Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dawie: Nóg ’n generasie is verlore ná ’76

Met die viering van Jeugdag vandeesweek, 45 jaar ná 16 Junie 1976, kom ’n sterk tweevoudige betekenis aan dié dag weer na vore.

dawie, rubriek
dawie, rubriek

Enersyds moet ’n mens terugstap in die voetspore wat gelei het tot die geboorte van ons demokrasie op 27 April 1994. Want 16 Junie 1976 – bepaald een van die belangrikste dae in die geskiedenis van die moderne Suid-Afrika – was inderdaad ’n stroomversnelling in die uiteindelike val van apartheid.

Op dié dag het sowat 20 000 skoolkinders in die strate van Soweto teen die gebruik van Afrikaans as voertaal in swart skole betoog. Die tol was hoog, nie net wat die lewensverlies onder swart jeugdiges betref nie.

Die gewelddadigheid het almal onkant betrap en veral die destydse regering, wat nie ’n benul gehad het oor hoe om ’n einde daaraan te bring of wat om te doen omtrent die eintlike probleem nie – ’n wekroep om apartheid te beëindig. Afrikaans was die vonk in ’n kruitvat wat al sedert die 1960’s – Sharpe­ville – gesluimer het.

Die lewensverlies en pyn wat veroorsaak is, moet bepaald gedenk word.

Andersyds moet erken word dat die nuwe Suid-Afrika nog nie naastenby voldoen aan die opvoedkundige en ekonomiese strewes van jong Suid-Afrikaners nie. Inteendeel, die jeug in Suid-Afrika is in ’n krisis met hoë werkloosheid en ’n algemeen uitsiglose maat­skaplik-ekonomiese omgewing. Twee weke gelede het Statistieke Suid-Afrika jeugwerkloosheid op 63,3% geraam.

Kortweg – 45 jaar ná 16 Junie 1976 sit ons met nog ’n verlore generasie, al het pres. Cyril Ramaphosa dit twee jaar gelede in ’n staatsrede ontken. Want terwyl Ramaphosa en sy hervormers in ’n interne magstryd gewikkel is met die populiste van Ace Magashule, raak veral die arm jeug net verder agter.

Diensleweringsbetogings wat toenemend vlamvat in die droë gras van armoede, voortgesette ontneming en politici wat net eiebelang najaag, wys dat ’n nuwe kruitvat aan die smeul is.

Indien die regering nie die situasie met sterk, geloofwaardige leiding doelgerig probeer besweer nie, is ’n uitbarsting soortgelyk aan die een in 1976 nie onmoontlik nie.

Die punt is dat bevryding nie alleen lê in die afwesigheid van ’n verdrukkende staat nie. Ware bevryding lê in bates, soos goeie onderwys, betroubare dienslewering, volhoubare werkskepping en ’n regering wat sigbaar vir ál sy mense omgee.

Ramaphosa het vandeesweek op Jeugdag allerlei beloftes gemaak oor hoe die regering voorkeur aan die jeug gaan gee. Maar hoe moet die jeug dit glo as die onderwysstelsel steeds nie – ná ’n kwarteeu van ANC-bewind – grondliggend reggeruk is nie?

Jaar ná jaar kry onderwys die grootste hap uit die begrotingskoek, maar die werklikheid is daar word eenvoudig nie waarde vir geld op dié enorme belegging gekry nie. Die redes daarvoor is natuurlik wyd­lopend, maar ’n uiters groot probleem bly die wyse waarop die onderwysvakbond Sadou steeds die onderrigstelsel as gyselaar aanhou.

Dié vakbond dwarsboom deurlopend pogings om hoofde vir die prestasie van hul skole verantwoordelik te hou. Hy bedryf verwoestende stakings en skop vas teen maatreëls om groter dissipline in die onderwys en gehaltebeheer deur inspekteurs te vestig.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het al by herhaling te kenne gegee dat Sadou se mag beperk moet word, maar daar kom dadels van, hoofsaaklik omdat sy nie die nodige politieke steun uit Luthuli-huis kry nie.

Magashule is dalk wel nou vir eers uit die pad, maar sy meelopers, ook in Sadou, gaan voort met hul sabotasiewerk. Hoe lank dan nog voordat ware bevryding, ware hoop en die beloofde nuwe daeraad vir ons jeug kom?

Meer oor:  Dawie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.