Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dán wag nog baie Marikanas

Die naam Wonderkop het ’n poëtiese klank.

Soos Rivierplaas, Welgevonden en Arbeidsgenot wil-wil dit ’n storie oproep. In dié geval sekerlik ’n verhaal van verwondering en van nuwe lewe.

Maar op 16 Augustus 2012 was dit by hierdie heuwel op die plaas Rooikoppies – wat later die naam Marikana sou dra – allesbehalwe die geval.

Die bekende beeld van Mgcineni Noki, die man in die groen kombers, vertel ’n ander storie. Of stories, eerder, want oor Noki, wat vanweë sy sokkervernuf die bynaam Mambush gekry het, word daar botsende verhale gespin.

Vir die polisie en vir regter Ian Farlam, wat voorgesit het in die kommissie van ondersoek na die gebeure van dié tweede Sharpeville, was Noki ’n moeilikheidmaker en kwaadstoker.

Vir sy familie en vir dié na wie se belange hy omgesien het, was Mambush ’n inspirerende leier en ’n vredemaker.

Vir sy familie en vir dié na wie se belange hy omgesien het, was Mambush ’n inspirerende leier en ’n vredemaker.

Hoe ook al, sy groen kombers is nie maar net ’n kombers nie.

Nes die betekenis van die individu Noki derhalwe onseker en vloeibaar is, blyk dit met die Marikana-slagting self ook die geval te wees. Dís een van die sentrale motiewe van die boek Marikana Unresolved, wat pas onder die redakteurskap van Mia Swart en Ylva Rodny-Gumede by UCT Press verskyn het.

Soos die ondertitel (The massacre, culpability and consequences) suggereer, word in dié bundel essays die steeds onvolledig gekarteerde gevolge van die slagting en, moeiliker nog, die aandadigheid van die rolspelers, bekyk. Dis ook nie sonder rede nie dat pres. Cyril Ramaphosa, toe ’n nie-uitvoerende direkteur van Lonmin, die myn in die oog van daardie tyd se storm, deur Conrad Botes se loep suggestief op die voorplat pryk. In die aanloop tot die slagting – toe die staking wat dit vooruitgeloop het breekslag toe gekantel het – het hý omstrede e-pos afgestuur waarin hy ’n hardhandige reaksie blyk te onderskryf. Wrang ironies uit die pen van ’n vuurvreter-vakbondleier van weleer.

Eweneens was dit ironies dat in die nuwe Suid-Afrika die blaam grotendeels op die skouers van die arm mynwerkers tot ruste gekom het.

Eweneens was dit ironies dat in die nuwe Suid-Afrika die blaam grotendeels op die skouers van die arm mynwerkers tot ruste gekom het.

Een van die temas wat juis in Swart en Rodny-Gumede se boek ondersoek word, is die ontoereikendheid van kommissies van ondersoek om aandadigheid te bepaal en blaam toe te deel.

Wat egter vasstaan, is dít: Watter wendings ook al in die tussentyd plaasgevind het, daar is ’n ononderbroke boog wat Marikana met Sharpeville verbind. Dis steeds die mynbase en politici wat rojaal hét en wat daardie het met brute krag sal beskerm. Grondwetlik verskanste regte en nuutgevleuelde wetgewing ten spyt, is dit die mynwerkers wat nog so baie moet ontbeer.

Die verlede is geen vreemde land nie. Ons is steeds in die verlede se midde.

Dit is ’n les wat Suid-Afrikaners met die sewende herdenking van Marikana ter harte behoort te neem.

Boonop word die vermindering en ontmensliking wat armoede en ander ontberinge ’n bevolkingsgroep aandoen nie sommer so oornag uitgewis nie.

Só het prof. Pumla Godobo-Madikizela, Maties se professor in historiese trauma en transformasie, Woensdagaand in Johannesburg gesê. Friederike Bubenzer, Marietjie Oelofsen en sy het pas These are the things that sit with us, ’n boek wat gewone mense in Langa, Bonteheuwel en Worcester se lewensverhale onder apartheid opteken, die lig laat sien.

Soos met die nasleep van die Jodeslagting tydens die Tweede Wêreldoorlog, wat juis die studie van historiese trauma van stapel laat gaan het, het ons nie die luukse om die tafereel van dit wat rééds gebeur het te vergeet nie.

Die romanskrywer L.P. Hartley was verkeerd. Die verlede is geen vreemde land nie. Ons is steeds in die verlede se midde. As ons dít vergeet, is nog baie Marikanas ons almal beskore.

Meer oor:  Jean Meiring  |  Toekoms  |  Marikana  |  Apartheid  |  Geskiedenis  |  Verlede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.