Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dan eerder ’n vloedjaar as weer droogte
Ivor Price

Hulle sit op die voorstoep en tuur die verte in.

“As dit maar net weer gereeld kan ­reën, my lief,” sug hy.

“Alles op Sy tyd,” kom haar antwoord oomblikke later.

Die mielies staan lekker hoog ná die onlangse goeie reën. Hulle het dit regtig nie sien kom nie. Die een oomblik het hulle nog oor die telefoon met die versekering gestoei en die volgende dag het die geluid van reëndruppels teen die rooidakskuur hulle wakker gemaak.

Multi-risiko-oesversekering. Dit is wat die makelaar die bloedgeld noem wat klokslag op die 25ste van elke maand van die boer se bankrekening afgaan.

Dit is versekering wat boere soos hy teen die ongenaakbare droogte moet beskerm, hoewel dit maar altyd ’n opwaartse stryd met die versekeringsmense is.

Swaarkry en ellende is skynbaar nie genoeg rede om uit te betaal nie. Eers word daar somme gemaak oor die boer se geskiedkundige opbrengs, en as die geluk aan sy kant is, word die verskil tussen die waarborgopbrengs en die gestroopte opbrengs as ’n eis uitbetaal.

Die landerye strek vir die eerste keer in maande reg rondom die koppie – en die mielies staan hoog, hoor. Dit is minstens 1,8 m hoog. Hoog genoeg om weer te kan glo dat gebed krag dra; om te kan glo dat die onmoontlike dalk tog moontlik is.

“Die mielies groei so jy kan dit amper hoor,” sê hy, kinderlik opgewonde.

Sy antwoord nie. Sy kyk net vorentoe, en dink aan al die gaatjies wat nog toegestop moet word. Vroeër jare het die plaas gewemel van die mense.

Oor die droogte is hulle egter stuk-stuk laat gaan en nou is dit net hulle en ’n handvol plaaswerkers oor. ’n Gesin wat al 33 jaar die pad met hulle stap.

“Dink jy hierdie gaan ’n vloedjaar wees?” ­probeer hy weer.

Sy staan sonder om ’n woord te sê op om hul koffiebekers vol te gaan maak. Die houtvloer kraak onder haar voete, en wanneer sy terugkom, skuif sy langs hom op die bank in waar hulle nou na die sonsak kyk.

“Hulle praat van elke 21 jaar, my lief. Ons is nou in die 21ste jaar,” sê hy.

Oplaas skraap sy die moed bymekaar om haar man te antwoord.

Sy sê die gedagte aan ’n vloedjaar is vir haar wreed, maar sy hoop tog so. Vir hulle onthalwe. Vir die kinders en die werkers s’n ook. Die damme is plek-plek vol, maar as dit nie gereeld reën nie, is hulle kort voor lank weer in dieselfde posisie.

In die vorige vloedjaar het die dam naderhand soos ’n kat teen ’n boom begin uitklim. Daar was baie skade, ja, en nie alles was versekerbaar nie. Maar dit hét gereën en die reën was vir hulle nog altyd simbolies van die ­hemelse seëninge.

Price twiet by @ivorprice.

Meer oor:  Droogte  |  Plaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.