Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Danny Titus: Ons kán rassisme doodleef

Ons het die wreedhede van die verlede deurleef; waarom moet ons dit herleef? vra Danny Titus.

Danny TitusFoto: Lerato Maduna

Rassisme is een van ons land se euwels wat ons nou eenmaal nie maklik sal los nie. Daar word selfs gesê ons Suid-Afrikaanse samelewing is só deurspek daarvan dat ons net ’n dun lagie demokrasie daaroor geplak het.

Ons kan net begin hoes, dan spring daai rassisme uit. ’n Hooggeplaaste amptenaar in ons nuwe demokrasie vertel onlangs hoe diep die stereotipes oor verskillende groeperings lê. Self is hy passievol aangevuur deur die Grondwet en die waardes daarin vervat, veral die waardes van gelykheid en menswaardigheid. Sy pa egter, is so onderdanig soos kan kom. Vir hom is witmense uit die hemel gestuur. Hy het nou al ellelange gesprekke met die oom gevoer, maar nee. Dit wil net nie regkom nie.

“Kyk nou hier,” sê die pa, “die witmense is so slim. Hulle kan selfs reën maak!”

Hulle gaan besoek ’n boer daar in die mieliewêrelde, ’n goeie vriend van die amptenaar. Hy vra toe mooi dat sy pa sy onderdanigheid moet los, al is dit net vir die middag. Die man se naam is Koos, so sê vir hom “Koos”. Reg so, sê sy pa. Soos hulle deur die mielielande ry is die besproeiingstelsels aan en die water sproei pragtig. “Kyk nou hier,” sê die pa, “die witmense is so slim. Hulle kan selfs reën maak!”

Hulle ry toe maar in stilte voort en net voor hulle by die huis kom, sê meneer Amptenaar weer: “Pa, onthou nou, dis Koos.”

“Ja,” sê die pa.

Maar, o wee, toe hulle uitklim en Koos sy hand uitsteek, is Pa se hoedjie van sy kop af en hy frommel dit voor sy bors. Onderdanig par excellence! Nou ja, sê meneer Amptenaar, ek verstaan stereotipes baie goed, maar wanneer jy dit in jou eie huis nie eens kan opklaar nie, het ons baie werk om te doen.

Soveel verdraagsaamheid

Ek dink nie ons samelewing is so deurspek van rassisme en onverdraagsaamheid nie. Ek lees ons landjie ’n bietjie anders. Hier is soveel verdraagsaamheid. En ja, dit mag ietwat oordrewe klink, maar daar is soveel bereidheid om met mekaar saam te werk, saam te leef en hande te vat, dat dit verstommend is hoe ons dit voortdurend ontken.

Waarom moet swart en wit mekaar se vyande wees terwyl ons soveel in gemeen het? Ons het die wreedhede van die verlede deurleef; waarom moet ons dit herleef? Ons het reeds soveel lesse uit ons verlede geleer en dit bly ons fontein – nie ’n bittere een nie, maar een met varsheid en sprankel.

Die ATKV se algemene jaarvergadering is verlede week op Klein Kariba van heinde en verre deur afgevaardigdes besoek. Die tema was “Wat kan die ATKV en sy takke doen om 'n beter Suid-Afrika te bou?” Dan stroom die werksaamhede van die takke na vore. Niks grootdoenerig nie, maar beskeie, gedrewe, vrywilliglik en daar waar dit saak maak.

Ons hoor van ’n motorverkoopsman, ene Bruce, wie se tak op Uitenhage Afrikaans op verskillende maniere bevorder en ’n biblioteek vir tweedetaalsprekers opgerig het. Hulle gee nou al vir drie jaar al soggens pap aan 50 kinders en dan hou hulle die afgelope ses jaar ’n Jazztown-fees.

Annie van Atlantis begin ’n projek wat 12 vroue in haar omgewing eer vir hul werk in Atlantis. Lapa-uitgewers hoor daarvan en bring ’n suksesvolle publikasie oor die vroue uit en die radio-omroeper Martelize Brink verwerk dit tot ’n weeklikse dokumentêr op RSG.

Ons ignoreer nie ons verlede nie, maar ons werk aan ’n toekoms waarby almal kan baat.

Ek glo in Atlantis en ek glo in Afrikaans, sê Annie wat nou ’n suksesvolle tuinbouprojek aan die loop het. Die jong boer uit Vereeniging se naam is Frik Roets en sy passie vir sy boerdery en sy gemeenskap gee die jaarvergadering ’n warm gevoel om die hart.

Net soos Bruce en Annie is hy deel van mense landwyd wat ’n verskil maak te midde van onmin, onsekerheid en polarisasie. ’n Verskil wat sê, ons val nie vas in stereotipes oor mekaar of onderdanigheid aan mekaar nie. Ons ignoreer nie ons verlede nie, maar ons werk aan ’n toekoms waarby almal kan baat.

Nie eendag wanneer oudag kom nie, maar vandag wanneer dit saak maak. Frik sê: “Ons moet ook wegbeweeg van ’n my en jou geskiedenis na ’n ons geskiedenis toe. Hiermee sê ek nie ons moet ons geskiedenis weggooi nie, glad nie, ek is trots op my geskiedenis. Net so is daar in elke kultuurgroep burgers wat trots is op hul geskiedenis.”

Ons kan rassisme en stereotipes doodleef en tot ’n groot mate het ons dit reeds gedoen.

*Dr. Danny Titus is direkteur van korporatiewe aangeleenthede by die ATKV. Menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Danny Titus  |  Atkv  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.