Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Daan spog oor hy ‘uitstaande’ bankkliënt is

Dik Daan spog in die afgelope week by ons dat hy ’n brief van die bank gekry om te sê hy is uitstaande.

“Ek het heeltyd geweet ek is al daar van Volkskas en Trustbank se dae af ’n getroue kliënt, maar dié boodskap was vir my baie spe­siaal. (Hy erken nie graag dat hy soos baie ander pilare van ons ou volkie destyds van Volkskas weg is agter wyle Jan Marais se mooi Trustbank-poppies aan nie.)

Blouwillem

“Om terwyl jy sukkel om liggaam en siel aanmekaar te hou te kan hoor jy is uitstaande, is vir my nou rêrig ’n riem onder die beursie,” sê hy terwyl trane vlak lê.

Ons het maar besluit om so ’n paar dae te wag voordat ons hom reghelp.

Ja nee, en terwyl ons manne die naweek so sit en rugby kyk, sê oom Johnny ons is maar almal so naastenby in dieselfde bootjie, maar ten minste het ons nie meer rugbyspelers onder ons dak vir wie ons moet sorg nie.

“As jy kyk watter astromitiese bedrae selfs skoolseuns deesdae verdien en hoeveel ’n skolespeler kan eet, kan ons maar bly wees hulle is uit onse huise uit.

“Ek onthou hoe geskok ek was toe ek vir oulaas vir my laaitie toks moes koop.

“ ’n Paar Puma-toks was duurder as ’n lewende poema,” grom hy terwyl hy na die Leeus en die Jaguares sit en kyk.

“Ja, manne, in ons tyd was Playboy ’n verbode tydskrif, maar nou is dit ’n outjie met ’n rugbykontrak.”

Ons mymer toe verder daaroor dat groot rugbyunies soos die Stormers nou die arme ou Nuweland moet verkoop om spelers te kan bekostig en dat die Perstruie daar in Welkom hul spelers nou net vir agt maande van die jaar kan betaal.

“Dis oordat die speknekke by die groot unies 150 spelers vir ’n 15-manspel kontrakteer,” grom neef Bartel. “Wat moet die arme manne van die klein unies nou die ander vier maande van die jaar doen? Waarskynlik tuinwerk, onderwaterhokkie, tafeltennis of kameelresies in die Emirate.”

Daai formule vir rugbysukses laat my toe dink aan die nuutste sotlikheid wat ek in die afgelope week raakgelees het. ’n Maatskappy in Auckland, Nieu-Seeland, het begin om sy werkers net vier dae per week te laat werk, maar vir vyf dae te betaal. Dit was geen verrassing nie dat die werkers gesê het hulle is baie tevrede met dié
reëling en baie minder gespanne as voorheen.

Wat wel ’n verrassing was, is dat net 24% van die werkers gevoel het dat dit ’n beter balans tussen hul werk- en private lewe teweeggebring het.

Om dié persentasie tot by 100% tevredenheid op te stoot, sou die aangewese plan natuurlik wees om die werkers vir sewe dae te laat rus en vir sewe dae te betaal. Eenvoudig, nè?!

Ook in die afgelope week raakgelees dat nog 12 mane van Jupiter ontdek is. Lyk my ek was verkeerd oor die vooruitsigte vir Zimbabwe se nuwe ruimteagentskap.

Meer oor:  Blouwillem  |  Banke  |  Rubrieke  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.