Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Daar is plek in SA vir private universiteite

Suid-Afrika het plek vir private universiteite en sulke instellings kan die landskap van hoër onderwys aansienlik anders laat lyk, skryf Leslie van Rooi.

Suid-Afrika het nagenoeg 1,2 miljoen geregistreerde studente en het beslis nog universiteite nodig. Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Daar is tans meer as 1,2 miljoen studente by Suid-Afrikaanse universiteite geregistreer.

Die meerderheid van hierdie studente, meer as 1 miljoen is by een van 26 openbare universiteite geregistreer, terwyl byna 200 000 by private universiteite geregistreer is.

Gemeet aan die hoeveelheid kwalifiserende leerlinge met universiteitstoelating, internasionale tendense, en binnelandse (vaardigheids-)behoeftes, is dit egter duidelik dat daar beslis ruimte vir meer universiteite in Suid-Afrika is.

Die hoër onderwyssektor in Suid-Afrika word goed gereguleer. Een van die gevolge hiervan is dat ’n groot getal van ons instellings van die beste op die vasteland, en inderdaad in die wêreld, is.

Dit lyk veral asof private universiteite ’n sterker rol in die landskap van hoër onderwys sal speel. Hoewel getalle by private instellings tans baie laag is, is daar beduidende groei. Nuwe rolspelers betree die mark waarvan die nuwe multiversiteit, Stadio, dalk binnekort die mees beduidende rolspeler sal wees.

Maar dit sal lank duur voordat private instellings hul plek sal vol staan en veral vir hul kwalifikasies om internasionaal erken te word – selfs al word laasgenoemde merkbaar sterk deur persepsie gedryf.

Die hoër onderwyssektor in Suid-Afrika word goed gereguleer. Een van die gevolge hiervan is dat ’n groot getal van ons instellings van die beste op die vasteland, en inderdaad in die wêreld, is.

Die waardevoordeel vir ons studente is dat hul kwalifikasies regoor die wêreld gereken word. Dit is ook beduidend dat Suid-Afrika al hoe meer beskou word as ’n land waar studente van oor die wêreld heen hul voorgraadse en nagraadse studies kan voltooi.

Nuwe studierigtings sal bepalend wees

Prof. Johann de Vries voor die gebou in Hermanus wat as universiteit gebruik gaan word. Foto: Jaco Marais

Maar, sou private universiteite wel ’n sterk rol wil speel, is daar veral ’n paar dinge wat hulle aandag aan sal moet skenk.

’n Groot getal studente kwalifiseer om aan universiteite te studeer. Dus is daar ruimte vir aansienlik meer instellings, sonder dat universiteite werklik kwaai met mekaar moet begin meeding.

Mededinging sal waarskynlik net ter sprake kom waar dit gaan oor die werwing van topstudente.

Nuwe kampusse met nuwe simbole en boustyle kan ons land en gemeenskappe op ander maniere voed. Die “bagasie van die verlede” bestaan dus nie hier nie en bied juis nuwe moontlikhede.

Nuwe studierigtings sal bepalend wees. Nuwe private universiteite kan vanuit die staanspoor belê in programme wat die arbeidsmark van die toekoms kan voed.

Die data-rewolusie, biotegnologie en ’n goeie kombinasie met sosiale wetenskappe kan as bykomende fokusareas oorweeg word.

Dit is geen geheim dat Suid-Afrika deur ernstige vaardigheidstekorte in die gesig gestaar word nie. Om dit te help oplos, sal hierdie universiteite waarskynlik kursusse in nie-tradisionele vaardighede kan aanbied – moontlik selfs kursusse wat in die ou kolleges en ander naskoolse opleidingsinstellings aangebied is.

Nuwe metodes van leer en onderrig kan van die begin toegepas word, juis omdat nuwe instellings nie eers moet verander en aanpas nie. Veral goed befondste private instellings kan van meet af aan gemengde leer- en aanlyn- programme oorweeg. Hoewel hier aan regulasies voldoen sal moet word, kan dit ’n splinternuwe onderwysmark tot gevolg hê. Boonop kan dit juis tot ’n sterk fokus op die vasteland lei.

Nuwe kampusse met nuwe simbole en boustyle kan ons land en gemeenskappe op ander maniere voed. Die “bagasie van die verlede” bestaan dus nie hier nie en bied juis nuwe moontlikhede. Hiermee saam kan die instellings op vars, nuwe bestuurstyle fokus wat ander leerervaringe tot gevolg mag hê.

G’n plek meer vir ivoortorings

Die rol van die dosent in verhouding tot die student kan moontlik ook ’n sterker mentor-komponent aanneem, wat studente met ander vaardighede toerus wat in pas met groter wêreldtendense is.

Kennis van die samelewing-benadering is belangrik as instellings werklik ’n indruk op verskeie vlakke van ons gemeenskappe wil maak.

Nuwe instellings sal dit van die begin af moet verstaan – geen universiteit word meer ’n absolute ivoortoring-benadering gegun nie.

Leslie van Rooi

Dit is nie meer in pas met hoe ons leer, dink, leef en doen nie.

Maar dan moet die groter samelewing direk en indirek insae op die ervaring in die klas kan hê.

Juis hierdie aspekte sal komplementerend wees tot die groter hoër onderwyssektor.

Die internasionale landskap van dié sektor verander gedurig en hoewel universiteite soms traag is om verandering aan te gryp, gebeur dit tog. Dit is waarskynlik waar van al ons openbare universiteite.

Daar is dus nie sprake dat private universiteite, in getal en invloed, openbare universiteite sommer sal verbysteek nie.

Dit is egter opvallend dat ons vasteland met sy groeiende jong bevolking se behoefte aan onderwys by die dag groei.

Net die tyd sal bepaal of die staat in die verskillende lande aan groeiende behoeftes kan voorsien en of private universiteite, met basisse regoor die wêreld, hierdie ruimte sal inneem.

Ons sal dus moet sien watter plek die histories openbare universiteite op ons vasteland sal inneem. Dit geld ook Suid-Afrika.

Ons sal moet sien hoe die sektor verder groei en aanpas. Maar in dié stadium is daar egter genoeg ruimte vir openbare en private instellings van hoër onderwys om te groei.

Albei groeperinge moet nogtans verseker dat die onderwys in ons land steeds ’n invloed het en van ’n goeie gehalte is.

* Dr. Van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Leslie Van Rooi  |  Universiteite  |  Studente  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.