Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Danse macabre speel uit in ANC
Gert Coetzee

Rook, spieëls en uitverkopery van die ANC vir 30 sikkels silwer, snou Jacob Zuma, verskandelike oudpresident van die ANC (en die land), Cyril Ramaphosa (vanoggend hopelik steeds president van die ANC en die land) toe in ’n brief waarin hy met fyn tydsberekening die buffelbul soos met ’n rooi doek uitdaag.

Wie sal vandag (Sondag) weet wat môre se voorbladopskrif gaan wees?

Soos wat ’n swendelaar eers stadig en dan skielik bankrot raak, het die baie stroompies van die ANC-magstryd skielik in ’n siedende rivier bymekaar gekom. Die ironiese van die danse macabre is dat korrupsie die kwessie is wat dit op die spits dryf.

Soos ’n geweldenaar wat deur die swaard leef, dikwels deur die swaard omkom, betaam dit die korrupsievrot ANC dat juis die poging om korrupsie in eie geledere te takel die wig in die stryd om die siel van die party is.

Die magskonfrontasie op die ANC se nasionale uitvoerende komitee se vergadering die afgelope naweek gaan straks nie klinkklaar uitspeel nie.

Die Magazuptas vergoeilik korrupsie om vervolging vry te spring. Zuma (en kameraad Carl as skimskrywer) en Ace Magashule is voor in die koor wat Ramaphosa wil uithê. Hulle gaan nie vanself die aftog blaas nie. Oorleef Ramaphosa, staan hy hopelik sterker.

Of gaan in getroue ANC-styl van breuklyne wat toegepleister word, ongeag die lang dolke in die rug, gemaak word asof alles dooddollies is en as ’n “eenheid” aangeploeter word na 2020 se munisipale verkiesing?

Ramaphosa se brief oor korrupsie aan partygenote was ná ’n lang aanloop die finale vet in die vuur.

Waar die kiesers wag om met die party oor staatskaping af te reken.

Ramaphosa se brief oor korrupsie aan partygenote was ná ’n lang aanloop die finale vet in die vuur. Vir die heilige Zuma en kie is dit verraad dat hy die ANC as “beskuldigde nommer een” in die verhoorbank plaas.

Wat verfrissend is in ’n party waar doodsvyande handjies tesame toi-toi, is dat Zuma in sy (en Carl se) respons Ramaphosa sonder handskoene of skyn takel. Dié splitspunt is dat hy téén hulle (en die party) stelling inneem.

Die sogenaamde verskynsel genaamd korrupsie skeel hulle nie.

Die oomblik van waarheid is eintlik ’n onvoltooide proses. Vir die ANC volg ná ’n kwarteeu van kripvretery van die gulsiges ten koste van die hongeres waarin elite-kaders met slim diefstal van staatsgeld weggekom het.

Die meul draai stadig en in die Zuma-jare is dit gesaboteer. Ná beloftes en olie vir geroeste ratte knars dit weer.

Die meul draai stadig en in die Zuma-jare is dit gesaboteer. Ná beloftes en olie vir geroeste ratte knars dit weer.

Met skielike momentum verlede week. Dat Magashule gedaag is om sy stellings oor korrupsie voor die ANC se integriteitskomitee, hoe futloos ook al, te verduidelik was eens ondenkbaar.

Naas dít en Ramaphosa se ope brief is die teerling ook op ander wyses gewerp.

Voor die Zondo-kommissie draal die deuntjies oor die sondes van die kaders voort. Bedrieglike asbesdak-kontrakte is die jongste wysie. In die hof kry die openbare beskermer finaal pak oor haar vrot ondersoekwerk na die Estina-suiwelskandaal wat onder Magashule as Vrystaatse premier uitgedroom is.

In KwaZulu-Natal kry die ANC skielik murg en verwyder Zandile Gumede (met verdoemende korrupsie-klagte teen haar) uit die wetgewer.

Dat sy wel dáár aangestel is, was dalk die strooi wat die wal laat breek het. Maar – sy kry nog steeds volle salaris.

Tony Yengeni, bedrieër, en Andile Lungisa, oud-ANC-jeugleier en gevonniste misdadiger, skree saam dat Ramaphosa sy plek moet ken.

Op die keper beskou het Ramaphosa die magsvoorsprong. Niks is seker nie.

Suid-Afrika kyk toe hoe speel die magsbalans in die ANC uit. Die latere vraag is of dit die groter partypolitieke magsentrum in die land gaan herskik.

Coetzee is Volksblad-redakteur.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Korrupsie  |  Anc  |  Verkiesing  |  Magspel  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.