Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
DA: Staak die verwyte
Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad.Foto: GALLO

Hoewel die DA homself meet aan ’n hoër standaard as wat vir ander partye gestel word, verdien Suid-Afrika meer as ’n amptelike opposisie wat heeltyd verskonings maak, skryf Lourensa Eckard.

In die jongste seisoen van The Crown, die dramareeks oor die Britse koninklikes en meer spesifiek koningin Elizabeth II, word die eerste ontmoeting tussen koningin Elizabeth en Margaret Thatcher dramaties uitgebeeld.

Thatcher is pas verkies as die eerste vroulike Britse premier en sy word, soos die gebruik is, na Buckingham-paleis genooi waar die koningin haar gaan vra om in haar naam ’n regering te vorm. Dit is bloot seremonieel, die monargie het geen sê oor hoe die Britse regering sake doen nie, maar ’n hartlike verhouding tussen monarg en premier kan geen skade doen nie.

Thatcher, wat meesterlik deur Gillian Anderson vertolk word, arriveer by die paleis en lyk van meet af aan ongemaklik tussen al die prag en praal. Thatcher se kniebuiging is so diep en stadig, dit blyk aspris te wees. Die koningin vra vir Thatcher wie in haar eerste kabinet gaan dien, want sê die koningin, sy hou daarvan om vooraf te raai wie kabinetsposte gaan kry.

Daar sal seker ’n paar vroue wees, sê die koningin. “Vroue? Nee, beslis nie,” sê Thatcher. Die koningin lyk verstom. “Ek het gevind dat vroue in die algemeen nie geskik is vir ampsposisies nie. Hulle is te emosioneel,” is Thatcher se antwoord.

Dubbele standaarde

Dit het my dadelik laat terugdink aan 2011, toe die premier van die Wes-Kaap, ene Helen Zille, gekap is omdat sy net mans in haar provinsiale kabinet aangestel het. Lynne Brown was daardie tyd die ANC se “skadu-premier van die Wes-Kaap” en het destyds gesê Zille het geen vertroue in haar vroueleiers nie. Dis dieselfde Brown wat later in haar tyd as minister van openbare ondernemings sou toekyk hoe een staatsinstelling ná die ander in die grond in bestuur word.

Dis duidelik dat dubbele standaarde vir die DA en spesifiek Zille geld. Maar dit kan hoegenaamd nie ’n verskoning wees vir die diep gat waarin die blou party homself bevind nie.

Kom ons staan vir ’n oomblik stil by die ander politieke partye. Daar is etlike voorbeelde van hoe moreel bankrot die ANC is, maar die jongste voorbeeld is dié van die ANC-politikus in Mpumalanga wat tereg staan op aanklagte van verkragting en desondanks toegelaat is om terug te keer na sy pos. Die provinsiale uitvoerende komitee het glo nie geweet hoe om die aangeleentheid te hanteer nie omdat die na­sionale uitvoerende komitee van die ANC nog nie riglyne gegee het vir hoe ampsdraers wat van misdade beskuldig word, hanteer moet word nie. ’n Mens sou dink dis baie duidelik hoe iemand hanteer moet word wat daarvan beskuldig word dat hy sy twee dogters verkrag het.

Dan is daar die EFF-leier, Julius Malema, wat sê die rooi barette sal polisielede die stryd aansê in hul eie huise en by hul eie gesinne.

Dit is ondenkbaar dat die DA as politieke party sal oorleef indien die party ’n vermeende verkragter hanteer soos die ANC of die polisie dreig soos die EFF.

Dit word herhaaldelik op sosiale media gesê dat die DA nie dieselfde hanteer word as byvoorbeeld die ANC en die EFF nie.

Waarom ‘straf’ kiesers die DA?

In ’n reeks tussenverkiesings vroeër die maand het die DA behoorlik bloedneus gekry.

Douglas Gibson, ’n voormalige hoofsweep van die DA, het op Twitter opgemerk dat “ons” kiesers hom keer op keer verstom, want ongeag wat die ANC doen en verwoes, word die party nooit by die stembus gestraf nie. Die subteks is die vraag waarom die DA dan so by die stembus gestraf word.

Die DA het 14 van die wyke waar hy voorheen in beheer was behou, maar nege verloor. Zille, deesdae voorsitter van die party se federale raad, het haar eie ontleding gegee en gesê die “nierassige gematigde sentrum” is besig om te versplinter. Sy het bygevoeg dat die media-omgewing baie vyandig is en dat die DA met ’n ander stel maatstawwe as ander partye gemeet word.

Zille het natuurlik ’n punt beet. Die party kon daarin slaag om virtueel ’n beleidskongres te hou en virtueel nuwe leiers te kies te midde van die Covid-19 pandemie, terwyl ander partye groot partygeleenthede en kongresse bloot uitstel.

Die beleid wat aanvaar is, blyk gematig, oorspronklik en ondernemend te wees. Dit alles verdien lof. Maar die DA is ten koste van homself tot so mate gefokus op beleid, dat hy blind is vir hoe dit verpak en versprei word.

Die olifant in al die DA se vertrekke is sy besluit om afstand te doen van die gebruik van ras as grondslag om te bepaal watter groep mense benadeel word.

Op papier maak dit sin, maar dit kom uiters toondoof voor. Die party moes tog sekerlik geweet het dat miljoene Suid-Afrikaners en amper al wat ’n ontleder is, slegs op daardie aspek sou fokus. Dit is een ding om te sê die media is vyandig, maar dit is ’n heel ander ding om jou blind te hou vir die toon van jou boodskap, veral as die party se nuutverkose wit leier (John Steenhuisen) en die party se wit federaleraadsvoorsitter dit probeer verduidelik en verdedig.

Daar is diegene wat sê die DA het ná soveel jare homself finaal gedistansieer van rasgegronde regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging omdat die party die kiesers wat na die VF Plus gespring het, wil terugkry.

Daar is selfs diegene wat sê die DA wil hom daarop toespits om ’n party vir minderhede te wees, ’n sogenaamde 20%-party, want dit is net nie moontlik om alles vir almal in Suid-Afrika te wees nie.

Die party het wel baie naby daaraan gekom. In 2016 se munisipale verkiesing, toe oudpres. Jacob Zuma se skandes behoorlik oopgevlek is, het die DA die ANC onder 50% gedruk in drie van die land se grootste stede.

Twee jaar later het baie van daardie kiesers hul rug op die DA gekeer.

Jare van ‘vryval’

As daar spesifiek gekyk word na wit Afrikaanssprekendes, is dit duidelik dat baie van hulle in 2016 die DA ondersteun het, maar in 2019 se nasionale verkiesing het hulle nie meer tuis gevoel in die party nie. Die DA se hantering van die Schweizer Reneke-debakel het nie gehelp nie, maar voor dit was daar reeds tekens dat die DA in die moeilikheid is.

Daardie selfde wit kiesers het die skade gesien wat Zille se kolonialisme-twiet veroorsaak het en besef dat baie swart kiesers van die DA gaan afstand doen.

Ek glo baie wit Afrikaanssprekende kiesers is prakties en pragmaties en sal stem vir ’n party wat in die beste belange van die land optree, ongeag die ras van die party se leier. Maar dit het vir daardie kiesers duidelik geword dat baie swart en bruin kiesers emosioneel net nie meer gemaklik met die DA is nie en as sulks het daardie kiesers dalk gevoel dit sal beter wees as hulle ook wegstap, want waarom sal hulle vir die DA stem as baie swart en bruin mense dit nie eens gaan doen nie?

Dit is prysenswaardig dat die party hom voortaan gaan laat lei deur beleid wat deur die meerderheid van die party bekragtig is. En die media en ontleders moet dit so aanvaar.

Die klakous-party

Die party moet net een ding onthou: Hierdie maatstawwe is deur die DA self gestel en as daar anders na die party gekyk word, is dit omdat die party homself aan ’n hoër standaard meet.

Die DA kom oor as ’n klomp klakouse as hulle alles van die media tot hul kiesers en identiteitspolitiek blameer vir ’n swak vertoning by die stembus.

Lourensa Eckard

Waar die DA regeer, naamlik in die Wes-Kaap, is die werkloosheidsyfer die laagste van al die provinsies en die ouditeur-generaal sonder die provinsie jaarliks uit vir al die skoon oudits wat behaal word. Stemme gaan egter nie vir die DA landwyd instroom net omdat die party nie die ANC is nie, al is hul beleid hoe sterk, want kiesers is mense en mense het emosies.

Dit is asof die indruk geskep word dat Suid-Afrikaners beter behoort te weet as om aan te hou om vir die ANC te stem en dat indien hulle aanhou stem vir die ANC, hulle verdien wat hulle toekom in die vorm van korrupsie en wanbestuur. Dit is neerhalend.

Suid-Afrika verdien wel beter as ’n amptelike opposisie wat aanhoudend verskonings maak. Zille skryf in haar uitgebreide ontleding van die tussenverkiesings op 11 November dat die grootste gevaarteken vir die DA sy daling in steun is onder bruin kiesers in plekke soos George en Saldanha.

Volgens Zille kan dit toegeskryf word aan die party se “onbegryplike” hantering van Patricia de Lille. In kort, skryf Zille, was die tydperk tussen 2016 en 2019 uiters rampspoedig vir die party. Sy noem dit die “Free-Fall years”.

Dit is maklik vir Zille om te sê, want sy was nie die party se leier gedurende daardie tyd nie so dit kon tog nie haar skuld gewees nie.

As die DA verder tuimel in volgende jaar se munisipale verkiesing, gaan dit interessant wees om te sien wie of wat Suid-Afrika se eie ystervrou dán gaan blameer.

  • Eckard is ’n joernalis en aanbieder van kykNET Verslag.
Meer oor:  Verwyte  |  Da  |  Regering  |  Kiesers  |  Stemme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.