Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dankie tog vir die Gideons se gratis Bybel
Prof. Hennie van Coller van Bloemfontein Foto: Verskaf

In die vakansie tref die erge koue ons, almal voorbereid op Laeveldse hitte. Langonderbroeke, termiese frokkies, warmwatersakke en musse lê in Bloemfontein. Noodgedwonge huisgebonde word tydskrifte nadergetrek en televisieprogramme opgevang.

Vir kookprogramme waar die aanbieder elke groentesoort, krui of spesery liefderik as “haar” aanspreek en orgasties raak oor ’n varktjop of die aanbieder onsuksesvol probeer guitig wees, is ek gou dik. Sportprogramme in Afrikaans word weer, lyk dit my, aangebied in ’n soort taal êrens verwant aan bargoens. Omdat ek dié geheimtaal, ’n vreemde mengsel van Engels en Afrikaans, nie begryp nie, gee ek die stryd gewonne. Afrikaanse musiekprogramme is nogal vermaaklik, veral die talle sielvolle duette. Wat my wel verbaas, is die belangstelling in die Wilde Weste. Ietwat mollige meisies in sjoebroekies kweel verdagte lirieke terwyl ’n held met ’n cowboy-hoed ietwat wankelrig nader ry op ’n holrug knol.

Wat oorbly, is reis-, braai- en godsdiensprogramme.

“Hallo, P., watter ongelooflike uitsig is dié nie?” “Ja, A., ongelóóflik! En ons ry so gladweg op hierdie hobbelpad met ons 18-duim-bande geborg deur X en ons viertrek geborg deur Z.” “En moenie van ons donkerbrille, geskenk deur Y, vergeet nie, P. Miskien moet ons ’n ou vuurtjie aansteek en daarby spek en eiers, geborg deur F., gaarmaak. Ongelooflike smaak!”

Uit protes trotseer ek die poolwind buite, bou ’n vuurtjie, blaas hom tot lewe as die wind hom wil blus en sit my skewe draadrooster met ’n soutribbetjie, tjoppies en my eie wors op die kole.

Dan maar ’n braaiprogram. Waar die blonde aanbieder aanbeveel dat jy drie vlekvrye roosters (teen die winskoopbedrag van R750 stuk) op die kole moet pak: eers die biefstuk, dan die wors en héél bo braaibroodjies – met die botter aan die buitekant gesmeer. Die roosters, blaasbalk, braaitang, braaihout, resepteboek, speserye, knipmes, wors, vleis en wyn (as jy dit weer oor ’n jaar mag koop) word deur haar onderskryf óf is volgens háár spesifikasies vervaardig.

Uit protes trotseer ek die poolwind buite, bou ’n vuurtjie, blaas hom tot lewe as die wind hom wil blus en sit my skewe draadrooster met ’n soutribbetjie, tjoppies en my eie wors op die kole. Daarna braaibroodjies – met die botter binne gesmeer. Daarby ’n swaar rooie, oud genoeg om hom byna self te skink. Dan, as coup de grâce, gaan soek ek my pa se holgeslypte Joseph Rodgers en kerf die vleis in stukke.

Ek begryp borgskappe en bemarking van eie produkte is belangrik en noodsaaklik in Covid-tye. Maar daar is perke. As rugbyspelers soos Kersfeesbome vol plakkers begin lyk, TV-programme verskonings begin raak vir die bemarking van produkte, en programme (van die nuus tot sport) onderbreek word vir reklameflitse, raak dit te dik vir ’n daalder.

Einde ten laaste ’n godsdiensprogram. Waar ’n aantreklike, middeljarige man met ’n welluidende stem my aanraai om sy bemoedigende dagstukkies vir die Covid-tyd by hom te bestel. Teen slegs R300 ongetwyfeld ’n winskopie.

Dankie tog vir die Gideonsbybel.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Televisie  |  Vakansie  |  Koue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.