Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Daar is geen groter eenheid as in Christus
Dr. Isak Burger, voormalige president van die AGS. Foto: Theana Breugem

Daar is soveel dinge in ons land wat die deursnee-Suid-Afrikaner frustreer en negatief en bekommerd stem. Enige koerant of nuusbulletin op enige gegewe dag bestaan hoofsaaklik uit ’n konglomeraat van slegte nuus en blatante boosheid.

Teen die agtergrond hiervan het ek verlede week op ’n plattelandse dorp iets ervaar wat my bemoedig het. Die dorp is Modimolle (die ou Nylstroom) in Limpopo.

’n Gemeente het ’n week van evangelisasie en versoening gereël. Ek het die voorreg gehad om een aand daar op te tree. Daar was ’n hele paar besondere kenmerke aan die reeks dienste. ’n Tent met duisend sitplekke is strategies in die middel van die dorp, langs die hoofstraat, opgeslaan – op die presiese plek waar die konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog was.

Honderde mense van alle rasse het die byeenkomste bygewoon. Swart en wit predikers het mekaar afgewissel. Mense van verskillende denominasies was teenwoordig. Boere het hul werkers saamgebring. Leiers van die gemeenskap, onder andere van die skoolhoofde, het die dienste bygewoon.

Die belangrikste is dat lewens, harte en verhoudinge aangeraak en ten goede verander is.

Ongeveer R100 000 is bestee aan gemeenskapsopheffing. Geen offerandes is opgeneem nie, maar toe die week se dienste verby is, was daar geen uitstaande skuld nie. Die belangrikste is dat lewens, harte en verhoudinge aangeraak en ten goede verander is.

Gegewe die konteks was dit niks minder as merkwaardig nie. Hou in gedagte dat Limpopo die provinsie is met die laagste persentasie wit mense in die land – 2,6% van die bevolking.

Onthou ook dat die Waterberge bekend is vir redelik sterk regse sentimente en andersyds dat die EFF ’n sterk teenwoordigheid het. Dit het dit nog te meer merkwaardig gemaak om swart en wit saam in harmonie in lof en aanbidding voor God te sien.

Dit het my weer opnuut ’n paar dinge laat besef. Die meeste Suid-Afrikaners is in wese vredeliewend en sal verreweg verkies om in vrede en harmonie met mekaar te leef. Die geneigdheid van sommige politici om ter wille van persoonlike en partypolitieke gewin opruiende en polariserende uitlatings te maak, is boos en veragtelik.

Voorts is die invloed wat die kerk in Suid-Afrika kan uitoefen as gelowiges oor alle grense heen hande vat, nog nie regtig gesien nie.

Gelowiges moet besef dat daar in wese geen groter eenheid is (of behoort te wees) as in die familie van Christus nie. Ons is in soveel ideologiese, politieke en maatskaplike kampe gejaag dat ons gesamentlike verbondenheid in Christus dikwels vervaag.

My grootste identiteit lê nie in my taal, etnisiteit of politieke oortuigings nie, maar in my kindskap van God. Indien my verhouding met my geestelike familie wat dalk aan ’n ander politieke party, etniese, ideologiese of maatskaplike groepering behoort, verdeeldheid of vyandskap tussen ons bring, is daar fout.

Meer oor:  Isak Burger  |  Christenskap  |  Geloof  |  Eenheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.