Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dankie, Ouma, vir liefde en herinneringe

All hearts come home for Christmas. Die letters is in rooi geverf op ’n reghoekige metaalplaat met ’n verweerde voorkoms. Anders as al die besonderse Kersversieringe wat sy deur die jare versamel het, is hierdie eenvoudige item die een wat direk tot haar hart spreek. Sy tel dit op. Vee dit af met ’n sagte lap. Druk dan die waarheid van die woorde vir ’n oomblik teen haar bors.

Aniki
Aniki Joseph

Sy sit meteens weer kruisbeen op ’n kleurvolle hekelkombers op haar ouma se groot stoep aan die agterkant van die huis met sy spierwit gekalkte mure. Dit is somervakansie. Druiwepriële hang vol amper ryp druiwetrosse. Die perskebome hang swaar in vrug. Boepensgranate en geelryp kwepers opgestapel in ’n emaljeskottel op die stoeptafel. Krismisrose blom baldadig blou.

Vroegoggend het die niggies gehelp met die hang van Kerskaarte aan ’n toutjie teen die sitkamermuur. Elkeen onderteken deur familielede of vriende van heinde en ver. Van naby ook. Dit was die ding. Kerskaarte. Poskaarte ook. Selfs laasteminuutpapiertelegramme.

Die posman op sy dikwielfiets het altyd ’n geskenk en ’n glas yskoue gemmerbier ontvang op die dag voor Kersfees. Ouma het gereken dat hy die boodskapper van goeie tyding was.

All hearts come home for Christmas. Dankie, Ouma. Vir herinneringe. Vir liefde.

Daarna sou hulle gekleurde kreukelpapier in lang, dun repies knip en vleg. Hulle sou skaterlag oor uitgeruilde grappies en oopmond na stories luister, terwyl die vingers knip, vou en vleg.

Ouma sou elkeen later beloon met ’n tuisgebakte gemmerman en koue limonade. Haar hande sou ruik na suurlemoen en appel. Haar hare na laventel. Die kombuis het geruik na vanielje, gemmer en kaneel. Laatmiddag sou al die Kersversierings ’n plekkie vind. Dan sou sy terugstaan. Haar bril skoonvee. Haar hande teen haar voorskoot vryf. Elke kind teen haar vasdruk en sê: “Van al die geskenke uit die Vader se hand, is julle my grootste geskenke.” Dan sou sy haar bril weer afhaal. ’n Kantsakdoekie uit die bokant van haar rok haal. Oor haar oë vee.

Ons was toe nog te klein om te verstaan dat oumas en oupas hul kleinkinders selfs dieper bemin as hulle eie kinders.

Laataand, wanneer almal reeds geslaap het, sou die kind haar kop van die spierwit verekussing lig, van die hoë koperkatel klim en ligvoets op haar tone tot in die sitkamer sluip. Dan sou sy die gordyne op ’n klein skrefie ooptrek. Haar hande uitsteek en liggies streel oor die glasbal op die kaggelrak. Sy sou dit omdop. Saggies skud. Vinnig weer neersit op die kaggel. In stil verwondering staar na duisende sneeuvlokkies wat stadig neerfladder oor die piepklein figuurtjies in die glashouer. Droom oor ver plekke en mooi stories. In die silwer lig van die maan se sagte strale, was dit die mees betowerende iets wat sy ooit aanskou het. Eers wanneer die swaar muurhorlosie bokant die kaggel die middernaguur sou begin afslaan, sou sy weer gaan inkruip. Veilig en geliefd voel. Verder droom.

All hearts come home for Christmas. Dankie, Ouma. Vir herinneringe. Vir liefde.

* Joseph is 'n skrywer en reisiger van Pretoria.

Meer oor:  Menings  |  Liefde  |  Ouma  |  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.