Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Debat oor dié leeus kom al van 1997 aan
Elise Tempelhoff
Elise Tempelhoff

Gesprekke oor leeus wat in aanhouding geteel word, het weer opgevlam nadat Barbara Creecy, minister van minister van bosbou, visserye en omgewingsake, haar gewig ingegooi het by ’n verslag waarin aanbeveel word dat die bedryf gesluit moet word.

Die kwessies oor hierdie onetiese en wrede bedryf is die afgelope 24 jaar reeds snuif getrap. Diegene wat aan ’n hernieude gesprek wil deelneem, is welkom, maar gaan krap gerus eers in die argiewe. Begin by die Cook-verslag, wat in 1997 opgestel is ná ’n ondersoek na geblikteleeujag in Suid-Afrika. Dit was kort nadat dié bedryf se eerste leeus in die natuur gevang, in ’n hok gesit, die telery begin en die eerstes gejag is.

Garth Patterson, wat ’n lid was van die span wat die verslag opgestel het, het gesê: “Apartheid is dood, nou moet Suid-Afrika sy onmenslike verhouding met sy wilde diere radikaal verander.” In daardie stadium was daar 300 leeus op ’n paar plase in gevangenskap.

Kort ná die einde van apartheid is internasionaal kritiek uitgespreek op Suid-Afrika se filosofie van “if it pays, it stays”.

Hiermee het opportuniste onmiddellik ’n kommersiële waarde op wilde diere geplaas en biodiversiteit ontwrig.

Baie wildboere, veral leeuboere, het diere op kommersiële skaal begin teel. Dit het ’n hele ketting van kommersiële bedrywe tot gevolg gehad. Welpies van selfs net vyf dae oud is van hul ma weggeneem. Omdat die wyfie dan nog gesoog het, het sy dadelik weer bronstig geraak en is sy gedek. Sy het dus ’n broeimasjien geword.

’n Nuwe inkomstestroom is gevorm omdat die welpies dan met ’n bottel gevoed is en “niksvermoedende” vrywilligers (teen betaling) kom help het om die welpies groot te maak “omdat hul ma hulle verwerp het”.

Nog ’n inkomstestroom is geskep deur besoekers aan leeuplase teen betaling toe te laat om met jong leeus aan ’n leiband rond te loop.

Nog ’n inkomstestroom is geskep deur besoekers aan leeuplase teen betaling toe te laat om met jong leeus aan ’n leiband rond te loop.

En dan word die volwasse leeu as ’n jagtrofee geadverteer. Die dier word bedwelm, uit sy hok gehaal en na ’n jagplaas geneem waar hy binne dae gejag word. Hou in gedagte dat dit ’n halfmak dier is wat deur mense gevoer is. Hy hardloop dus nie vir jagters weg nie. Is dit etiese jag?

Toe professionele jagters hul rug op die leeuboere gedraai het, moes die boere ’n “afsetgebied” vir hul diere kry. Leeuslagpale het – veral in die Vrystaat – ontstaan en boere het die regering daarvan oortuig dat Oosterlinge die leeuskelette kan opkook vir tradisionele medisynes.

Vandag is daar steeds ’n skandvlek op die Suid-Afrikaanse Biodiversiteitsinstituut (Sanbi), wat betrokke was by die vasstelling van ’n kwota vir leeubeendere vir uitvoer na die Ooste. Geen kwota is in die afgelope twee jaar vasgestel nie en geen redes is hiervoor gegee nie.

Ondanks die feit dat leeuboere daarop hamer dat hulle biodiversiteit bewaar, is dit al telkens bewys dat die gene van hul leeus verdag is en dat dié diere nóóit in ’n ekologies funksionerende natuurreservaat vrygelaat sal kan word nie.

Hoe nou met die 12 000 leeus waarmee ons vandag opgesaal sit?

  • Tempelhoff is ’n vryskut-omgewingsjoernalis.
Meer oor:  Barbara Creecy  |  Leeus In Aanhouding  |  Leeus  |  Debat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.