Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dae vlieg verby soos slakke op langverlof
Blouwillem Theron

En dit was oggend en dit was middag en dit was aand en dit was vroegoggend en dit was laatoggend en dit was vroegmiddag en dit was laatmiddag en dit was vroegaand en dit was laataand en is dit nou genadiglik vroegoggend op dag elf.

Die dae vlieg soos slakke op langverlof verby en op dag 11 dui die jongste beskikbare data daarop dat die gemiddelde aantal pitte in ’n bloedrooi plaasgranaat 937 is en nie 952 soos voorheen deur die president aangekondig nie.

Dít na aanleiding van onverpoosde, nuwe navorsing van granaatkenners soos Joggie, Frikka, Fransjohan en ouboet Tom, hoewel, bygesê, die Kiepersol-studiegroep beswaar aangeteken het teen Joggie se syfers.

Volgens hulle kan dié oud-Bok nie doeltreffend granaatpitte tel nie omdat sy vingers kwansuis te dik is (in sý grote kloue lyk selfs piesangs soos kroeg-peanuts, beweer hulle ewe pittig). Maar pitte nou eers daar gelaat.

Met die stilte wat so geruisloos op ons almal neergedaal het, dink ek baie oggende hier op die voorstoep aan jare gelede toe die kinders klein was en my bankrekening effens groter, toe ons laatmiddag daar deuskant Cradock by die Bergkwagga-park by ’n toe ontvangs opgedaag het en toe sonder plan staan en uitstaar het oor die oneindigheid van die Karoo daar ver onder ons. Die stilte was ewe oneindig.

Tot Ousus (stadskind en toe sewe) vra: “Pappa, wat is so stil hier?”

Nou, meer as 30 jaar later, dieselfde soort stilte, net sonder die uitsig en die bergkwaggas.

Nou, meer as 30 jaar later, dieselfde soort stilte, net sonder die uitsig en die bergkwaggas. Dié slag in die hartjie van die Jakarandastad die mens en nie die bergkwagga nie wat uitwissing in die gesig staar (of hopelik net uitdunning). En terwyl ek so daar net ná sonsopkoms met my eie gedagtes en my derde koffietjie sit, dink ek aan alles wat ek die laaste 11 dae bygeleer het (dis nou behalwe van die granate en by my liewe vroutjie).

Byvoorbeeld dat ’n mens al jou beste vleis eerste opeet; dat die verveelde huishonde in die buurt nie meer blaf nie omdat die staphonde gehok is wat hul altyd getart het; dat die veiligheids- en polisievoertuie patrolleer dat die biesies bewe noudat daar nie meer diewens hier is nie; dat die asblik wat ek Dinsdae uitsit (terloops, my week se laagste hoogtepunt), voller is as ooit; dat tot die vlieë huis toe is; dat dit net so lekker is om ou kleurskyfies teen ’n laken te kyk as netnetflieks, en dat ek nooit moeg raak om te kyk hoe die Bokke die Ingelse in 2007 met 36-0 opgefoeter het nie. Vroutjie wel.

En dan natuurlik hierdie week se heuglike opskrif: “Kerk spits hom nou toe op kernsake, sinodesitting oor gays uitgestel.”

Kernsake soos die kennisgewing in Kroonstad se kerkblaadjie jare gelede: “Hierdie week se gesprekstema is: ‘Hoe kom ek in die hemel? Die bussie vertrek sesuur van Huis Silwerkroon se voordeur af.’ ” Ja, broers, kernsake, asseblief! Nou én na die virus!

Meer oor:  Blouwillem  |  Inperking  |  Stilte  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.