Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Debatte op kampus: ‘Ons hoor net onsself’

Gesprekke op universiteitskampusse kan en moet robuus wees en dit is belangrik om ruimtes te skep waar almal gehoor kan word, skryf Leslie van Rooi.

Leslie van Rooi

Oor die eeue het die vorm, aard en temas vir hierdie gesprekke verskil en maniere van gesprekvoering en selfs temas word gereeld herhaal.

Ek herinner my aan my teleurstelling tydens ’n SR verkiesingsdebat in 2014 – voor die FeesMustFall-beweging – waar dit duidelik geblyk het dat die voorbeeld van destydse optrede in byvoorbeeld die nasionale vergadering klakkeloos neerslag gevind het in ’n vlak debat rondom die verkiesing van die studenteraad.

Die aard van die debat en daaropvolgende gesprekke het verder neerslag gevind in wedersydse stellings, statistiek en beskuldigings via sosiale media.

My gevoel toe was dat ons sekerlik van universiteitstudente kan verwag om op ’n ander manier met mekaar om te gaan.

Die gebeure ’n week of wat gelede op die trappe van die George du Toit-gebou van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het my weer hieraan herinner.

Universiteite is nie geïsoleer nie. Dit word konstant beïnvloed deur stemme en strominge regoor die wêreld. Heel gereeld gebeur dit ook dat die winde van verandering, veral wat diskoerse, woorde, terme en denkraamwerke betref, eers oor universiteitskampusse spoel voordat dit verder beweeg.

Telkens neem die konsepte spesifieke vorme aan soos wat dit verder neerslag vind binne universiteitslewe.

Maar universiteite het nie die luukse om te bepaal watter wind wanneer moet waai nie. Ten beste kan ons riglyne probeer daarstel om reseptories op te vang wat aan die gang is sodat ons, en ander, dit beter kan verstaan.

En dan gebeur dit soms dat ons, in werklikheid, raamwerke probeer definieer. Dit help ons om in ’n bepaalde tyd sin te maak van dinge rondom ons en wat op kampusse neerslag vind.

Twee denkstrome op kampusse

Daar is tans veral twee heersende denkstrome op universiteite regoor die wêreld; ook op universiteitskampusse in Suid-Afrika.

Aan die een kant is daar ’n verstaan van “liberalisme” wat sy grondslag het in ’n diskoers wat heel gereeld as “politieke korrektheid” gebrandmerk word. Die raamwerke is gebou op ’n post-konflik wêreldbeeld wat veral diegene teen wie daar voorheen gediskrimineer is, as gelyk probeer bevestig en sodoende probeer regstel en gelykmaak.

So kom dit met ’n stel terme, definisies en nuwe woorde vir sake wat dalk nie voorheen gedefinieer was nie of wat ander dalk met ongemak sou laat.

Identiteitsmerkers word hier as belangrik en waardevol beskou om iets van die verlede te verstaan en die nuwe weg te baan.

Deur te sê wat jy wil, maak jy dus seer juis omdat jy nie ou wonde erken nie.

Die aanklag teen hierdie stroom is dat dit insluit deur uitsluiting en selfs dat dit net een denkraamwerk toelaat. Die gevolg is soms dat nie almal hul sê kan sê nie en, so word daar gesê, word slagofferskap geskep.

Aan die anderkant is daar ’n diskoers wat ook heel gereeld in die internasionale politieke diskoers neerslag vind. In hierdie denkstroom is daar nie plek vir “politieke korrektheid” nie.

Dit beskou diskoers as die ware liberalisme wat verskillende stemme toelaat en diegene wat nou gemarginaliseer word, ’n stem gee. Die terme en definisies in hierdie stroom is gebou op die definisies van die ander stroom, maar stel soms juis die teenpool. Dit probeer gelykmaak en vertrek vanaf die punt dat almal gelyk is. Daar is minder plek vir ’n verstaan van slagofferskap. Dit, so word gesê, bevestig die liberale waardes van ’n oop samelewing.

Die aanklag teen hierdie stroom is dat dit ook insluit deur uitsluiting en dat dit die “ware verontregtes” misken en nie die geskiedenis se harde waarhede voluit toelig nie. Deur te sê wat jy wil, maak jy dus seer juis omdat jy nie ou wonde erken nie.

Ons moet na ‘die ander’ luister

Elk van hierdie raamwerke het sy “meesters”, definisies en grense. Albei raamwerke glo dit stel die ware liberale kant – soos ook gegrond op ’n kultuur van menseregte en insluiting.

In die konteks van Suid-Afrika gaan dit ook oor ’n verskil in die interpretasie van wat in die Grondwet na verwys word as die onreg van die verlede. En dan tot watter mate hierdie onreg in die hede neerslag vind, al dan nie.

Tot ’n mate is die beste voorbeeld van hierdie raamwerke te vind in die onlangse twiets tussen Helen Zille en Thuli Madonsela.

Die kompleksiteit waarin hierdie denkstrome neerslag vind op universiteitskampusse is kontekste van diversiteit wat ongekend is in vergeleke met selfs die onlangse verlede. Universiteite is gewoon nie meer eendimensionele mono-kulturele organisasies nie, maar plekke wat wil insluit en meer mense, veral diegene wat nie voorheen die kans gehad het nie, laat tuis voel.

Ons soek ook stemme op wat soos ons klink, eerder as om 'die ander' te vind. Die gevolg is dat ons alleen reg is.

Maar soos dit is met strome, is jy natuurlik nie altyd bewus dat meer as een diskoers gelyk aan die gang is nie. Of dat jy jouself net verdiep in die verstaan van dié een waaroor jy sterk voel. Of dat jy selfs moeite doen om die ander, op watter manier ook al, af te wys.

Die gevolg is dat ons dan net onsself hoor. Ons soek ook stemme op wat soos ons klink, eerder as om “die ander” te vind. Die gevolg is dat ons alleen reg is. En dan moet “die ander” stilgemaak word.

Geen diskoers staan neutraal of los van mense se belewenis nie. Inteendeel, dit is gebou op ervaringe en daarom is die een gereeld in teenstelling met die ander.

Die strome vloei sterker op ons kampusse. Die vraag is of ons mekaar kan vind en ruimtes kan skep waar almal gehoor kan word.

Dit is belangrik dat ons daarvan bewus moet wees en dat universiteitsowerhede en studenteleiers ruimtes moet bly skep waar ons mekaar kan hoor, vind en verstaan.

* Dr. Van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Leslie Van Rooi  |  Kampusse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.