Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dalk is dit nie klanke wat abnormaal is nie . . .
Heinz Mödler

Ons het almal só ’n kind in ons klas gehad – die kind wat deur sy neus asemhaal.

Só hard dat dit jou grensloos geïrriteer het. Jy kon nie konsentreer nie, want al wat jy hoor, is die kind se gesnorkery.

Dalk het die stomme kind vergrote mangels en/of adenoïede gehad. Of dalk was die kind allergies vir stuifmeel – die swelling van die slymvliese is genoeg om lugvloei sodanig te belemmer dat dit jou oneindige verdriet veroorsaak.

Maar dalk ly jý aan misofonie en was dit nie eintlik die kind se gesnorkery wat die probleem is nie. Die ander kinders hoor dit tog ook en gaan onversteurd aan met hulle skoolwerk sonder om ’n oog te knip.

Misofonie is ’n oormatige reaksie op geluide wat veronderstel is om nie só ’n uitermatige reaksie uit te lok nie. Hierdie toestand is redelik algemeen en daar word geskat dat omtrent 20% van die bevolking ’n lae drempelwaarde het wanneer dit kom by klanke wat pla.

Dokters beweer misofonie-lyers se probleme begin reeds by die huis – by ’n pa wat hard kou of ’n kraan wat gedurig drup.

Dokters beweer misofonie-lyers se probleme begin reeds by die huis – by ’n pa wat hard kou of ’n kraan wat gedurig drup.

Teen die tyd wanneer die kind skool toe gaan, is die limbiese sisteem alreeds só gesensitiseer dat enige geluid wat herhaaldelik plaasvind, tot totale entropie lei.

Hierdie geluide kan afkomstig wees vanaf ’n spesifieke individu, soos die snorkende kind, of vanuit die omgewing (die gesuis van neonligte), of selfs geluide in die algemeen (honde wat blaf of babas wat huil, veral op vliegtuie).

Hierdie klanke is nie abnormaal nie, maar jou reaksie is. Jou limbiese sisteem haak behoorlik uit wanneer die geluid gehoor word en stimuleer jou outonome senuweestelsel op ’n soortgelyke manier as wat adrenalien doen wanneer jy in nood is.

Skanderings van mense wat aan misofonie ly, bevestig verhoogde aktiwiteit in die limbiese sisteem en die anterior insulêre korteks van die brein.

Hierdie areas is gemoeid met die hantering van emosionele skommelinge en poog om eksterne stimuli, soos klanke, vir die brein aanvaarbaar te maak. Wanneer daar probleme opduik tydens die integrasie van hierdie geluide in die brein, volg misofonie.

Misofonie word nog nie as ’n onafhanklike psigiatriese toestand beskryf nie, maar dit sal weldra gebeur.

Misofonie word nog nie in die DSM, psigiaters se diagnostiese handleiding, as ’n onafhanklike psigiatriese toestand beskryf nie, maar dit sal weldra gebeur.

Tans word misofonie nog beskou as ’n bykomende faset wat die lewens van persone wat byvoorbeeld obsessief-kompulsief is of sukkel met angstigheid, vertroebel.

Die maklikste manier om misofonie te behandel is om die geluide te vermy. Die kind wat snork kan skuif, maar ongelukkig kan nie alle blaffende honde uitgesit word nie, en ook kan nie al die neonligte afgeskakel word nie.

Kognitiewe gedragsterapie (KGT), of psigoterapie, is die antwoord. Meeste mense vind baie baat deur hulp by sielkundiges te soek en te leer hoe om jouself teen irriterende klanke te staal.

Terwyl jy jou drempelwaarde met KGT probeer verhoog, is dit in elk geval nie ’n slegte idee om die snorkende kind tog maar na die oor-neus-en-keel-arts toe te neem nie.

Dalk het die snorkende kind ook ’n probleem.

  • Dr. Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Meer oor:  Gesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.