Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Daardie doilies kon nie skoner nie
Dr. D.F. Malan (links), sy tweede vrou, Maria, en genl. Jan Smuts. Die foto is 1948 geneem. Foto: Wikipedia.

Hennie van Deventer, Volksblad-oudredakteur, skryf oor “formidabele” vroue na aanleiding van die boek Die eggenotes agter die Afrikaner politieke leiers deur prof. Ockie Geyser.

Tant Sina Roux, my skoonma se suster, was die robuuste lid van die familie – onder andere die eerste vrou wat op Bultfontein gewaag het om ’n langbroek aan te trek en ’n “rooilissie” wat in die Tweede Wêreldoorlog weermagvragmo-tors bestuur het. Sy het in ’n stadium vrou-alleen geboer en in ’n ander sta­dium “perde gespeel” of as heeltydse hengelaar by Umkomaas ’n lewendige vishandel bedryf.

As tronkbewaarder het sy van die gevaarlikste vrouemisdadigers opgepas, soos die gifmoordenares Daisy de Melker. Sy was ook aan die stuur van die Sentrale Gevangenis in Pretoria se wasafdeling.

Dit is in laasgenoemde hoedanigheid dat sy my die wasdag-geheimpie van presidentsvrou Marga Diederichs se delikate tee-doilies in die oor gefluister het.

Dr. Nic Diederichs, voorheen minister van finansies, ook bekend as “Mnr. Goud”, was van 19 April 1975 tot met sy dood op 21 Augustus 1978 die staatspresident. Mev. Marga was bekend as ’n buitengewoon formidabele, soms taamlik omgekrapte, teenwoordigheid aan die president se sy.

Oor haar fyntjiese tee-doilies wat vir vername tee-gaste by die staatspresidentwoning, Libertas in Bryntirion, uitgehaal is, was sy uiters begaan.

Wat die edele dame ontstel het, is haar periodieke verliese aan van die spoggerige lappies.

Die doilies is saam met ander ministeriële wasgoed uit Bryntirion deur vroue in tronkuniforms se hande. Wat die edele dame ontstel het, is haar periodieke verliese aan van die spoggerige lappies.

Ondersoek bring toe aan die lig dat dit helaas by geleentheid in die dik afvoerpype van die tronk se yslike wastrôe beland. Tant Sina moes dit dan namens haar span ontgeld. Ná vele berispings en roskamme kry sy ’n blink plan. “Bring julle piepiepotte saam,” word die vroue opdrag gegee.

Van toe af is die doilies apart gewas in die kose van onder die beddens in die tronkselle, sonder verdere risiko – en mev. Marga is tevrede gestel, totaal onbewus van die roete wat die spierwit, silwerskoon doilies gevolg het tot in die pierings van haar waarderende gaste.

Die doiliestorie kom by my op by die lees van ’n resensie in die Volksblad oor die boek Die eggenotes agter die Afrikaner politieke leiers deur Ockert Geyser, voorheen geskiedenisprofessor en hoof van die Instituut vir Eietydse Geskiedenis aan die Vrystaatse Universiteit. Die boek het by Naledi verskyn. (Ek sien prof. Ockie skryf van Margo Diederichs maar ek het haar as Marga geken.)

Mev. Maria Malan, tweede eggenote van dr. D.F. Malan wat in 1948 premier geword het (en 31 jaar jonger as hy was), kon ook omgekrap raak. Geyser noem haar, amper eufemisties, “nie ’n maklike mens nie”.

Sy had ’n hekel aan koerantfotograwe wat taks om taks daarin geslaag het om haar met toe oë af te neem. Volgens haar was hulle “onbeholpe”.

Seker dié dat Die Burger ’n motor vol senior redakteurs so vinnig Groote Schuur toe gestuur het om te gaan ekskuus vra oor ’n “ligte mistykie” in die koerant ná die egpaar se eerste ampsreis na die buiteland in 1949. Die reis het Parys ingesluit.

Dr. Nic Diederichs, voormalige minister van finansies en latere staatspresident, en sy vrou, Marga, in 1961. As sy maar net geweet het hoe haar fyn tee-doilies vir vername gaste by die staatspresidentswoning gewas is . . .

Oorsese reise was in die 1940’s nog ver van doodgewoon en die koerante se gebruik was om ná elke reis van ’n bekende ’n onderhoud oor sy of haar indrukke van die vreemde te gaan voer.

Ook mev. Malan is om ’n onderhoud genader. Sy word toe gevra wat sy van die modes in die mode-hoofstad Parys gedink het.

Mev. Malan se antwoord was saaklik: Sy het nie juis na die modes opgelet nie. Sy stel nie eintlik belang in modes nie, want sy het so grootgeword.

’n Oorywerige subredakteur verander toe die “grootgeword” in “groot geword” (twee woorde). Die puntenerige hoofsubredakteur lees die geredigeerde berig en plaas toe ook sy stempel daarop. Hy verander die “groot geword” tot “geset geword”.

Volgens koerant-oorleweringe was sy nie geamuseerd nie, maar sy het darem die verskoning (plus ’n duur ruiker) aanvaar.

Volksblad het op sy beurt ’n potjie met mev. Mabel Jansen, eggenote van die laaste goewerneur-generaal, dr. E.G. Jansen, geloop. Sy had ’n hekel aan koerantfotograwe wat taks om taks daarin geslaag het om haar met toe oë af te neem. Volgens haar was hulle “onbeholpe”.

Hugo Dreyer, my eerste baas, was nog nuusredakteur, toe op ’n ampsbesoek aan Bloemfontein ná die een of ander swierige sosiale geleentheid weer so ’n gewraakte foto op sy lessenaar beland. Die stomme man was moedeloos en ongeneë om weer onder die vlymskerp tong van mev. Mabel deur te loop.

Maar, o wee. Nie lank daarna nie, hier daag sy onder motorfietsbegeleiding in Voortrekkerstraat op.

Hy gee toe die fotograaf opdrag om die foto met sy retoesjeerkwassies te toor. Die koerant verskyn en op die foto is mev. Mabel se oë so groot oop soos dié van ’n lappop.

Maar, o wee. Nie lank daarna nie, hier daag sy onder motorfietsbegeleiding in Voortrekkerstraat op.

Sy wil ses van daardie pragtige foto’s bestel en sommer die knap fotograaf ook ’n kloppie op die skouer gee.

Die nuusredakteur het die omvang van sy penarie nie onderskat nie. Hy speel toe vir tyd. “Al te seker, mevrou, laat ek net gou gaan seker maak of die negatief nog beskikbaar is.” Sy was verpletterd toe hy boetvaardig moes rapporteer: “Jammer, mevrou, spyt my om die nuus oor te dra maar daardie negatief is skoonveld!”

Een van die formidabele vroue van oudsher, mev. Christa van Rensburg, eggenote van oom Basie van Rensburg, Vrystaatse leier van die Nasionale Party ’n paar dekades gelede, het onlangs haar 95ste verjaardag gevier. Wat ’n dame! Van haar vele bates is ’n helder verstand, ’n vonkelende humorsin en ’n sak vol kostelike anekdotes.

Sy het eenkeer op ’n Nasionale Party-feesgeleentheid vertel van die grapjas-minister van landbou Hendrik Schoeman wat ná ’n besoek aan Orania oor sy indrukke uitgevra is. “Daar gaan ook maar bokkerol aan,” was sy antwoord. “Die enigste prostituut daar is nog ’n virgin.”

Meer oor:  Hennie Van Deventer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.