Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Daardie snydende klankie in die stem . . .

hoon s.nw. Met hoon bejeën, beledig of bespot. Daad of houding waardeur iemand se waardigheid of eer gekrenk word. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Die rolprent Inxeba (Die wond) is ’n plaaslike produksie oor ’n inisiasieskool, besnydingsrituele, seksualiteit en manlikheid. Dit daag argaïese taboes uit.

Onder die dekmantel van “ons kultuur se geheime word nou in die openbaar ten toon gestel” word ’n ongekende vlaag homofobie ontketen by mense wat nog nie eens die fliek gesien het nie.

Die rede? Daar is ’n liefdesvlam wat tussen twee van die jong mans ontvou, juis in ’n milieu waar die pynlike afsny van ’n stuk vel jou pad oopmaak na die wêreld van ’n viriele mán. Dit kan egter ook oorhel na verwurgende machismo, chauvinisme en rigiede idees van wat manlikheid behels.

Die naam, Die wond, word dan op vele weerlose vlakke blootgelê: Tussen die bene (ook metafories), in die psige van individue wat nie hierby inpas nie, asook soos ’n mes in ’n gemeenskap se hart wat hierdie seremonie as uiters heilig beskou.

Mans toon gereeld homofobiese aggressie in die teenwoordigheid van ander mans, ook in gemoedelike gesprekke onder mekaar.

In sy blog “Queer Consciousness: Re-imagining Queer Life in South Africa and Beyond”, skryf Lwando Scott, ’n doktorale kandidaat in sosiologie aan die Universiteit van Kaapstad, ’n stuk oor sy eie ervaring: “Die ‘I am a man’-toneel het my baie aan myself herinner.

“Toe ek na die inisiasieskool gegaan het, het geen van die ander jong mans wat saam met my daar was my geken nie. Ek is in ‘die wêreld van die man’ gewerp, ’n plek waarvan ek nooit eintlik deel was nie. Nie soos die ander mans nie.

“In baie opsigte is ek steeds nie deel van daardie realiteit nie. Ek is terdeë bewus van die gewelddadige gay-haat en vrees waaraan jy onderwerp kan word wanneer jy ’n queer tussen ander mans is.

“Mans toon gereeld homofobiese aggressie in die teenwoordigheid van ander mans (waar daar kameraderie en solidariteit bestaan), ook in gemoedelike gesprekke onder mekaar.

“Toe ek op die berg aankom, het ek besef om te oorleef sou ek deurskynend moet raak, amper soos ’n muurblom. Die probleem is, my persoonlikheid is nie dié van ’n randaster nie!

“Ek het besluit om so min as moontlik te sê, baie tyd in my eie geselskap deur te bring en enige gesprekke te vermy wat my kon ‘out’. (Die polisiëring dus van die self, omdat jy nie aan die samelewing se idee van manlikheid voldoen nie. Jy moet gevolglik jou plek ken.)

“Dit was eers op die tweede dag toe ek agterkom my plan om nie uit die kas te val nie, is besig om te misluk. ’n Ander inisiasielid het my gespot en die manier waarop ek ná besnyding die frase ‘I am a man’ gesê het, tergend nageaap. My verwyfde stem het my verraai. Nou is my meisieagtige intonasie gebruik om my met hoon te bejeën.

“Die aggressie en skaamte wat ek op daardie oomblik gevoel het, wel steeds in my op. En dit was oor ’n dekade gelede.”

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.