Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Daar trap ek in die valletjie van ’n dapper muis
Emile Joubert

Van die Paashaas was daar geen teken nie, wel ’n muis wat ongenooid opgedaag het. Nie een van daardie veldkleur-strepies­gediertes nie, maar ’n propperse huismuis. Piepklein, grys-gejas met ’n sigbare snorbaard en papierdun, deurskynende bakoortjies. Een van daardie teksboek-huismuise so reg uit ’n boek kinderrympies of ’n Tom and Jerry-tekenprent.

Met ’n vol woonarea voor hom, sit hy toe doodluiters op die kombuisvloer en bekyk die gesels, kuier en mondbewegings van die menslike spesie. Was my kontaklense nie skoon nie, sou ek die be-oorde spikkel misgekyk het. Toe ek dus, soos ’n boerseun drie geslagte van die plaas verwyder betaam, ’n verdwaalde muurbalraket optel om die muis mooi te laat verstaan wie baas is in dié plek, word die diertjie deur die res van die geselskap opgemerk.

Ondanks die verbaasde gesigsuitdrukkings en die nadersluipende lummel met die raket in sy hand en moord in sy oë, bly die ding net daar sit. Op sy agterpootjies nogal, linkerbakoor wat wikkel uit nuuskierigheid of uitdaging, maar beslis nie uit vrees nie.

Dapper mag dié muis wees, maar nie in hierdie huis nie. Ek mik die raket nog so vir ’n lewens-verkortende kishou, toe loop ek my in ’n klankmuur van verontwaardiging vas, die meerderheid jong vroue in hul 20’s.

Die muis besef instinktief my fokus, konsentrasie en bloedlus is verswak deur die skril gille.

Die muis besef instinktief my fokus, konsentrasie en bloedlus is verswak deur die skril gille.

Terug op sy vier pote skarrel hy koponderstebo oor die vloer, doer agter die yskas in.

Toe begin die kruisverhoor. Met as hooftema die vraag oor of dit my doel was om die gedierte, wel, dood te maak. My antwoord was tot die positief. Maar dat die doodshou vinnig, pynloos en verdiend sou wees.

Die gehoor had toe ’n probleem met laasgenoemde. ’n Nabye familielid (bloedverwant) van 25 vertel hoe teleurgesteld sy is, aangesien die man waarna sy haar hele lewe opkyk haar twee dekades terug mooi laat verstaan het dat hy – einste ek – nooit eens ’n muis sal seermaak nie. ’n Ander vrou, verknog aan moderne media­neigings, skryf wraggies my doodswens vir die muis toe aan “toksiese manlikheid”. Met dié sweer ek het ek daardie muis vanuit agter die yskas hoor lag terwyl hy sy snorbaard met die voorpote skeer.

Ek besluit om ’n meer modieuse houding in te neem en vra of ons dan die saak van die muis in die huis met meer inklusiwiteit kan benader. Die bewering is, hoe kan inklusiwiteit geprakseer word as die donnerse muis nie betrokke is by die gesprek oor sy lot nie. Gif kan ek nie gee nie, want dan hol hy uit op soek na water en vergiftig die oortjiesuil wat nou al ’n volle jaar in die avokadoboom sit sonder om ’n stuk knaagprooi uit die huis te sien hardloop. Valletjies is, wel, ek gril vir die gedagte om ’n koue vrek muis uit die staalkloue te moet wikkel.

Net toe draai alle oë om my terug na die kombuis. Daar wraggies, sit die outjie weer, ore wyd gespits aan’t luister oor hoe sy lot bespreek word.

My berg argumente het, wraggies, ’n muis gebaar.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.