Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Daar is wel nog ’n bietjie elektrisiteit . . .
Esté Gross

Dit is ’n vrolike kop, dink ek wrang toe ek Sondag Rapport se verdoemende hoofopskrif op die voorblad sien: “Nog kwaaier kragtekort kom.” Die byskrif lui: “Eskom se inhaalwerk agter skedule terwyl Johannesburg inplof.”

“Die inplof-deel klink veral nie goed nie . . .” sê ek tong in die kies, en maak dit met ’n flou grappie af en sê vir ’n vriendin: “Ek het lanklaas skadupoppe teen ’n muur gemaak. Ons sal moet oefen om duiwe in die donker met ons hande vlerke te gegee.”

Om te lag en die beste van die allerverskriklikste te maak, is ’n oorlewingsmeganisme wat Suid-Afrikaners saam met hul moedersmelk inkry. Dit is net so ’n noodsaaklike deel van jou opvoeding as om jou veters reg vas te kan maak, want met humor kan jy ’n steil heuwel lag-lag baasraak. Dit lyk asof die winter nogal ’n nostalgiese ervaring gaan wees. Stof die platespeler af en haal die batteryradio, Ouma se lappieskombers, die warmwatersak, die long johns en wessies solank uit die kas. Die luukse van ’n elektriese kombers gaan grootliks afhang van hoe barmhartig die beurtkragskedule lyk én wanneer die regering weer ’n Zoom-vergadering wil hou.

Daar is darem altyd ’n ligpunt, al moet jy dit deesdae met ’n slot en grendel vasmaak. Alle Suid-Afrikaners is immers ook goed daarmee om planne te beraam.

Laas nag het diewe by my ma se erf ingebreek en haar pers lendelam leer, wat sy vir die katte in die nag by haar kamervenster sit, 'geleen' om die buitekamer se sonpaneellig af te steel.

Laas nag het diewe by my ma se erf ingebreek en haar pers lendelam leer, wat sy vir die katte in die nag by haar kamervenster sit, “geleen” om die buitekamer se sonpaneellig af te steel. Die veiligheidsmense het hulle gelukkig betyds verjaag, maar Ma het reeds vir die volgende ronde ’n plan gemaak . . . Die buitelig se skroewe is nou met Pratley Putty toegeplak om die afhaal van die lig darem ’n bietjie moeiliker te maak. Die leer is nou, net soos die tuinstoele, vasgegrendel met ’n ketting en die buitekraan se koperkop is lankal vervang deur een van plastiek. Ek lag saam met my ma oor die foon oor dié belaglikheid, maar bid in die aande bekommerd vir haar veiligheid.

Geskenke koop is ook nou makliker. Vergeet van sjokolade. Grendeltyd het vir die meeste van ons mooi ronde wange gegee, ’n bewys dat die bevolking die taak van reserwes opbou veel ernstiger as Eskom opneem.

Ek gaan voortaan praktiese geskenke gee. Familie en vriende kan kopligte, kerse, ’n pakkie batterye of vuurhoutjies verwag. ’n Bottel gas is slegs vir gróót mylpale. Met dié dat watertekorte toeneem, dink ek papierborde en ’n bottel water is ook uiters bedagsame geskenke.

Met beurtkrag, selfs moontlik géén krag, wat aan ons deure klop, gaan ons definitief meer braai in die skraal winterwindjie, maar ventilasie is mos goed te midde van die pandemie. Hou die kitaar ingestem sodat ons almal nostalgies om die vuur kan saamsing.

Hoe gaan Laurika Rauch se treffer “Die gang” nou weer? “Vanmelee se dae in die lentetyd, was daar wel, ja wel ’n bietjie elektrisiteit.”

  • Esté Gross is ’n omroeper, joernalis en sangeres.
Meer oor:  Esté Gross  |  Elektrisiteit  |  Slegte Nuus  |  Diewe  |  Nuusberigte  |  Goeie Nuus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.