Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dansend kom onthou oor ’n blou rok terug
Annemarie van der Walt
Annemarie van der Walt

Wanneer laas ek langarm gedans het, kan ek nie onthou nie. Miskien by ’n niggie se troue jare der jare gelede, maar dit is ’n vae raaiskoot.

Ek kan wel presies die laaste dans onthou met die lang man wat vandeesweek op kort kennisgewing hier in die dorp opgedaag het.

Dié rankerige man het my aan Bruce Springsteen se musiek bekend gestel, onthou ek ná 35 jaar. Ook dat dit enige meisiekind met twee linkervoete baat as haar dansmaat vlugvoetig en seker kan stuur. Dus het ek by elke hoërskooldans gesorg ek is sy verkose dansmaat, al moes dit soms ’n komplot of twee verg.

Ek wou my verbeel hy lyk nog presies soos drie en ’n half dekades gelede toe ek hom vir die laaste keer gesien het, soos wat ’n mens in die spieël die eie kraaipootjies en kalkoenvelle miskyk.

Ons dans sonder om verder ’n woord te rep oor hoe hy die enigste oorlewende is van ’n ganse eenheid in die Grensoorlog.

In die lang gesels voor die braaivuur diep hy herinneringe op van daardie skoolmeisie waarvan ek meestal leer vergeet het, kom ons op hoogte met elkeen se lewenspieke en -dale, en wys foto’s van mekaar se kinders. Soos te wagte.

Maar wag, sê hy opeens, daar is iets in die motor wat gehaal moet word. Die vleis kan so ’n bietjie wag; die vuur is ieder geval te warm.

Vanselfsprekend was die eerste dans op die wysie van ’n Bruce Springsteen-songetjie.

Hy is wyer om die middellyf as desjare gelede; ek maak hom bedag op die simpel knie wat nie aldag meer te vertroue is nie, maar ons dans. Om en om op die sitkamermat wat uit Turkye gesmokkel is – van hoeveel ander plekke het my geheue so onverklaarbaar vervaag? – verby die boekrakke, skilderye, geraamde foto’s wat ’n lewe­ versinnebeeld so anders as wat eens in ’n jeug bedink is.

Ons dans sonder om verder ’n woord te rep oor hoe hy die enigste oorlewende is van ’n ganse eenheid in die Grensoorlog, ons wei niks verder uit oor egskeidings en kinders wat die wye wêreld ingevaar het nie en ons lippe is gesnoer oor die klein seges wat wel behaal is.

Springsteen sing: “I get up in the evening / and I ain’t got nothing to say / . . . / Man, I’m just tired and bored with myself / . . . / You sit around getting older / There’s a joke here somewhere and it’s on me . . .”

Dit was mos ’n blou aandrok daardie laaste keer, sê hy en ek onthou, al is die lig waaronder ons dans so helder, ons kan elkeen presies sien hoeveel ouer ons toe geword het.

Daar is lank nie meer dieselfde bravade waarmee hy jare gelede gestuur het nie, maar meer deemoed. En langsamerhand kry ek dit weer reg om in pas te val; die rug styf maak teen die lewe te vergeet.

En miskien wás dit slegs my verbeelding, maar ek kon sweer ons word meer ligvoets hoe langer ons dans, so asof ons al die selwe wat ons geword het, weer índans.

  • Van der Walt is ’n vryskutskrywer van Kaapsche Hoop.
Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Herinneringe  |  Dans  |  Oudword
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.