Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Dag Zero’ vir salarisse dreig

Die regering bly een van die grootste werkgewers in Suid-Afrika. Wat gebeur as die salarisse van sy werknemers, insluitend dié by staatsondernemings, nie meer betaal kan word nie?

Die 47 nasionale departemente het in die 2015-’16-boekjaar R137 miljard aan salarisse bestee, met die kantoor van die hoofregter, die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, die parlement, die departement van samewerkende regering en tradisionele sake en die departement van openbare werke as die topvyf-salarisbetalers.

Alida Kok
Alida Kok

Provinsiale departemente het in 2016-’17 R311 miljard aan salarisse bestee. Salarisuitgawes het van 2015-’16 tot 2016-’17 met R22,8 miljard toegeneem.

Wat munisipaliteite betref, was salarisse in 2014-’15 op R73 miljard die grootste uitgawe in munisipale begrotings, volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA).

Suid-Afrika het ook 131 staatsondernemings waarvan baie bankrot of wanfunksioneel is en nie salarisse of rekeninge kan betaal nie. Staatsondernemings het ’n geldbron geword vir uitgebreide netwerke van patronaatskap. Eskom en die SAL is die bekende voorbeelde in dié verband.

In die afgelope week, met die naderende einde van die maand, het ’n “Dag Zero” vir salaristrekkers in Vrystaatse munisipaliteite, die SAUK en Denel gedreig.

In die Vrystaat het Gadija Brown, nuutaangestelde LUR vir finansies, aan die media gesê dat die ineenstorting van dienste en munisipaliteite se gebrek aan inkomste-invordering twee van die provinsie se grootste knelpunte is.

Verskeie munisipaliteite daar is in ’n geldelike verknorsing en skuld boonop gesamentlik meer as R10 miljard vir water en meer as R8 miljard aan Eskom, en die provinsiale regering moes ingryp om te verseker dat vandeesmaand se salarisse wel betaal word.

Die SSA het ook vandeesmaand gesê die skuld aan munisipaliteite beloop R72,4 miljard.

Die SAUK, wat vier TV-kanale en 18 radiostasies bedryf, het die tesourie om ’n reddingsboei van R3,2 miljard gevra. In Mei het die voorsitter van die direksie volgens Sunday Times gesê die SAUK moes in Mei kies of munisipale rekeninge of salarisse betaal sou word. Daar is op salarisse besluit.

Vandeesmaand het die SAUK die regering ’n staatswaarborg gevra om uitgawes te dek en salarisse kon slegs betaal word ná ’n kontantinspuiting van die tesourie. Intussen skuld die SAUK die Johannesburg-metro meer as R13,5 miljoen, Sentech R317 miljoen en SuperSport R208 miljoen.

Die likiditeitsprobleme by Denel het vandeesmaand internasionaal aandag getrek oor die berigte dat personeel nie hul volle salarisse vir Junie sou ontvang nie. Daar is eers later aangekondig dat ’n lener vorendag gekom het en werknemers die res van hul salarisse môre sal ontvang.

Wat is die impak van ’n naderende “Dag Zero” vir salarisse in die openbare sektor op ons politiek en die regerende party se ideologie? Die skade wat staatskaping en wanbestuur in die openbare sektor aangerig het, is so groot dat die regering nie ’n groot genoeg reddingsboei kan gee om herstel moontlik te maak nie.

  • Ons sal nou sien hoe veral provinsiale departemente selfs nóg minder geld aan infrastruktuur bestee om sodoende wanhopige krisisbestuur te doen en salarisse te betaal. Dit bied ’n geleentheid vir die privatisering van infrastruktuur in provinsies. Die regering sal gedwing word om niestaatrolspelers tot die openbare sektor toe te laat.
Meer oor:  Werknemers  |  Salarisse  |  Betaling  |  Regering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.