Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dankie tog die Karoo is nie beeswêreld nie
Johan van Wyk

Omdat die boere van die droogtegeteisterde noordwestelike Karoo, al byna sewe jaar lank in die wurggreep van ’n vernietigende droogte, ordentlike mense is, sal hulle ’n gegewe perd nie in die bek kyk nie.

Die werklike behoefte om kernkuddes met duur, skaars voer aan die gang te hou is nader aan R600 miljoen, maar hoewel skaars ’n druppel aan die emmer, sal hulle dus innig dankbaar wees vir die R30 miljoen wat die Noord-Kaapse regering ná eindelose vertoë en smekinge vir droogtehulp beskikbaar gaan stel.

Hopelik sal dié geld die boere bereik voordat dit tussen neus en ore in die sakke van gewetenlose swendelaars verdwyn.

Omdat ek in ’n droogte aangekom het en vir ’n groot deel van my lewe moes toekyk hoe maer skaap aan die verdroogde stingels van ’n bitterkaroobos kou en mekaar vertrap agter ’n bakkie waaruit mielies in swartverdorde veld uitgestrooi word, het die Noord-Kaapse aalmoesie my aan Krisjan de Wet herinner.

Ek kon net sowel die naam van ’n Eskimo-leier in Alaska genoem het.

Ek skryf sy naam spesiaal so omdat ek wonder hoeveel Afrikaners hom nog as sulks onthou. Dis mos hoe die beroemde, heldhaftige Vrystaatse Boeregeneraal Christiaan de Wet onder die ongekunstelde boere van sy tyd bekend was.

Weet die nuwe geslagte nog wie hy was en wat hy gedoen het? Toe sy naam in ’n gesprek met my liewe, fyn opgevoede maar kinderlik oningeligte Engelssprekende bure opduik, het hulle gefrons soos ek vermoed Rip van Winkel gedoen het toe hy ná sewe jaar uit ’n diepe slaap ontwaak het.

Ek kon net sowel die naam van ’n Eskimo-leier in Alaska genoem het. Ek het meewarig na hulle sit en kyk en maar die gesprek in ’n ander rigting gestuur.

Wat ek wel weet, is dat ’n maer, honger skaap deur ’n baal lusern draf soos ’n warm mes deur botter.

Wat my aan De Wet herinner het, is sy beroemde uitspraak nadat hy vir sy deelname aan die Rebellie van 1914, in ’n wanhopige poging om die Boererepublieke se onafhanklikheid terug te wen, aan hoogverraad skuldig bevind en ’n ongehoorde boete van 2 000 pond (deesdae ’n fortuin in rand) opgelê is. Nie op sy bek geval nie, het hy ná die uitspraak sarkasties – in Engels – in die hof uitgeroep: “Is that all?!” Bedoelende dat ’n man van sy stand en kaliber darem veel hoër aangeslaan moes word.

Die geld is binne minute buite die hof ingesamel. Dit het hom van tronkstraf gevrywaar, maar nie verhoed dat hy in eensame armoede gesterf het nie. Nog ’n voorbeeld van hoe Afrikaners met hul leiers omgaan – en dat stank vir dank die loon van die wêreld is.

Ek weet nie wat lusern, mielies en energie­lekke vir vee deesdae kos nie. Wat ek wel weet, is dat ’n maer, honger skaap deur ’n baal lusern draf soos ’n warm mes deur botter.

Laat staan nog ’n bees. Die ou Karooboere kon nog skaap deurgetrek het met voer, maar nie ’n bees nie. Daarvan het hulle gesê: “Net die Liewe Here kan ’n bees kos gee”.

Hoe Noag dit in die Ark reggekry het, sal net hy en die Liewe Here weet.

Meer oor:  Johan Van Wyk.  |  Karoo  |  Boere Droogte  |  Beeste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.