Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Daar is meer as grashalms om aan vas te hou in SA

’n Belangrike beginpunt vir deelnemende demokrasie is jou eie woonbuurt. Nico Botha skryf oor die inwoners van Eersterust wat hom hoop gegee het vir die land.

Mense van die gemeenskap in Eersterust kom bymekaar om te praat oor dinge soos dwelmmisbruik in hierdie woonbuurt. Dit is ’n diep godsdienstige gemeenskap en die inwoners hier het baie empatie met mekaar se nood. Foto: Theana Breugem

Die gemoed van Suid-Afrikaners is die afgelope tyd gelig deur die laer petrolprys en die verbeterde matriekslaagsyfer.

Ons weet dat die bietjie verligting met die petrolprys van korte duur sal wees en dat die matriekuitslae in die lig van ’n reeks veranderlikes met ’n knippie sout geneem moet word. Maar tóg, darem . . .

Die donkerte waarin Suid-Afrikaners sedert Desember weer gehul word, laat ’n mens wonder of daar nog ligpuntjies is. Die nuwe tendens waarvolgens mense by openbare plekke doodgeskiet word – amper soos met die uiters tragiese gevalle in die VSA – laat die vraag ontstaan of daar nog grashalms is om aan vas te klou, terwyl ons geleidelik ons greep op dinge verloor.

Miskien het dit tyd geword vir Suid-Afrikaners om self te begin sê wat hulle verstaan aan ’n deelnemende demokrasie

Dikwels bring die verwagting dat daar vanuit die makro-politiek iets dramaties moet gebeur ’n soort verstarring. En as daar dan weinig of niks gebeur wat die deurbraak na ’n nuwe daeraad kan versnel nie, het dit ’n verlammende uitwerking op mense.

Miskien het dit tyd geword vir Suid-Afrikaners om self te begin sê wat hulle verstaan aan ’n deelnemende demokrasie. ’n Deelnemende demokrasie is anders as een met ’n lae intensiteit. In ’n demokrasie met ’n lae intensiteit gaan dit hoofsaaklik oor wat elke vyf jaar gebeur wanneer kiesers in lang rye staan om hulle stem uit te bring.

Daarteenoor gaan dit in ’n deelnemende demokrasie oor wat die verantwoordelikheid van die burgers van ’n land is. En ’n belangrike beginpunt hier is dalk jou woonbuurt – afgesien daarvan of dit ’n behoorlike voorstad of ’n township is.

Die moeder van alle opstande

In Eersterust in Pretoria het daar die afgelope tyd ’n interessante gesprek losgekom wat in breë trekke as volg opgesom kan word: Hoe gaan inwoners met verskillende behoeftes met mekaar om?

Die vraag kan ook anders gestel geword: Hoe verdraagsaam is mense teenoor mekaar en tot watter mate is hulle bereid om na mekaar om te sien? Vir ’n woonbuurt wat dikwels baie negatiewe publisiteit kry, is dit taamlik gewigtige identiteitsvrae.

Ná die opstand het enkele gesinne met geen ander heenkome nie die erg gebrande geboutjie betrek en dit begin restoureer.

Maar dalk moet die konteks waarbinne hierdie vrae gestel word, net eers verduidelik word. In 2018, toe dit kompleet begin lyk asof dié woonbuurt spesiaal met beurtkrag (vir langerige periodes) geteiken word, is die moeder van alle opstande ontketen. Ongelukkig het sake hier en daar handuit geruk met ernstige vandalisme en ’n aanval op die polisiestasie.

Een van die geboutjies wat in die slag gebly het – in een van die hoofstrate van die woonbuurt – is deur die munisipaliteit gebruik om vullisdromme en goed te berg. Ná die opstand in Eersterust het enkele gesinne met geen ander heenkome nie die erg gebrande geboutjie betrek en dit begin restoureer.

Met hierdie ontwikkeling kon ’n mens weer sien hoe hoog die vlak van verdraagsaamheid in die woonbuurt is, in teenstelling met die algemene persepsie. Onlangs het ’n inwoner uit Eersterust egter openlik begin vrae vra oor of hier nie ’n gevaarlike presedent geskep word wat uiteindelik heeltemal hand kan uitruk nie. Die reaksies op haar kommentaar in die sosiale media is uiters interessant.

Die waardes van die Godsryk

Nico Botha
Nico Botha

Daar is nie ’n enkele reaksie van iemand wat selfs verlangs haar mening deel nie. Indien dit nou nie te veel van ’n karikatuur is nie, kan die reaksies soos volg saamgevat word: Inwoners van die woonbuurt moenie net aan hulle eie belang dink nie, hulle moet ook na die belange van ander omsien; inwoners moet empatie hê met mekaar – en dié wat onderdak het moet ook aan ander dink. En inwoners moet veral in ag neem dat daar kinders – skoolgaande kinders – onder die enkele gesinne is wat in die geboutjie ingetrek het.

Maar die reaksies bly nie net by woorde nie. Een inwoner is byvoorbeeld bereid om bakstene wat hulself nie meer nodig het nie, beskikbaar te stel en nog ander het ook konkrete voorstelle gemaak oor hoe die situasie met die geboutjie verbeter kan word.

Daar is uiteraard ’n aantal onvermydelike kwessies soos of dit wettig is om sommer net ’n geboutjie te betrek of te “kraak” soos dit elders verstaan word. Daar is ook vrae oor basiese higiëne en gesondheid wat nie in die wind geslaan kan word nie.

Voorlopig is dit uiters verblydend dat dit lyk asof daar in ons samelewing en in ons woonbuurte nog begrip is vir die nood van ander, en ’n gewilligheid om empaties na ander se omstandighede te kyk en om ook nog binne konteks iets wesenlik daaraan te probeer doen.

Eersterust is ’n ongeneeslik godsdienstige plek waar ’n mens dikwels wonder oor die diepte van daardie godsdienstigheid en oor die egtheid van die geloof. Jy wonder of ons nie hier ook maar met ’n tipiese burgerlike geloof te make het waar die uiterlike vorme sterk aanwesig is, maar die innerlike diepte en ’n outentieke spiritualiteit ontbreek nie.

Die simpatieke reaksies op die nood van ander in die woonbuurt dui dalk wel daarop dat die waardes van die Godsryk – soos om vir mekaar om te gee – dieper deur die inwoners geïnternaliseer is as wat dit soms wil voorkom. Dit is ’n belangrike ligpuntjie en selfs meer as ’n grashalmpie om aan vas te hou vir hierdie jaar en die toekoms.

*Botha is emeritusprofessor in teologie aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nico Botha  |  Eersterust  |  Godsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.