Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Danie Brink: Nomsa het immers niks om oor skuldig te voel

Die vrye mark, kapitalisme en respek vir eiendomsreg kan mos nie werk nie, sê die fiktiewe Nomsa in dié repliek van Danie Brink op Dana Snyman se rubriek, “Ben het immers niks om oor skuldig te voel”.

Danie Brink

Nomsa is vies. Vir die VF+. Vir die Boere. Vir almal wat teen onteiening sonder vergoeding is.

“Besef die mense nie wat hulle doen nie?” sê sy. “Hulle gaan die ekonomie totaal vernietig.”

Sy sit in Café 41 in Groenkloof, Pretoria saam met twee van haar direkteurspêlle. Hulle wag vir hul peri-peri-hoender. Tussen hulle op die tafel staan ’n bottel Ghost Corner Pinot Noir, ’n lekker drinkwyntjie vir die lang maaltyd op ’n Vrydagmiddag.

Eintlik is Nomsa ’n meisie van die Mpumalanga-platteland, maar sy is nie spyt dat sy Waterkloof toe getrek het nie. Hier in Gauteng kan jy baie geld maak as jy in die regte kringe beweeg en weet watter ANC-kaders om nie kwaad te maak nie.

Nomsa se ouers en familie is steeds in Mpumalanga, maar Nomsa kom deesdae maar min daar. Nomsa se pa is ’n oud-stryder in die apartheidsera en lid van Umkhonto we Sizwe op sy dag. Nomsa was daar op skool en het ’n graad in regte aan die Universiteit van die Noorde verwerf.

Op ’n dag het een van Nomsa se pa se vriende, wat ’n grootkop in ’n maatskappy is, haar gebel en genooi om die voorsitter van die direksie van dié gelyste maatskappy te word. Dié vriend het self deur die SEB-beleid heelparty aandele in die onderneming ontvang en Nomsa was baie dankbaar vir hierdie nuwe uitdaging.

“En dan is daar ouens wat hulle verset teen onteiening sonder vergoeding,” sê Nomsa en vat na haar glas Ghost Corner Pinot Noir.

“Ander praat van die vrye mark, kapitalisme en respek vir eiendomsreg. Dit kan mos nie werk nie, man.”

Nomsa voel dat sy baie waarde toevoeg as voorsitter van die direksie. Al kan sy nie eintlik finansiële state ontleed en interpreteer nie.

Met ’n jaarlikse pakket van R1,5 miljoen as voorsitter van die maatskappy, het Nomsa nie meer nodig om as prokureur te praktiseer nie. Haar Range Rover het een of twee klein krapmerke op, maar sy het nie nou die geld om daaraan aandag te gee nie. Haar broerskind wou ook anderdag hoor of sy kan help met studiegeld en ook dit moes ’n bietjie wag sodat Nomsa eers ’n paar klererekeninge kon afbetaal.

Nomsa voel dat sy baie waarde toevoeg as voorsitter van die direksie. Al kan sy nie eintlik finansiële state ontleed en interpreteer nie, is haar grootste bydrae die feit dat sy die bestuur oor die aanstelling van swart vroue in alle poste by die maatskappy op hul tone hou. Toe die hoof-aandeelhouers in die onderneming een keer aangedring het dat sy oor haar gebrekkige bydrae as voorsitter bedank, het sy in trane gevra of hulle ’n benul het van hoe sy nou haar maandelikse kostes sal kan delg.

“Nee wat, ek’t niks om oor skuldig te voel nie.” Sy vat ’n diep sluk uit die glas. “Ek’t hard gewerk vir als wat ek het.”

* Dr. Brink is hoof van Solidariteit se Skole-ondersteuningsentrum.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.