Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dans dan met harte vol hoop

’n Teoloog vertel jare gelede hoe hy ’n spanningsverhaal lees. Eers lees hy die laaste bladsy om te sien hoe die verhaal gaan eindig, daarna begin lees hy van voor af. Al bou die spanning ook hoe hoog op, lees hy rustig en selfs genotvol die verhaal, want hy weet mos immers hoe dit gaan eindig.

Die Christelike tradisie bied ’n blik op die laaste bladsy van God se verhaal met mense en skepsele. Daarvolgens sal ons verhaal nie eindig in pandemie en paniek, siekte en sterfte, seerkry, sukkel en swaarkry, sonde en smet, skande en skuld, misdaad en moord, koelbloedigheid en korrupsie, donkerte en droefheid, armoede en angs, of werkloosheid en weerloosheid nie. Só sal dit nie aangaan nie.

Openbaring 21:1-5 getuig al ons trane sal van ons oë afgedroog word, en daar sal geen lyding en leed meer wees nie. Jesaja 65:17-25 verkondig dat ons almal ’n lewe sal ervaar van geregtigheid, vrede en vreugde. En in Jeremia 32:15 getuig die profeet op sy beurt dat al lyk dinge ook hoe donker, daar sal weer belê word in huise en grond en wingerde, in ’n florerende ekonomie.

Sommige mense meen hierdie fokus op die laaste bladsy en die laaste dinge, te wete die eskatologie, kan die aandag aan die goeie lewe op aarde, dit wil sê die etiek, laat taan. Hulle beweer juis krisistye laat die eskatologie blom en die etiek taan.

Ons word uitgedaag om met hoopvolle harte die laaste bladsy se melodie te bly hoor, en om in geloof te dans op daardie melodie.

Ware eskatologie, gepaste fokus op die laaste bladsy, laat ons egter nie wegvlug van die wêreld nie. Dit laat ons nie met wêreldvermyding leef nie. Ons doelbewuste onthou van die laaste bladsy laat ons juis met toewyding deelneem aan die aardse werklikheid met al sy uitdagings, kwellinge en kommer.

Die eskatologie voed die etiek. Die visie van ’n samelewing waar almal en alles floreer, inspireer en aktiveer, motiveer en mobiliseer ons om te werk dat só ’n samelewing tasbaar word, dat dit gestalte kry vir almal en alles.

Die Brasiliaanse skrywer Rubem Alves het dit treffend gestel in sy boekie met die veelseggende titel Tomorrow’s Child: “Hope is hearing the melody of the future and faith is dancing to that melody in the here and now”.

Ons word uitgedaag om met hoopvolle harte die laaste bladsy se melodie te bly hoor, en om in geloof te dans op daardie melodie.

Die melodie wat uitstraal vanaf die laaste bladsy is nie ’n illusie of wensdenkery nie. Die hoop wat hier ter sprake is, is realistiese hoop, hoop wat weet die werklikheid is dat God se beloftes in vervulling sál gaan. Dit is responsiewe hoop, hoop wat ons proaktief en verantwoordelik laat handel. Dit is veerkragtige hoop wat ons nie laat tou opgooi nie.

Die melodie van die laaste bladsy laat ons ’n nuwe werklikheid dans – een wat met gelowige harte, hoofde en hande God se beloftes in vervulling help bring.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Hoop  |  Godsdiens  |  Dans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.