Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Daar is sekere dinge wat jy nooit vergeet
Johan van Wyk

Die menslike geheue is kort. Selfs gebeure wat so ’n indruk op jou gelaat het dat jy gedink het jy sal dit altyd onthou, vervaag algaande en skuif mettertyd so ver terug in die wasige newels van die verlede dat dit in vergetelheid kan verval.

Maar nie alles nie. Oomblikke wat ek nooit sal vergeet nie is hoe ’n perd wanneer jy ’n halfdonker stal se bo-deur oopstoot en die son vir ’n oomblik oor sy gladde, blink lyf speel, sy kop na jou kant toe draai, runnik en in jou hand snuffel vir ’n smaaklike happie soos ’n geelwortel wanneer jy nader staan om ’n saal oor sy rug te gooi, en sy fluweelsagte neusvleuels in jou nek druk as jy ’n toom oor sy kop trek.

Terloops, regte perdestalle het altyd ’n breë bo- en onderdeur. Nie om dowe neute nie. ’n Perd wat op stal staan, moet kan uitkyk, anders raak hy verveeld en befoeterd.

Selfs stadsmense wat eintlik niks van perde weet nie, sou al tonele gesien het van renperde wat, wanneer hulle nie aan halters by hul krippe vreet nie, soos ’n plaasmeisie in afwagting van haar vryer verlangend oor die onderdeure van die rye en rye stalle by renbane na die wye, oop velde staar, smagtend na vryheid.

Wat nie iets uit Disneyland is nie, was die wrede aanval deur gewetenlose mense op waardevolle, onskuldige perde.

Jy vergeet ook nooit hoe ’n perdestal ruik nie. Die sweefsel ammoniak (uit urine) in die lug, die soet graangeur van koringstrooi uitgesprei oor ’n klipvloer as kooigoed, en die reuk van swaar sederhoutdakbalke en -krippe (op ou plase van geelhout) met ysterringe vir halterrieme. En in die aangrensende tuiekamer die reuk van Dubbin waarmee saals op bokkies, en tome, trense, halters, swepe, karwatse en rieme aan hake teen die witgekalkte mure sag en soepel gehou is.

Ook nie die rak met roskamme, perdeborsels, hoeftange, hoefysters, hoefspykers en kannetjies geneesolie vir wonde, kloutjiesolie vir hoewe en Embrocation-smeermiddel vir seer spiere nie.

Nie net perde het daarby baat gevind nie. In die rugbyseisoen was die geur van Embrocation in my dae skerper in skool- en studentekoshuise as in perdestalle.

Nou is ons nog nie by die aambeeld en die blaasbalk om perde te kon beslaan nie, en hoe versorgend na perde omgesien is toe dit rygoed was en niemand hul waarde beter kon stel as die eertydse Britse eerste minister, Winston Churchill, nie. Oor perdry het hy gesê: “No hour in the saddle is lost . . .” Inderdaad.

Geslagte Afrikanerleiers kan dit onderskryf, van hulle verewig met ruiterbeelde, soos die van genl. Christiaan de Wet voor die Raadsaal in Bloemfontein en genl. Louis Botha voor die Uniegebou in Pretoria, wat nou glo afgebreek en na “temaparke”, die regering se eie sotlike Disneyland, verskuif gaan word.

Wat nie iets uit Disneyland is nie, was die wrede aanval deur gewetenlose mense op waardevolle, onskuldige perde, edele diere, by ’n wedrenbaan in Port Elizabeth. Daar was trane van woede, onmag en deernis in my oë.

Is Christus dan nie in ’n stal gebore nie?

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Herinneringe  |  Optog  |  Perde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.