Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Daar is wel die beginselvastes
Raymond Willemse

Integriteit is nou nie ’n eienskap waarmee jy oudpres. Jacob Zuma­ of voormalige ministers soos Des van Rooyen en Nomvula Mokonyane vereenselwig nie.

Daar is nog ’n horde meelopers in die ANC wat ook nie dié eienskap het nie. Tog is daar hier en daar die seldsame geval van ’n ANC-lid wat dié eienskap verpersoonlik. Verlede week het ons dit weer gesien toe dr. Makhosi Khoza, voormalige ANC-LP, voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatska­ping getuig het.

Khoza, deesdae KwaZulu-Natal se provinsiale voorsitter van ActionSA, is een van daardie min onafhanklike denkers wat die land bo ’n party stel.

As ANC-LP het sy destyds die party se volgehoue ondersteuning van Zuma ondanks die bewerings van staatska-ping bevraagteken. Volgens haar getuienis lyk dit selfs asof pres. Cyril Ramaphosa destyds Zuma beskerm het.

Hiervoor skuld Ramaphosa die land ’n verduideliking.

Anders as ander ANC-lede wat Zuma beskerm het, het Khoza vir die waarheid gestaan. Ander senior ANC-lede het eenheid in die party as ’n verskoning gebruik en só die land in die steek gelaat en versuim om hul grondwetlike plig na te kom.

Met haar optrede het Khoza bewys sy is iemand met integriteit en etiese en morele waardes. Dis eienskappe wat deesdae skaars is in die politieke arena.

Met haar verskyning voor die Zondo-kommissie het sy bewoë geraak oor hoe haar lewe en dié van haar kinders hel gemaak is omdat sy opgestaan het teen die politiek van begunstiging.

Khoza was uitgesproke in haar kritiek op Zuma toe sy in 2017 gesê het sy sal in ’n wantrouemosie teen Zuma stem. Dis ook sy wat aan Baleka Mbete, destydse speaker, geskryf het om te vra of die stemmery in die geheim kan plaasvind. Sy het op die ou einde nie die party se besluit – om Zuma te steun – uitgevoer nie, maar volgens haar gewete gestem. Hiermee is Khoza gebrandmerk as ’n moeilikheidmaker, ’n diva, ’n teenrevolusionêre en ongedissiplineerde lid van die party.

Met haar verskyning voor die Zondo-kommissie het sy bewoë geraak oor hoe haar lewe en dié van haar kinders hel gemaak is omdat sy opgestaan het teen die politiek van begunstiging. Daar is selfs volgens Khoza op haar geskiet.

Ten spyte daarvan het sy volhard en die land bo die party gestel. Vir haar standpunt is sy in die party gedemoveer en later het sy uit die ANC bedank.

Khoza staan darem nie heeltemal alleen nie. Andrew Feinstein het destyds daardie eensame pad van beginsel binne die regerende party gestap. Toe hy te diep begin krap en te veel vrae oor wapenaankope vra, is hy geïntimideer.

Hy het in 2001 as LP bedank uit protes teen sy party se hantering van die wapenskandaal – die einste saak waaroor Zuma op 23 Februarie in die hof op 16 aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery moet verskyn.

Wyle Ben Turok, ’n man met ’n formidabele intellek, is ook in die verlede deur die party getug omdat hy ’n onafhanklike perspektief gehandhaaf het. Hy het byvoorbeeld geweier om in die parlement vir die omstrede muilbandwet te stem.

In 2016, op ’n vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), is Derek Hanekom as moeilikheidmaker gebrandmerk. Dit omdat hy die moed van die oortuiging gehad het om ’n mosie van wantroue teen Zuma in te dien en hom te vra om van sy amp afstand te doen. Die NUK wou nie eens die kwessie bespreek nie en Zuma het Hanekom as minister afgedank.

Hoewel die ANC deurtrek is van lamsakkigheid, is daar wel lede met ’n morele kompas wat nie die party se lyn blindelings volg nie.

Hulle verdien erkenning omdat hulle die koue buite die party sal trotseer eerder as om hul integriteit prys te gee.

  • Willemse is ’n senior redaksielid van Beeld, susterkoerant van Volksblad.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.