Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dawie Roodt: Wenners en verloorders in taai jaar
Dawie Roodt

2019 was meestal ? droewige jaar vir SA. Natuurlik was daar hoogtepunte – die Wêreldbekerrugbytoernooi byvoorbeeld – maar 2019 sal grootliks as nog ’n verlore jaar onthou word. Hier is my lysie van ? paar wenners en verloorders.

Myns insiens was georganiseerde arbeid, veral Numsa, een van die grootste verloorders van die jaar. Hulle het die situasie by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) heeltemal verkeerd opgesom en hul staking was die laaste strooi wat die lugdiens se rug gebreek het. Noudat die SAL in sakeredding is, sal baie werksgeleenthede ook daarmee heen wees. Natuurlik was dit nie net Numsa se skuld nie, maar die boodskap is duidelik: hou aan met onrealistiese eise en vernietigende stakings en selfs ? staatsbeheerde onderneming (SBO) sal uiteindelik sy alie sien.

Die SAL het vir nog ’n verloorder gesorg – Pravin Gordhan. Vir jare het hy as minister van finansies die SBO’s met miljarde rande se belastinggeld volgestop. En nou, as die minister van hierdie instellings, het sy politieke inmengery verhoed dat die nodige regstellings hier betyds gedoen kon word. Ek hoop werklik Gordhan en sy kommunistiese belaglikhede kry gou die trekpas.

Daar was darem een wenner uit die SAL-gemors –die vakbond Solidariteit. Dit was hulle wat eerste vir sakeredding aansoek gedoen het en daardeur die regering en die direksie van die SAL gedwing het om self daartoe in te stem.

Nou probeer Gordhan en kie voorgee asof dit hul inisiatief is. Twak man, Solidariteit het jul werk namens julle gedoen.

Die SAL-ding is natuurlik net nog ? refleksie op ? “geskokte en teleurgestelde” president. Hierby kan ’n mens ook voeg dat hy ’n swak en besluitelose president is, wat geen vordering gemaak het met die SBO’s toe dit sy verantwoordelikheid was gedurende sy tyd as Zuma se nommer twee nie. Nou pluk ons die vrugte daarvan.

Maar ek moet toegee, dit lyk darem asof hy baie stadig besig is om sy mag in die ANC te konsolideer. Ek wonder net wat hy met die mag gaan maak?.?.?. Nog ’n kommissie aanstel?

En as die prez ’n bietjie binne die ANC gewen het, het die eks-Zuma-spul grootliks verloor. Twee groot verloorders was die ekonomiese analfabeet Ace “Quality Easing” Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, en adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer. Die vermoede het bestaan dat Ace niks van die ekonomie verstaan nie, maar dit is nou bevestig ná sy sotlike opmerkings en aanbevelings oor monetêre beleid en die Reserwebank. Mkhwebane het ook maar ’n moeilike tydjie agter die rug, deurdat sy persoonlik moet betaal vir van haar idiotiese besluite. Daar bestaan egter nog onsekerheid oor haar: volg sy ’n agenda, of kan sy eenvoudig net nie haar werk doen nie?

Gepraat van die Reserwebank: Ek dink die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, was een van die jaar se grootste wenners. Nie net het hy die onafhanklikheid van die Reserwebank verdedig nie, hy het ook onder baie druk monetêre beleid stram gehou. In die proses het inflasie tot die laagste vlak in jare gedaal.

Nog ? wenner was Tito Mboweni, minister van finansies. Dit lyk soms of hy die enigste mens in die ganse ANC is wat wel die ekonomie verstaan. Ek het ook ’n vermoede dat die vere tussen hom en Gordhan gewaai het toe die kommie weer aangedring het op nog geld vir die SAL. Hoewel Mboweni uiteindelik in ’n verdere reddingsboei van R4 miljard ingeboelie is, is ek oortuig daarvan dat dit soos tande trek was.

Maar sonder twyfel was die land en sy mense weer die groot verloorders. Die ekonomie se groeikoers gaan so rondom nul persent wees en armoede en werkloosheid sal verder toeneem. Dit alles is natuurlik grootliks te danke aan ’n destruktiewe ANC en sy alliansievennote. Hulle het Eskom en die ander SBO’s geruïneer. Hulle het die staat se finansies in die afgrond in bestuur en is die rede vir ons patetiese onderwys, gesondheid en vele meer.

Maar soos my ma sê, ons het darem nog mekaar. Kom ons hoop vir ’n beter 2020, maar moenie jul asems ophou nie?.?.?.
Libertynse groete.

¦ Dawie Roodt is die hoofekonoom van die Efficient-groep.  dawieroodt@efgroup.co.za

Meer oor:  Dawie Roodt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.