Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dankie, John Harington, vir ons spoeltoilette
Dr. Heinz Mödler

n Paar honderd jaar gelede was ’n toilet ’n luuksheid van die rykes.

Min gewone landsburgers kon op hul eie, private troon gaan sit om die daaglikse hiërogliewe in vrede te lees.

Die rykes se binnetoilette was niks besonders nie, maar het darem gesorg vir privaatheid. Toilette is uit klip, as deel van die buitenste muur, aan die kant van die kasteel gebou. Die sitplek met sy opening het die lang pad van die “longdrop” na benede begin.

Op grondvlak het die reënwater die spoelwerk gedoen.

Ongelukkig was hierdie toilette nie sonder gevaar nie, want die skag na onder was groot genoeg vir ’n mens om in op te klim. Op hierdie manier kon booswigte toegang tot die heerser van die kasteel verkry.

Baie adellikes en ander vername persone is op hul trone vermoor.

’n Dapper moordenaar wat sy koes ken, klouter eenvoudig in die skag op en wag vir moeder natuur om ’n verskyning te maak. Die toilet se sitplek is te nou om deur te kruip, maar beslis groot genoeg om ’n dolk of spies deur te steek.

Baie adellikes en ander vername persone is op hul trone vermoor. In 1016 is koning Edmund II glo op sy toilet van onder doodgesteek.

In 1016 is koning Edmund II glo op sy toilet van onder doodgesteek.

Hierdie gevaar kon eers in 1596 omseil word toe sir John Harington die eerste spoeltoilet ontwerp het. Hierdie troon, met ’n eie waterbak, het dit moontlik gemaak om van die oop skagte ontslae te raak.

Nou kon die koninklike afval saam met gespoelde water die kasteel deur ’n pyp verlaat.

Koningin Elizabeth I het die eerste spoeltoilet gekry.

Die impak wat behoorlike sanitasie op die mensdom se gesondheid gemaak het, is maklik om te onderskat.

Die Romeine het reeds lank gelede besef dat hulle ’n plan met menslike afval moet maak. ’n Deel van hul planne was die konstruksie van ’n varswaterbron, die Cloaca Maxima, wat reeds 600 jaar voor die koms van Christus begin is.

Ongelukkig het die res van die wêreld eers baie later wakker geskrik, want die meeste regerings het geen probleem daarmee gehad om riool in die naaste rivier te stort nie.

Buiten vir die stank en besoedeling van die ekosisteem is die gesondheidsgevaar van hierdie praktyk ook blatant geïgnoreer.

Siektes soos cholera het dikwels uitgebreek en tot baie sterftes gelei.

Danksy die volgehoue druk van die Engelse ingenieur sir Joseph Bazalgette (1819-1891), het die Britse regering uiteindelik toegestem tot die bou van ’n formele rioolstelsel onder Londen.

Vandag is die meer as 2 000 km lange Victoriaanse rioolstelsel onder hul hoofstad te kort om in die stad se enorme behoeftes te voorsien. Ten spyte van die feit dat behoorlike sanitasie meer bygedra het tot die mensdom se hoër lewensverwagting as selfs penisillien, het dit die Britse regering dekades geneem om nuwe tonnels en pompstasies te begin bou.

Intussen, terwyl die koningin saam met die res van die nasie op toilette sit om in The Times te lees of Brexit werklik ’n suksesverhaal is, beland hul surplusrioolafval steeds in die Teems.

  • Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Meer oor:  Heinz Mödler  |  Toilet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.