Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dawie: Munisipaliteite: Ruk hulle só reg

Pres. Cyril Ramaphosa se kommer oor munisipale bestuur wat jaarliks verswak pleks van verbeter, is dubbel en dwars geregverdig.

dawie, rubriek
dawie, rubriek

Die president het by die Vereniging vir Plaaslike Regering (Salga) se kongres gesê dié vlak van regering staan voor ernstige uitdagings: In die 2018-’19-boekjaar het net 20 van die land se 257 munisipaliteite skoon ouditverslae ontvang. Dit is minder as 8%.

Verlede jaar het Ratings Afrika se verslag ook die beroerde toestand van plaaslike regering – veral onder die ANC – behoorlik deurtrap. Die gevolgtrekking was dat ’n algehele ineenstorting van munisipale dienste moontlik is – “met katastrofiese gevolge vir inwoners en ondernemers, wat op sy beurt politieke onrus kan aanwakker”.

Luidens die verslag is die meeste munisipaliteite in ’n finansiële krisis, met min of geen maatreëls om doeltreffende beheer oor begrotings uit te oefen nie. Altesame 77% van die munisipaliteite in die peiling is in ’n begrotingstekort vasgevang en die algehele verliese beloop R13,3 miljard.

Dié situasie is inderdaad beroerd.

Waar die swakste presteerders luidens Ratings Afrika geleë is, is geen verrassing nie.

Wat Ramaphosa egter verswyg, is dat dit in hoofsaak ’n probleem is wat voor die ANC se deur gelê moet word. Terwyl hy gesinspeel het daarop dat baie van die probleme uit apartheid kom, het hy nie ’n woord gerep nie oor die feit dat munisipaliteite onder DA-beheer aantoonbaar beter vaar as dié onder ANC-beheer.

Waar die swakste presteerders luidens Ratings Afrika geleë is, is geen verrassing nie. Dis in die Vrystaat en Noordwes, die politieke hinterland van die Zuptas, onderskeidelik eens onder die vaandels van Ace Magashule en Supra Mahumapelo.

Ons weet nou al die kern van die probleem is swak finansiële bestuur, wat tot die aanstelling van onbevoegde amptenare teruggevoer kan word. In kort, kaderontplooiing.

Wat dinge vererger, is gebrekkige vaardighede, gebrekkige verantwoordbaarheid en die feit dat plaaslike regering veral in die ANC as die intreevlak vir selfverryking beskou word.

Te veel munisipaliteite is die slagveld waarop ANC-faksies mekaar die stryd aansê en waar ampte gevul en ontruim word na gelang van die faksie wat beheer voer.

Die gevolg is tweërlei: Die omset van amptenare dwarsboom eerstens die bou van ’n kundige personeelkorps. Tweedens word ampte beskou as skaakstukke in ’n magspel, eerder as voertuie vir dienslewering.

Wat verder aansienlik kommer oor plaaslike regerings wek, is dat die ANC elke dan en wan speel met die gedagte om die provinsiale regerings af te skaf, kastig om “munisipaliteite se vermoë te versterk”.

Dawie verneem ook op goeie gesag dat ’n plan om die getal provinsies van nege tot ses te verminder vorm aanneem in sekere gedeeltes van die ANC.

As dit gedoen word met die politieke motief om die DA te verswak (ja, naas die Wes-Kaap is Gauteng en die Noord-Kaap in die visier), is die dood in die pot nie net vir die demokrasie nie, maar ook vir dienslewering.

In die ANC is dit algemene bedryfskennis dat sy gehawende takstruktuur juis toe te skryf is daaraan dat dit die kryt is waarin om munisipale poste meegeding word. Is die ANC dan doodseker hy wil nóg meer mag en beter betaalde poste by dié reeds giftige brousel voeg as hy provinsies verminder?

Die oplossings is veel eerder dít wat Ramaphosa aan die hand gedoen het toe hy in Januarie “geskok” was oor die stand van sake in Kimberley. Hy het tóé gesê dat kaderontplooiing moet plek maak vir die aanstelling van die regte mense met die regte kwalifikasies in poste. Maar wanneer voeg die ANC nou daad by die woord?

Meer oor:  Dawie  |  Uit My Politieke Pen.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.