Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dankie vir jare se saamstap
Leopold Scholtz

Vandag verskyn dié rubriek ná 33 jaar die laaste keer.

Sake van die Dag het ’n interessante ontstaansgeskiedenis. ’n Rubriek met dié titel is van die stigting van Die Transvaler in 1937 deur my pa, G.D. Scholtz (nes ek historikus en joernalis), behartig tot 1974, toe Parkinson se siekte ’n einde daaraan gemaak het.

In 1987 het die destydse redakteur van Rapport, wyle Bob van Walsem, my gevra om ’n rubriek vir sy koerant te skryf. Uit eerbied vir my pa het ek besluit om dit ook Sake van die Dag te noem. In 1991 is die rubriek oorgeplaas na Die Burger, waar dit sedertdien verskyn het.

Die einde van die rubriek is nie my keuse nie, maar ek respekteer die reg van enige redakteur om te besluit wat hy in sy koerant wil plaas.

Dosyne onderwerpe is in die 33 jaar in die rubriek behandel. As ek wel ’n enkele tema kan identifiseer wat gereeld aan die orde was, is dit die kwessie van ekstremisme teenoor gematigdheid, van swart-wit-denke teenoor genuanseerde opvattings. Sommige mense is blykbaar nie in staat om die ingewikkeldheid van die wêreld te aanvaar nie. Hulle wil alles tot eenvoudige formules reduseer en dit doen hulle dan met behulp van ’n ideologie.

Vir die doeleindes van dié beskouing definieer ek ’n ideologie as ’n gedagtestelsel wat aan jou voorskryf hoe die werklikheid lyk, pleks van dat hy die werklikheid verklaar soos hy ís.

Die wêreld kan nie in sy volheid begryp word deur simplistiese swart-wit-denke nie, maar wel deur die oneindige skakerings van grys.

Om ’n voorbeeld te noem: Die kommunisme vereis dat die samelewing deur ’n enkele formule – die klasstryd – bepaal word. Natuurlik speel die verskil tussen klasse ’n rol, maar deur dit tot die enigste, allesomvattende faktor te verhef verskraal jy die werklikheid tot die punt van onherkenbaarheid.

Apartheid was ook só ’n voorbeeld: Die belangrikste (vir sommige mense die énigste) verklaring van die wêreld is ras, nasionalisme en etniese identiteit. Ook dít is ’n belangrike faktor, maar verreweg nie die enigste nie.

Die wêreld kan nie in sy volheid begryp word deur simplistiese swart-wit-denke nie, maar wel deur die oneindige skakerings van grys.

En dít verg ’n vermoë om genuanseerd te kan dink, om te erken dat probleme volkome legitiem uit talle verskillende rigtings benader kan word; dat ánder vertrekpunte as jou eie nie noodwendig leuenagtig is nie.

Want dít is die basiese kenmerk van ekstremisme: ’n Onvermoë om terug te staan en jou eie (en ander se) standpunte met perspektief te bekyk.

Baie mense maak steeds die fout om die politieke spektrum as ’n reguit lyn te sien, van uiters links tot uiters regs.

Inderwaarheid lyk dit eerder soos ’n hoefyster, waar linkse en regse ekstremiste na aan mekaar is, in elk geval veel nader as die afstand tussen hulle en die gematigdes.

Josef Stalin en Adolf Hitler was by wyse van spreke bloedbroers. Net soos byvoorbeeld Julius Malema en wyle Eugène Terre’Blanche.

Die geskiedenis van die kommunisme en die nasionaal-sosialisme illustreer dit. Die inhoud van die twee ideologieë het in bepaalde opsigte verskil, maar hul mentaliteit, die totalitêre wyse waarop hulle hulself in die praktyk gemanifesteer het, was feitlik identies.

Josef Stalin en Adolf Hitler was by wyse van spreke bloedbroers. Net soos byvoorbeeld Julius Malema en wyle Eugène Terre’Blanche.

Dus was hierdie rubriek deurgaans ’n pleidooi vir rasionaliteit pleks van oordrewe emosie, vir beskaafdheid pleks van ’n geskel, vir genuanseerde denke pleks van ’n simplistiese benadering.

Waar plaas dit my as rubriekskrywer? Ek het ’n hekel aan die plak van etikette. Dus, herkou maar aan dié genuanseerdheid: Ek is konserwatief-liberaal. Of, as jy dit verkies, liberaal-konserwatief. Hoe ook, ek is militant gematig. En dwárs.

Beste leser, dankie dat jy die afgelope 33 jaar op dié pad saam met my was.

*Hoewel Leopold Schotlz se gereelde koerantrubriek, “Sake van die dag”, gestaak is, lewer hy steeds die weeklikse “WêreldBurger”. Hy sal ook steeds meningstukke en bydraes oor aktuele sake aan die Afrikaanse dagblaaie en Netwerk24 lewer.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Rubriek  |  Rubriekskrywer  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.