Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dawie: Beloftes maak toe skuld, JZ

Dawie gaan die naweek ’n spesiale bottel rooiwyn oopmaak ter viering van die bloutjies wat Jacob Zuma en sy populistiese veghoendertjie, Ace Magashule, in een week in ons howe geloop het.

dawie, rubriek
dawie, rubriek

Zuma het misluk in sy aansoek om sy tronkstraf tersyde te laat stel en Maga­shule, uitgeskopte sekretaris-generaal van die ANC, het misluk in sy aansoek om sy skorsing onregmatig te laat verklaar. Dawie kry veral lekker omdat die onafhanklikheid van die regbank gedurig moes deurloop onder aanvalle deur veral Zuma-ondersteuners, Maga­shule en ander predikers van “radikale ekonomiese transformasie” (RET).

Nou is daar nie meer eintlik iemand oor om RET te red nie. En ook goed so, want Zuma het in die aanloop tot sy vonnis probeer om die regstelsel verdag te maak en te ondermyn terwyl hy homself as slagoffer voorgedoen het.

Sy tronkstraf is ’n duidelike bevestiging van die land se grondwetlike demokrasie. Oudpres. Nelson Mandela se woorde in 1995 by die inwyding van die konstitusionele hof het nou wéér gestalte gekry. Mandela het destyds gesê: “Die land se demokrasie sal in die toekoms van dié hof afhang.”

Presies. Omdat Zuma die gees van die Grondwet en die gesag van die hoogste hof in ons land vertrap het, het waarnemende hoofregter Sisi Khampepe die voormalige staatshoof tronk toe gestuur. Sy het in haar uitspraak gesê die kern van die saak is die skade wat Zuma die samelewing aangerig het.

“My plig,” skryf sy in haar uitspraak teen die voormalige Nommer Een, “is my plig terwyl ek hierdie bevel skryf, en dis gehul in die verantwoordelikheid en my lojaliteit wat ek verskuldig is aan ons Grondwet en die oppergesag van die reg, wat dit onderskraag.

“As sodanig het ek geen ander keuse as om mnr. Zuma tronk toe te stuur nie. Dis in die hoop dat dit ’n ondubbelsinnige boodskap uitstuur – hiermee staan ons grondwetlike bestel, die oppergesag van die reg en die toepas van geregtigheid soos ’n paal bo water.’’

Khampepe se pligsbesef staan in starre teenstelling met Zuma se gebrek daaraan. Want onthou, hy het met sy regterhand plegtig in die lug die volgende ampseed afgelê: “In die teenwoordigheid van almal hier vergader en in die volle besef van die hoë roeping wat ek as president van die Republiek van Suid-Afrika aanvaar, sweer ek, Jacob Gedleyihlekisa Zuma, plegtig trou aan die Republiek van Suid-Afrika, en dat ek die Grondwet en die ander reg van die Republiek sal gehoorsaam, eerbiedig, onderhou en handhaaf . . . So help my God.”

Niks hiervan het hy nagekom nie. Trouens, die ganse nege verlore jare onder Zuma spreek van ’n belofte aan die mense van Suid-Afrika wat deurlopend verbreek is. Hy en sy populistiese trawante het nog altyd ’n diepgewortelde minagting vir die Grondwet, die ganse regbank en die regsproses in die algemeen gehad.

Dit is hierdie einste minagting wat aan die werk is wanneer Zuma steeds die strafsaak op klagte van korrupsie teen hom afmaak as ’n politieke komplot. Terwyl daar tot dusver géén bewyse daarvoor is nie, kan Zuma sy minagting vir die Grondwet en die regbank net nie verbloem nie.

Hierteenoor is Khampepe se uitspraak en die uitvoer daarvan ’n vergestalting en kragtige nakoming van die eed wat regters in Suid-Afrika se hoogste hof aflê.

Daarin onderneem hulle om “die Grondwet en die menseregte wat daarin verskans is, te handhaaf en te beskerm, en alle mense regverdig te behandel sonder vrees, guns of vooroordeel”.

Dat dié beginsels en die regstelsel wat dit onderlê in dié saak na behore funksioneer, verdien om gevier te word.

Meer oor:  Dawie  |  Meningsberig  |  Uit My Politieke Pen.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.