Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
DA se stryd sal nog warm raak

Die ander dag vertel ’n prominente DA-lid vir Dawie dat dié party se koukuslede glo tot stilte gemaan is ná ’n “ ’n kultuur van twiste en lekkasies na die media” glo ontstaan het.

Wel, namate die temperatuur in die leierstryd om die posisies van tussentydse leier en tussentydse voorsitter warmer word, gaan dié twiste en lekkasies net meer word.

In die resies om die leierspos het ons vir John Steenhuisen, die waarnemende parlementêre leier, Bonginkosi Madikizela, die Wes-Kaapse DA-leier, en Makashule Gana, ’n voormalige DA-jeugleier en lid van die Gautengse wetgewer.

In dié stadium is Steenhuisen die voorloper om volgende naweek die meerderheid steun van die DA se federale raad te kry. As hoofsweep in die parlement het hy goeie werk gedoen en geniet beslis die meerderheidsteun uit dié koukus.

Die openbare relletjie oor die feit dat hy nie ’n naskoolse kwalifikasie het nie, het hy met waardigheid en grasie hanteer met ’n baie eenvoudige boodskap: Jy het nie ’n graad nodig om mense te dien nie. Uiteindelik is hy waarskynlik sterker anderkant uit as voorheen. Hy geniet sterk steun onder die tradisionele liberale groepering in die DA, sowel as onder die sogenaamde pragmatiste.

Oor die sensitiewe kwessie van ras, wat nog rigtinggewend sal wees vir die DA se toekoms, blyk dit Steenhuisen reken nie ras kan ’n allesbepalende faktor van relatiewe bevoorregting of ontneming wees nie, maar dat dit gewoon toondoof sou wees om te ontken watter groot rol ras steeds in die Suid-Afrikaanse samelewing speel.

Madikizela, ’n voormalige lid van die UDM, is ’n mededinger. Hy voer sy veldtog as iemand wat volledig die beginsel van nierassigheid voorstaan. Agter die skerms maak hy nietemin sterk daarop aanspraak dat hy die mees veelrassige steunbasis geniet.

Te midde van swart DA’s wie se stemme merkbaar stiller geraak het ná Mmusi Maimane se bedanking, is Gana ’n voorstander van die idee dat die DA se groei onder die swart gemeenskap moet lê, en dat die ANC se onvermoë om ekonomiese geregtigheid te skep ’n leemte is wat uitgebuit moet word ter wille van veral swart steun.

En dan is daar die Z-faktor. Indien Steenhuisen die pyp rook, is dit wis en seker dat hy in sy spoor gaan moet trap as hy die hoop koester om volgende jaar April tot die DA se nuwe leier verkies te word.

Ofskoon Helen Zille in haar nuwe rol as die voorsitter van die DA se federale raad beloof het om in haar baan te bly, is dit heel moontlik dat dit nog ’n geval kan word van “ek bly in my baan en jy ry agter my aan”.

En al het sy ook hand en mond belowe sy wil nie weer die DA-leier word nie, is dít mos allermins bindend. Dawie sien dit al in sy geestesoog: “Ek moes my beskikbaar maak. My mense, my party het my geroep.”

Ook die stryd om die pos van tussentydse federale voorsitter gaan warm raak. Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, is volgens alle aanduidings die voorloper. Hy het ’n veilige paar hande en kan sorg vir broodnodige stabiliteit.

Maar uiteindelik gaan die DA se grootste uitdaging nie gaan om die besluit oor watter individue in leiersposisies sit nie. Dit gaan oor die vraag of hy ’n manier kan vind om die moeilike kwessie van ras, en verwante sake soos swart ekonomiese bemagtiging, op só ’n wyse te debatteer dat dit nuwe verstaansmoontlikhede oop maak en die party vorentoe neem. Die alternatief is immer oplaaiende spanning wat nog op ’n breekspul kan uitloop.

Die DA kan nie bekostig om nou nóg ’n geleentheid mis te loop nie.

Meer oor:  Menings  |  Rubriek  |  Politek  |  Uit My Politieke Pen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.