Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
DA waarskynlik op afdraande pad na irrelevansie

Dit lyk of die wit liberale magsblok nog in beheer van die hart van die DA is en daar word net gekibbel oor wie die beste persoon is om hul posisie te verskans, skryf Christi van der Westhuizen.

Waarheen nou? James Selfe, uittredende voorsitter van die DA se federale raad, en dié party se beleërde leier, Mmusi Maimane. Foto: Elizabeth Sejake

Groot besluite met aansienlike reperkussies lê voor die DA se deur hierdie komende naweek. Maar of dit die afgelope jare se gestoei oor die party se ideologiese rigting tot ’n spits sal dryf, veral betreffende die korrigering van ongelykheid, is ’n ander vraag.

Afgevaardigdes kies ’n nuwe voorsitter vir die party se federale raad. Vir die eerste keer in 19 jaar staan die DA-veteraan James Selfe nie vir dié posisie nie. ’n Verandering is dus onvermydelik.

DA-mense sal waarskynlik terugkrabbel, maar dit is die magtigste posisie in die party. Die DA-leier sit struktureel geïsoleerd terwyl die federale raadsvoorsitter operasioneel soos ’n spinnekop in die middel van ’n spinnerak sit.

Die afgevaardigdes moet ook besluit of ’n vervroegde leierskapsverkiesing gehou moet word. Dit kom na aanleiding van ’n verslag oor die DA se swakker verkiesingsvertoning vanjaar wat aanbeveel dat die huidige DA-leier, Mmusi Maimane, eenkant toe moet staan.

Dit is veelseggend dat die verslag deur Ryan Coetzee voorberei is. Hy was DA-strateeg in Tony Leon en Helen Zille se dae, en was die figuur agter die party se veranderende kiesveldtog-slagspreuke: vanaf “Slaan terug” in 1999 tot “Ons lewer vir almal” in 2011.

Op die oog af het afgevaardigdes nie veel van ’n keuse as dit kom by die kandidate vir voorsitter van die federale raad nie.

Coetzee is iemand met sy vinger op die pols van Suid-Afrikaanse partypolitiek, maar is al lank in Brittanje. Hoe waar dit nóú van hom is, is ’n ander vraag.

Op die oog af het afgevaardigdes nie veel van ’n keuse as dit kom by die kandidate vir voorsitter van die federale raad nie.

Minstens drie uit die vier kandidate lyk asof hulle deel is van die toenemende beroepe sedert omtrent 2012 dat die DA na “klassieke liberalisme” moet terugkeer. Hulle is Helen Zille, voormalige DA-leier, Mike Waters, voormalige adjunkhoofsweep, en Athol Trollip, voormalige burgemeester van Nelson Mandela-Baai.

Die vierde kandidaat, Thomas Walters, is as waarnemende federale voorsitter redelik onbekend, maar dit sal verbasend wees as hy nie soos die ander voel nie.

Wat moet ’n buitestander oor die gebrek aan ideologiese verskeidenheid aflei?

Klassieke liberalisme en die pad na irrelevansie

Helen Zille, oudleier van die DA en voormalige premier van die Wes-Kaap, het haar ook verkiesbaar gestel vir die pos van die DA se federale raadsvoorsitter.

Dit blyk die wit liberale magsblok is nog in beheer van die hart van die party en kibbel tans nou net oor wie die beste persoon is om hul posisie te verskans.

Dit beteken dat ’n oplossing vir die politieke krisis in Suid-Afrika nie uit die sogenaamde liberale kant van die politieke spektrum sal kan kom nie. Want die enigste party wat genoegsaam kon groei om die polities en moreel kwynende ANC uit die kussings te lig, sal waarskynlik ná hierdie komende naweek op ’n afdraande pad na irrelevansie wees.

Die rede is deels dat die politici ter sake weier om op ’n gekontekstualiseerde wyse na liberalisme te kyk. Soos Zille my by die Aardklop-paneelbespreking ’n klompie weke gelede herinner het, daar is ’n verskil tussen politieke filosofie en politieke praktyk. Maar dit blyk dat die DA-politici net hierdie verskil raaksien wanneer dit hulle pas.

Dit is ’n ontkenning van hoe liberalisme as ’n ideologie aangewend is om kolonialisme te regverdig.

Om die party te probeer terugdraai na ’n “klassieke liberalisme” wat buite tyd en plek staan, is onmoontlik. Dit suggereer dat liberalisme opsigself onaangetas is deur rassisme en patriargie, asof hierdie wonderlike oomblik in die verlede bestaan het waarin ’n “suiwere” liberalisme bedryf kon word wat alle probleme – insluitend die DA se rasprobleem – kon oplos.

Hierdie versugting herinner aan van die DA se teenstanders wat onder meer na ’n “suiwer” Afrika-utopie verlang wat voor die setlaars se aankoms sou bestaan het. Of aan daardie Afrikaners wat nostalgies is oor apartheid toe al die rasse so “vreedsaam” met mekaar saam gelewe het.

Dit is ’n ontkenning van hoe liberalisme as ’n ideologie aangewend is om kolonialisme te regverdig. Dit is ook ’n ontkenning van die DA se eie ontstaan, destyds as die Progressiewe Party wat geglo het swart mense mag slegs stem as hulle eiendom besit en ’n sekere onderwyspeil het.

Christi van der Westhuizen

Hierdie versugting na ’n terugkeer na “klassieke liberalisme” suggereer dat wat twee eeue gelede met die ontstaan van liberalisme geldig sou gewees het, steeds geldig is. Dit vermy al die dinkwerk oor die afgelope dekades oor hoe om die tekortkominge van liberalisme aan te spreek.

Die vernaamste tekortkoming, wat ook verklaar hoekom die DA vashaak, is oor wié daardie individuele mens is wat inherente en onvervreembare regte besit. Heelwat is intussen geskryf oor die uitbreiding van die idee van menslikheid omdat die liberale definisie van “mens” eens op ’n tyd vroue, swart mense, gays en werkersklasmense uitgesluit het.

Hierdie dinkwerk is ook deur filosowe gedoen, maar van dáái wat in voeling met werklik bestaande probleme is, eerder as wensdenkery oor onmoontlike suiwerhede. Die DA het ’n herbesinning nodig wat beslis verder as ’n verkalkte, ahistoriese weergawe van liberalisme gaan.

En om te dink dat enigiemand geflous word met die verwringing van nierassigheid tot 'kleurblindheid', wys ’n party uit voeling met die werklikheid.

Kyk na die wêreld om ons en sien raak dat ras onvermydelik in politieke praktyk getakel moet word. Óf dit word soos Julius Malema gedoen, met antiwitretoriek wat al meer gewelddadig raak, óf dit word op ’n manier in die openbare diskoers ingebring om historiese ongelykhede uit te wis.

Maar om te dink ’n party kan dit ignoreer, is ’n fatale fout. En om te dink dat enigiemand geflous word met die verwringing van nierassigheid tot “kleurblindheid”, wys ’n party uit voeling met die werklikheid.

Dit blyk ’n jammer dag breek vir die DA aan – en daarby ook vir Suid-Afrika, wat ’n veerkragtige, aanpasbare opposisieparty nodig het wat op die beste van die huidige denke staatmaak.

* Van der Westhuizen is medeprofessor by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie, Nelson Mandela-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.