Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
DA skiet hom in die voet oor ras

Die gesegde “Hoe meer dinge verander hoe meer bly dit dieselfde” is baie waar van die DA. Sy pas afgelope nasionale beleidskonferensie het nie die party vorentoe geneem nie, maar eerder stilstaande gehou.

Henry Jeffreys

Die DA is nie enigsins nader aan sy uiteindelike doelwit om die ANC uit die kussings van mag te lig en by die stembus te klop nie. Nie net is die DA nie nader aan daardie ontwykende mikpunt nie, hy loop waarskynlik ook die gevaar om homself as die tweede grootste party in die land uit te werk, ten bate van die EFF, wat in sy nek blaas.

Die DA se probleem is sy hardnekkige weiering om te erken dat die kwessie van ras die wortel van die politieke kwaad is. Enige party wat hoop om die land se probleme op te los sal eenvoudig erkenning móét gee aan ras as die vernaamste oorsaaklike faktor in die Suid-Afrikaanse problematiek.

Dit is eenvoudig nie moontlik om oplossings vir ons probleme te vind deur voor te gee dat dit nie ’n faktor is wat hanteer moet word nie.

Die DA se posisie word deur baie in die party as heroïes beskou. Dit is allesbehalwe. Dit is dwaas en stiksienig en die party moet ras op sy agenda plaas indien hy enigsins hoop om die verbeelding en aandag van die gemiddelde kieser aan te gryp.

Die DA moet besef dat die ANC en ander partye soos die EFF goed doen deur klem te lê op die rol van ras in ons onlangse verlede van ontneming en onderdrukking. Dit is vir die oorwegend swart partye baie makliker om die kwessie van ras voorop te stel, want dit is die gemene deler tussen hulle en die kiesers. Dieselfde kan nie met oortuiging van die DA gesê word nie, hoewel die party sy steun onder swart kiesers begin uitbrei het.

Dit is duidelik dat die ANC die vele mandate van die kiesers versmaai het om die vergrype van die verlede reg te stel.

Dit is duidelik dat die ANC die vele mandate van die kiesers versmaai het om die vergrype van die verlede reg te stel. Dit beteken egter nie dit is onmoontlik nie. Dit is meer ’n manifestasie van die ANC se onbeholpenheid om komplekse kwessies suksesvol te bestuur. Dan is daar natuurlik ook die kwessie van korrupsie en ’n aptyt vir selfverryking wat endemies is aan die ANC, maar tot sy krediet, byna nie in die DA bestaan nie.

Ras is vir die meeste swart mense ’n diep emosionele kwessie. Hulle het dit vir dekades lank letterlik aan die bas ervaar. Hulle is op grond van ras hul grond ontneem en ekonomiese en opvoedkundige voordele ontsê.

Dit terwyl hul wit landgenote daardeur bevoordeel is. Sekerlik is ’n regstelling van die situasie nie ’n verregaande verwagting nie?

Aan die radikale kant van die debat – soos in die EFF – word daar aangedring dat ontneming met ontneming vergoed word.

Aan die radikale kant van die debat – soos in die EFF – word daar aangedring dat ontneming met ontneming vergoed word. Tot sy krediet het die ANC besluit om die verlede te probeer regstel, nie deur arbitrêre gryp-aksies nie, maar deur prosesse onderworpe aan die oppergesag van die reg.

Dit is baie anders as wat onder die bewind van die ou Nasionale Party gebeur het. Toe is sekere werkgeleenthede eksklusief vir wit, meestal Afrikaanse, kandidate gereserveer. Die gevolge kan vandag nog gevoel word.

Die DA moet dringend afstand sit tussen hom en die diepgewortelde persepsies dat hy net daarop uit is om die bevoordeelde posisie van wit mense in plek te hou en dat hy vere voel vir swart mense se ekonomies minderwaardige status.

Dit sal vars en superkreatiewe denke verg, iets waartoe die party se denkers sekerlik in staat is?

’n Goeie plek om te begin is om toe te gee dat ras ’n besonderse plek het in hoe die Suid-Afrikaanse problematiek ontwikkel het, en dat dit nie geïgnoreer kan word in die soeke na oplossings om die verlede te begrawe nie.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Da  |  Anc  |  Eff  |  Ras  |  Partypolitiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.