorgekom asof leerlinge van mekaar geskei is op grond van ras. Dit eerder as, soos dit later geblyk het, op grond van taalgebruik om nie-Afrikaanssprekende kinders in staat te stel om die toegewyde ondersteuning te kry om te verstaan wat in ‘n Afrikaans-medium klaskamer gesê word.

Die DA-jeugleier, Luyolo Mpithi, het die foto vier ure nadat dit geplaas is, raakgesien en gesê: “Dit is die rede waarom ek nie sal stop totdat ons ‘n gelyke samelewing het nie. Dít. Dit breek my. ”

Dinge het daarna vinnig ontvou. Politici van alle oortuigings, vergesel van die nuusmedia, het op die skool toegesak. Ook betogers wat tot die gevolgtrekking gekom het dat ‘n vorm van apartheid by die skool beoefen word.

Elana Barkhuizen, die jong gr. R-onderwyseres wat die foto geneem het, is deur die provinsiale LUR geskors te midde van ‘n vlaag politieke uitsprake - meestal op verkeerde aannames gebaseer. Die skorsing is daarna teruggetrek. Dit was ‘n hewige groepaanval waarin weerlose mense vertrap is (en waaraan die DA deelgeneem het).

Hoe moes die DA reageer het?

Terugskouend, hoe moes die DA gereageer het op ‘n foto wat op die oog af ‘n indruk van rasseskeiding geskep het?

Ons moes geweet het dat dit beelde soos dié is wat sosiale media so ‘n gevaarlike plek maak. Alle ander relevante konteks word op een foto en 280 karakters op Twitter uitgewis. Voeg by die mengsel van miljoene mense wat wegkruip agter naamloosheid, waarvan baie vals is en deur agendas gedryf word, en jy het die ekwivalent van ‘n politieke Hirosjima.

Ons moes die konteks waarin die foto geneem is, vasgestel het. Ook alle kante van die verhaal aangehoor het, die getuienis geëvalueer het en ‘n beredeneerde reaksie uitgereik het.

Dit is hoe ons ons beginsels die beste sou kon uitleef in ‘n plofbare situasie.

Maar hierdie soort rasionaliteit word weggevee in die orkaan van sosiale media. Ons is nie die enigste mense wat worstel om wêreldwyd maniere te vind om die gevolge te hanteer nie. Ons het ‘n moeilike les geleer en ons moet dinge regstel.

Om konsekwent te wees in ons regverdigheid, moet ons vra of dit reg is om die blaam te plaas op Luyolo Mpithi, die jeugleier van die DA, een van die DA-verteenwoordigers in wie se naam verklarings uitgereik is en wat met die media gepraat het.

Dit is wat ons politieke teenstanders gedoen het, sonder om self die konteks van die situasie te beoordeel en die feite op te weeg. Sodoende is hulle moontlik skuldig aan dieselfde oortreding waarvan hulle ons tereg beskuldig.

Volledige verslag

Die DA het ‘n volledige verslag saamgestel oor die debakel wat vandeesweek aan die party se federale uitvoerende raad voorgelê sal word.

Dan sal ons die rol van Mpithi kan beoordeel en of diegene, wat hom demoniseer, net so skuldig is soos soveel ander kommentators met betrekking tot Elana Barkhuizen ná die foto van verlede jaar.

Almal moet probeer om die kompleksiteit van die saak te verstaan. Dit geld nie net die konteks waarin die foto geneem is nie, maar ook die reaksie. Daar moet nog hard gewerk word aan hierdie saak, want dit is simptomaties van soveel meer as bloot wat op 8 Januarie 2019 in Schweizer-Reneke gebeur het.

Nasiebou word deur baie terugslae in die gesig gestaar en vereis deursettingsvermoë en uithouvermoë. Die DA sal nie van die uitdaging wegkruip nie, want daar is geen alternatief vir Suid-Afrika nie.

Zille is voorsitter van die DA se federale raad en ’n voormalige leier van die party.

Meer oor:  Helen Zille  |  Aktueel  |  Verkiesing  |  Politiek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.