Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Daar ís vrede te vind in tannie Joey se dorpie

Weet jy, ek kom staan elke­ middag 16:00 hierso by my hekkie.

Ek is al 17 jaar weduwee, en ek was nou die dag 83. Ek staan maar hier en kyk wat ek sien.

Dana Snyman

Ja-nee, jong, ek sal jou sê, die Here is vir my baie goed. Ek is al van ’62 af hier in die Vrystaat. Op Vrede. My oorle’ man was bestuurder by die koöperasie. Hy was Carel, ek is Joey.

Van Rensburg.

Ja, ons ou dorpie is maar verniel. Ek dink ons mense kry finansieel baie swaar vandat hierdie Covid-storie uitgebreek het.

Maar ek wil vir jou sê, die Here­ kon my nie ’n beter plek in die wêreld gegee het nie. Ek was 22 jaar skriba-kassiere hierbo by die kerk.

My man was seker ’n maand al dood, toe kry ek nog steeds ruikers en goed wat mense vir my bring.

Dan sê ek vir haar, ek loop nie alleen nie. Die Here loop saam met my. Sover as wat ek loop, bid ek.

Die skuld lê maar by ons munisipaliteit dat die strate en goed so agteruitgaan. Net vanmôre sê ek vir die vroutjie wat my kom oplaai vir biduur: Nou gooi hulle sand in daai slaggat, net twee voertuie wat vinnig daardeur ry, dan is die sand uit.

Ek het vir hulle gebid vanoggend, vir die munisipaliteit, en vir die Here gevra Hy moet asseblief hulle oë oopmaak.

Jy sien daai staander. Ons sit ons vullissakke daar bo-op. Nou die dag was hier twee groot varke met 13 kleintjies hier in die straat.

Nou kom die beeste en breek die sakke stukkend, dan lê al die vuilgoed op die sypaadjie, en jy moenie dink die munisipaliteit se mense tel dit op nie.

Ag, weet jy, ek wil nie baie krities wees nie, maar die ANC het nie daardie verantwoordelikheidsbesef wat ons gehad het nie.

Toe bel ek die munisipaliteit en sê kan ons nie ’n plan maak met die varke en beeste nie.

Weet jy, hulle sit net die foon eenvoudig in my oor neer.

Ek vertel vir hulle vanmôre by die Bybelstudie voor die Covid begin het, het ek altyd dorp toe geloop na die winkels toe. Dan sê my dogter: Mamma, jy is so oud en jy loop alleen, hulle gaan jou beursie gryp, hulle sal jou pootjie en jou laat val. Dan sê ek vir haar, ek loop nie alleen nie. Die Here loop saam met my. Sover as wat ek loop, bid ek.

Ons deure word nou vreeslik toegesluit met kettings en goed. Ek het nou die dag dit per ongeluk oopgelos. Die aand toe my dogter die honde kos gee, is die deur oop. Toe het ek natuurlik so ’n bietjie raas gekry.

Jong, hier is vyf honde. Hierdie een is Leila, daai een is Vlekkie. Die drie daar agter wat so blaf is die Great Danes: Pixie en Shasha – die ander een noem ons Seun, want hy luister nie na sy ander naam nie.

Eintlik kom ons goed klaar met mekaar hier.

Amos is my buurman. Ek stuur kort-kort vir hom ’n eetdingetjie.

Ek kan eerlikwaar sê ek het daardie vrede in my hart wat alle­ verstand te bowe gaan.

Meer oor:  Deurloop  |  Dana Snyman  |  Meningsberig  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.