Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Davy Samaai: Rolmodel vir onderwysers

Ons het aan die einde gekom van ’n baie uitdagende skooljaar. Dat ons wel deur die jaar en die pandemie kon kom met ’n suksesvolle matriekeksamen getuig van toewyding deur onderwysers. Daarvoor sê ek dankie.

Die departement van basiese onderwys verdien ook ’n klop op die skouer vir sy deursettingsvermoë. Die uitlek van twee vraestelle – wiskunde (II) en wetenskap (II) – was ’n antiklimaks, maar dit maak nie die goeie werk ongedaan nie.

Maar laat dit ook gesê word: Die tekortkominge in die onderwysstelsel is deur die pandemie blootgelê. Ná dese weet almal daar wag nog harde werk voordat elke kind in ons land in veiligheid kan skoolgaan. Vakbonde, ouers, onderwysers en leerlinge se gebrekkige etos en trots op hul skool is ontmasker.

Die afgelope naweek is die struggle-ikoon en begaafde tennisspeler David Samaai – die eerste swart Suid-Afrikaner wat op Wimbledon gespeel het – se biografie bekend gestel.

Samaai was nie net ’n tennisspeler nie, maar ook ’n onderwysmens. Toe hy ons 18 maande gelede ontval het, het almal besef sy skoene sal moeilik volgestaan word.

Hy het onwrikbaar geglo in onderwys as ’n meganisme om jouself te bemagtig en was nooit tevrede met tweede beste nie.

As musiekonderwyser het hy die besondere prestasie behaal om vier skole se skoolliedere te komponeer, waaronder die Hoërskool Noorder-Paarl, waar hy die musiek- en geografie­onderwyser was en waar die bekendstelling van die boek oor sy lewe – gepas op wat sy 93ste verjaardag sou wees – gehou is.

Hy het ook die skoollied van William Lloyd Primêr geskryf, waar hy 21 jaar lank hoof was. Dié skool sou die eerste in die Paarl wees wat musiek, ballet en dans as vakke aangebied het.

Dit sou lei tot die stigting van die Paarl Musiekskool – vandag die Frank Pietersen Musiekskool – waar huishoudelike name soos Jo-Nette­ Le Kay en Lynelle Kenned, wat albei Saterdagaand opgetree het, studeer het.

Ook in sport sou die skool uitblink. Onder Samaai se leiding het die skool 16 sportkodes aangebied. Sy onderwysers het dikwels die leiding geneem in sport, musiek en kultuur. Dit sou lei tot die skool se aanwysing as topsportskool in Suid-Afrika.

Tog is die skool se akademie nooit afgeskeep nie. Die skool sou rekenmeesters, prokureurs, dokters en selfs ’n Mej. Suid-Afrika (Tamaryn Green) oplewer. Dit was moontlik omdat Samaai voortdurend die skool se etos van harde werk en deursettingsvermoë vir leerlinge én die personeel op die hart gedruk het.

Hy het onwrikbaar geglo in onderwys as ’n meganisme om jouself te bemagtig en was nooit tevrede met tweede beste nie. Samaai was ’n tenniskampioen, ’n kampioen van die akademie en musiek en ’n kampioen-vryheidsvegter. In die 1950’s is daar na hom verwys as “The People’s Champion”.

Davy Samaai was ’n rolmodel vir menige onderwyser en skoolhoof. Ons kan almal ’n bladsy uit sy boek haal.

Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Skooljaar  |  Onderwys  |  Onderrig  |  Onderwysers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.