Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Daar is heelwat voordele aan die enkelgang
Annemarie van der Walt

Ons is ’n handvol van alle ouderdomme en albei geslagte wat om die tafel sit en gesels oor die gemene deler van alleenblyery.

Soos ek luister, sien ek in my geestesoog elkeen van ons as een van die dwarshoutjies van ’n abakus, skuif ek die tellers vir dié een na daardie kant toe, vir iemand anders met soveel dié kant toe.

Want elkeen se rede vir die enkelwonende status is verskillend. Daar is dié wat geskei is, ’n wewenaar, enkeles wat (nog) nooit tot trou gekom het nie en ’n grasweduwee.

Die begin van die gesprek is aan die swaar kant, amper half gewyd. Iedereen sê iets oor die donker hoeke van ’n huis; gewaand of werklik.

Of dat jy soms ná ’n naweek besef jy het wragties nie een woord met ’n lewende wese buiten die kat of hond gesels nie.

Nee gaats, dag ek toe die atmosfeer darem te donker raak, daar is mos ook iets te sê ten gunste van alleen woon.

Maar voordat ek my mond kan oopmaak, sê die jong vrou: “Man, soms mis ek skoon die ­hare van my simpel eksman se minnares op my kussing.”

Die wewenaar kyk haar so oor die rand van sy glas en knik langsaam. “Dís nou ’n ding . . .

Die mens is ’n tropdier en die neiging is, vir die meeste, om eindelik saam met iemand ’n wasgoedmandjie te wil deel.

As jy dit wel om die een of ander rede misloop of opnuut moet afleer, blyk daar gou heelparty voordele aan die enkelgang te wees, al moet jy jouself soms dringend daaraan herinner.

Die mens is ’n tropdier en die neiging is, vir die meeste, om eindelik saam met iemand ’n wasgoedmandjie te wil deel.

Soos om tuna uit die blik te eet, bieg die gryskopvrou aan tafel wat ’n mens altyd deur ’n ring kan trek. Ons kyk haar verbaas aan, maar ook net totdat die grasweduwee verklaar sy het ’n latente passie ontdek in die tye wat haar man nie tuis is nie. “Ek sweis skelm.”

Dit word ’n biegtery wat enige priester se ore sou laat tuit. Ons lag baie en tog kan ek nie help om elke nou en dan op die horlosie te kyk nie. Sodra die gaste weg is . . .

Die sekelmaan lê laag toe ons op die stoep staan om afskeid te neem.

“Hier gaan ek nou jubelend my katte tegemoet,” kwetter die jong geskeide vrou nou opgelug en mik vir haar motor.

Die wewenaar vryf tydsaam oor sy kaalkop. Ek sien hy meet die afstand tussen die stoep en daardie einste motor.

Ek gee hom ’n tikkie op die skouer; hoor in my gedagtes hoe rol ’n tellertjie op die abakus duskant toe.

Dan draai ek om, maak die voordeur dig toe en skuif ’n CD in die speler, die eerste van ’n lang laatnagluistery. “So elke dan en wan kom iemand oor jou pad en dan . . . ” sing Karin ­Hougaard kliphard. En ek sing saam, opskeplepel in die hand as mikrofoon.

Sien, sommige van ons kan net sing as ons stokalleen is. Al is dit aan die vals kant.

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.