Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Daar leer jy ’n les by Boetatjie in die kroeg

Nóg ’n aand op die langpad. Nóg ’n vreemde dorp. Jy wil net rustig in die kroeg sit en jou whiskey drink en jou stukkende self en die sukkelende land in jou kop probeer aanmekaarsit.

Dana Snyman

Dan verskyn die twee langs jou by die toonbank: ’n jongerige man en ’n ouer vrou.

Hulle groet die kroegmeisie op die naam, dan sê die vrou: “Maak dit ’n Savanna vir my, lovey­. En ’n Coke vir hom.” Sy sit ’n noot op die toonbank neer.

“En gee sommer vir jou tante ’n paar tweerande ook.”

Al ander mense in die kroeg is twee ouens by die pooltafel. Die kroegmeisie gaan druk die geldkas se knoppies, bring die kleingeld en gaan haal ’n botteltjie Savanna­ en ’n blikkie Coke uit die koelkas.

“Hierso.” Die vrou gee ’n R2-munt vir die jong man.

Jou beurt eerste. Mis.

Iets is vreemd aan hom, merk jy. Sy vaal bos hare laat hom ouer lyk as wat hy is, en toe hy na die pooltafel stap met die R2-munt in die hand, sleep hy sy voete oor die vloer. Amper verskonend sit hy die muntstuk op die tafel se rant neer.

“Jammer, pel, nie vanaand nie,” sê een van die ouens by die tafel.

Stil kom die jong man teruggestap met sy strompel-stappie. “Hulle wil nie, Ma,” sê hy vir die vrou, effe te hard, asof die woorde uit sy maag uit kom. Oor die luidsprekers speel die een of ander danstreffer en iewers blaf ’n hond.

Kort daarna is die twee ouens by die pooltafel klaar gespeel. “Tjeers, julle!” roep hulle en verdwyn in die donker.

“Wil Oom nie saam met my kom speel nie?” vra daardie harde stem opeens langs jou.

Jy kan nie juis pool speel nie. Jy voel simpel met ’n poolstok in die hand.

“Ek’s Boetatjie.” Hy wys na die vrou. “En die’s my ma.”

Jy mompel iets van jy het nie ’n stok nie, maar Boetatjie wys na waar ’n paar stokke teen die muur leun.

“Hy’s mal oor pool, meneer,” sê die vrou en kyk af grond toe.

Dit word ’n lang pot: Voor elke skoot stap Boetatjie eers na die gat waarheen hy mik en bekyk dit van naby, asof hy wil seker maak dis daar. Maar twee van sy balle is al gesink, toe lê al joune nog op die tafel.

Jy word stil kwaad, jy wil net ’n vreedsame whiskey drink, nou verloor jy teen hierdie mannetjie, nes jy teen al die bedelaars verloor het wat jy vandag teëgekom het. Jy sprei jou vingers wyer op die tafel oop en stamp die stok harder oor jou gekromde duim vorentoe.

Dan gebeur dit ook so: Net die swart bal bly oor. Jou beurt eerste. Mis.

Boetatjie gaan buk weer oor die gat waarvoor hy mik. “Konsentreer nou mooi, my kind,” kom sy ma se stem van die toonbank af terwyl hy aanlê. Dis in!

Hy gee ’n lomp sprongetjie en pomp sy vuis in die lug. “Oukei, ou maat,” hoor jy jouself sê. “Dis nie Wimbledon nie.”

Boetatjie kom staan voor jou. “Ek het net 51% sig, Oom” sê hy en beduie na sy bleek, blou oë. “Dit is wat dit is.”

Meer oor:  Deurloop  |  Dana Snyman  |  Meningsberig  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.